Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

11.4.24

Koos Doep se kronkelpad* koerante toe

PEET VAN STADEN SKRYF:  DIE joernalistiek skep maar met ’n growwe sif uit die ervarings wat hy aanbied: altyd laat hy gedenkwaardige geleenthede deur weens werk, oordeel, selfs luiheid. By my hope kostelikes is ek armer omdat ek nooit in die Concorde gevlieg of Frank Sinatra by Sun City gesien of die toetsuur beleef het met Graeme Pollock en Barry Richards se vennootskap teen Australië nie.

Of een van Koos du Plessis se sangaande nie. Die ergste is ek het nooit rerig daarvan geweet nie totdat Leendert Pieterse jare later vertel en ek nou die dag terloops toe ek Wim van der Berg se K’rantvertelling daaroor raakgelees het.

En tog ken ons mekaar -- meer bepaald ken ek hóm -- lank voordat enige van ons twee joernaliste geword het. Wat my laat dink dat ek miskien my bietjie moet vertel van hoe hy in die koerantwese beland het.

Januarie 1966 was ons medestudente aan die oorle’ Pretoriase Onderwyskollege op die uiterstes van die studentehiërargie: hy in sy vierde jaar en die verkose voorsitter van die studenteraad, ek ’n eerstejaar. Daarom vertel ek nou uit my geheue en hoorsê al het ons jare later met ’n glas in die hand onder die Suidwes-koedoetrofee in Marius Jooste se kroeg ligweg daaroor gespraat.

Agtergrondshalwe het die kollege twee soorte studente gehad: wie onderwysdiplomas wou verwerf, het hy self opgelei; die graadstudente het op Tukkies klasgeloop, graad gekry, en dan in ’n laaste jaar aan die kollege’n onderwysdiploma ook verwerf. Graadstudente was akademies volledig by die universiteit ingeskakel, maar vir die verenigingslewe by die kollege.

Vir baie wat nie ander moontlikhede kon bekostig nie, was so ’n onderwysbeurs’n manier om geleerd te kom eerder as ’n roeping. Die vangplek was dat ’n mens daarna ’n jaar moes skoolhou vir elke studiejaar. Vroeër wegbreek het kontrakbreuk behels: R200 boete en ’n pynlike terugbetaal van die hele studiebedrag oor jare. Enkele skeptici het ingesien dat, by al die nadele,’n mens die kontrakbreuk kon vryspring as jy geskors raak. Nie dat Koos dit sou oorweeg het nie. Daar was wel ’n probleem wat mettertyd soontoe uitgekring het.

Koos du Plessis
Soos sy verkiesing bewys, was Koos nie net besonder gewild nie. Hy was ook ’n akademiese legende. 

Soos ons gehoor het, het hy nie graag klasgeloop nie. Van die meisiestudente het vir hom hulle lesings met ’n lyntjie by ’n koshuisvenster laat afsak wanneer hulle klaar geswot het vir die eksamen. Vir Koos was die oorblywende nagure met iemand anders se lesings genoeg om deur te kom … tot Geskiedenis III se slaggat.

Dit was ’n dubbele slaggat, want die universiteit had ’n reël dat studente in hulle finale graadjaar albei (of al drie) hoofvakke saam moet deurkom. Boonop het die kollege se grondwet bepaal dat herhalers nie op die studenteraad mag dien nie.

Ons het gehoor daar was groot steun dat die herhalerreël in Koos se geval oorgesien of selfs geskrap word. Maar uiteindelik is ’n monstervergadering gehou (natuurlik sonder eerstejaars) waarop Koos se studenteraadsverkiesing nietig verklaar is.Hy het gevolglik geen spesiale status gehad nie. Dit het blykbaar onderliggende gevoelens by verskeie mense ontketen wat ons toe nie besef het nie.

Baie onthou seker nog hoe warm studentepolitiek destyds begin raak het. Dit het twee jaar later in Frankryk uitgeloop op Danyle Rouge -- Rooi Danny ofte wel Daniel Marc Cohn-Bendit – se opstande en in studenteslagting van 1970 op Kent State in Ohio oor die Vietnamoorlog. Ironies het albei in Mei plaasgevind soos ook die gevolge van Koos Doep se geval, telkens twee jaar uit mekaar.

Koos het in sy oorspronklike koshuis aangebly pleks van te skuif na die ander koshuis waarin die SR-voorsitter tradisioneel’n woonstelletjie gekry het. Ons eerstejaars het in Koos se koshuis dreunlyf begin raak namate ons tuiser geword het: telefoondiens en ander takies afgeskeep, hans geraak … kortweg getender.

