HANLIE VORNBERG skryf: TOE ek ʼn kind was, was treinry vir my een van die lekkerste dinge wat daar was. Dit was ʼn kosbare ondervinding. Hoe anders was die treine van daardie tyd nie!
Ons het jaarliks tydens die wintervakansie in Junie, met die trein vir my oupa in George gaan kuier.
Dit was ʼn belewenis. Die lawaai van die stoomtrein, die roet in jou oog, die stank van die steenkool en die voortskommel en kantel van die waens. Dan was daar die reuk van die groen leerbekleedsel, die glinsterende houtwerk en die kondukteur-sleutel wat ratel in die slot.
Hoewel my ma heerlike padkos in die piekniekmanjie gepak het, gebraaide hoender en kouefrikadelle, aartappelslaai en slaphakskeentjies, wou ek en my broer graag in die eetsalon gaan eet. Dit was vir ons baie spoggerig om by die klein tafeltjies te sit, waar die kelners in hulle stywe wit baadjies en wit handskoene rondgeskarrel het om ons te bedien, terwyl jy die landskap sien verbyglip en die son watertrek agter die berg.
Die messegoed was swaar en silwer, waarskynlik nie egte silwer nie, en jy sit penregop met ʼn wit gestyfde servet op jou skoot, en eet jou sop, visgereg, hoofgereg en natuurlik die poeding en voel soos ʼn egte “colonial” in ʼn tyd toe dit nog polities korrek was. Niks was so lekker soos ʼn spoorwegpoeding op die trein, terwyl die son sak nie.
Die trein het altyd so teen vroegaand in Worcester aangekom. Dit het lank daar bly staan omdat hulle die elektriese enjin, soos ons dit genoem het, later was dit diesel, vir die stoomlokomotief omgeruil het.As kind het Worcester my fassineer omdat dit die enigste dorp was wat ek geken het, wat geel straatligte gehad het. Wanneer jy onder so ʼn lamp beland het, was jy bleek soos ʼn zombie.
Ek het altyd op die middelbank geslaap. My broer het graag opgeklouter tot heel bo en my ouers was onder.
Ek sien nou nog hoe my pa sukkel om oor die piepklein wasbakkie te skeer en hoor nog die
water wat gorrel as dit uitloop.
Ek kon nie alte lekker op die trein slaap nie. Saam met die ritme van die wiele het ek dan soms
tog in die slaap gedommel totdat ʼn fluit of ʼn ruk my weer laat wakker skrik het.
Die hoogtepunt was die volgende oggend in Mosselbaai waar die treinspoor dig langs die see geloop het. Dit was een van die mooiste stukkies treinlandskap wat ek ooit gesien het. Ons het probeer om al die plekname tydens die rit te memoriseer. My gunsteling was Fairy Knowe, by die Wildernis ʼn naam wat op jou tong glip en gly soos die jellie van die vorige aand. Ek het sommer die feetjies daar in die bos sien dans.
En nou gaan ek nog probeer om ʼn Perskor-kloutjie by die oor te bring.
Kort nadat ek destyds, na die opleiding in Hermie Hendriks se skool, by Rooi Rose begin werk het, het ek op ʼn dag sommerso ʼn essay op Bennie Fritz se lessenaar gaan neersit.
Bennie Fritz |
Dit het gedonder en geblits oor my tikmasjien soos ek gaan sit en werk het om aan Bennie se eise te voldoen.
Kortom, ek het my eie rubriek gekry en ons het dit “Doodluiters” genoem.
Net nadat die eerste uitgawe verskyn het, het ek in die Kaap gekuier en was op pad terug Johannesburg toe met die trein.
Ek moes ʼn koepee met ʼn ouer vrou deel. Die oggend nadat ons geslaap het, sit sy oorkant my en vra: “Juffrou, watse werk doen jy in Johannesburg?”
“Ek werk vir die vrouetydskrif Rooi Rose,” het ek doodluiters geantwoord.
Sy buk skielik af en trek ʼn tydskrif uit haar tas. Sy begin blaai, terwyl sy vertel dat sy die vorige aand ʼn rubriek in Rooi Rose gelees het wat haar so baie aan haar eie dogter herinner het. Sy het so baie daarvan gehou. “Kyk hier,” sê sy en hou dit na my kant toe. Dan kyk sy na die foto bokant die rubriek, sy kyk na my en kyk weer.“Ja, tannie,” sê ek dan, “dis ek, ek het die rubriek geskryf.” Sy het ʼn paar keer van vreugde gekraai en my nog ʼn keer vertel hoe sy dit geniet het. Sy was in haar noppies dat sy die koepee met my kon deel.
Toe ek in Johannesburg afklim, was my kop amper te groot vir my skouers. Ek het sulke twee rye spore geloop van pure trots. Dis darem maar lekker om trein te ry.