Die tender is aanvaar en uitgevoer kort na Sondagmiddernag op 2 Mei. Nou met die Wilgenhofonthulling op Stellenbosch het baie van die besonderhede daarvan in ’n mens se agterkop herleef. 

Faai Matfield, pa van die Springbokkaptein Victor, het ons groepie skuifel-skuifel kom roep vir ons beurt in die skemerkamer die verste van die huisvader se woonstel af. Agter my in die ry was self ’n toekomstige Springbok, Willie Kahts.

Twee aande later in die eetsaal is ons eerstejaars aangesê om ná ete agter te bly. Elkeen het ’n getikte vraelys gekry wat elke greintjie inligting bevat het. Duidelik het iemand gepraat. Elke besonderheid is volledig opgeteken: nie net die borselvoorval nie, ook vloekery, selfs drank en meisies wat in die koshuis ingesmokkel is. Moeilikheid dus.

Van ’n kant af het die boodskap gekom: “Sê nee vir elke vraag.”

Die vraelyste is bekyk en toe val die troefkaart: ’n polisiekolonel en die distriksgeneesheer neem die proses oor. Min wetend dat menseregte aan die kom was vir die Wilgenhoffers en ander in die 21e eeu is ons in enkelgelid staangemaak met ons gesigte na die muur toe en ons ontblote agtertes na die wêreld en die gereg toe gekeer. Skuins agter my het die simpatieke distriksgeneesheer kliniesbevind: “Goed gemoer.”

Ons eerstejaars is summier voëlvry verklaar, en ons is vir ons eie beskerming na ’n eie koshuis verskuif waar geen senior student sy voet mog sit nie. Van die balkon af het ons die seniors luid gekoggel. Maar dit het binne dae duidelik geword dat van die seniors geklik het, nie die eerstejaars nie. Soos ’n nat laken het die spanning aan die hele kampus gekleef oor die onafwendbare straf vir die seniors wat die borsel gereël het.

Dit was die departementshoof van manskoshuise se besluit. Die hele huiskomitee is uit die koshuis geskors en die voorsitter heeltemal uit die kollege uit as ek reg onthou.

Almal het blou wraak gesweer en die departementshoof self was die eerste slagoffer.

Hy het ’n vaste sitplek in die eetsaal gehad: alleen by ’n tafel met sy rug na die glasdeure en ’n stoep voor die eetsaal. Ons was steeds ongewenstes in die eetsaal, maar volgens later vertelling was daar met die ete net ’n arm om die glasdeur te sien en in die hand en ’n papaja. Die papaja was vol verf. Met die plantslag is die departementshoof se swartraambrilvolgens die strafklagte gebreek, sy stemmige pak onherstelbaar beskadig, sy bles besmeer en sy waardigheid na sy maai.

Die koerante het geskryf oor watter gedugte taakspan saamgestel is en hoe die ondersoek danksy deeglike speurwerk vorder. Dae later het die polisie die oorsprong van die verf vasgestel en die vrugtewinkel in Pretoria-Noord opgespoor waar die papaja gekoop is.

Met die grootste sensasie aan die bedaar is aangekondig dat vier senior studente oor die papajavoorvalheeltemal geskors is:

·         Piet Oosthuizen, ‘n Springbok in moderne vyfkamp wat ek meen daarna by die Gevangenisdiens gaan werk het;

·         Tinus Brits, wat ’n musiekregisseur by die SAUK geword het. Jare later het iemand vertel hy het ná ’n meningsgverskil by die Uitsaai ’n Wimpy op Warmbad geopen;

·         Douglas Davis, wat skakelhoof by Maties gaan word het, en sy goeie vriend

·         Koos du Plessis.

Nou wonder ’n mens by die herdink oor die wenners en verloorders. Hoe sou talent soos Koos en Tinus s’n in die donkerpak- en ja-en-amen-kultuur van die onderwys oorleef het? Koos het sekerlik daaroor gedink, want hy het geskryf en gesing:

Ek’t‘n jaar gewerk as ‘n derde klerk

… selfs ‘n week swoeg is al klaar genoeg

… ek’s uiteindelik klaar met die spul

En ek wonder of hy en Tinus dalk toe al snags voordat Koos die meisies se lesings moes gaan haal, die kitaar gevat en gesing het oor die lewenswel en -wee.

                 * die huistoepad is ’n pad wat jy vat

as jou siel verdor maar jou oë bly nat

en jy loop maar jy weet jy’t die koers vergeet

lê die huistoepad tussen hoop en vergeet

 

maar die huistoepad is ’n donkerpad

dis ’n opdraendepad dis ’n dronkaardspad


dis ’n rowerspad en ’n konkelpad

want die huistoepad is ’n kronkelpad 

 

Uit Die huistoepad, Koos du Plessis