Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

25.9.24

My dwaling met Wonder Woman

PIETER ROOTMAN skryf: IN die bietjie meer as twee jaar wat ek by die middagkoerant, Hoofstad, gewerk het, het dit letterlik krioel van die skrywers daar. En nie sommerso skrywers nie. Bekroonde skrywers en liedjieskrywers wie se name voortleef in die volksmond. PG du Plessis is redakteur. Adriaan (Attie) Snyman werk deeltyds as taal- en bladversorger (sub) van die sportblad, Koos du Plessis werk vir ʼn wyle as taal-en bladversorger van die nuusblaaie en Jeanne Goosen is die baas van die vroueblad.

Ons klompie sportmalles onder die leierskap van Neil Steyn (wat self ʼn rugbyboek geskryf het) en Chris Botes, ʼn atletiekkenner sonder weerga, moes ses uur in die oggende aanmeld vir diens. Die binneblaaie word dan “afgegooi” (klaar gemaak) en afgeneem na die drukkers toe (of steen soos dit genoem is).

Op ʼn bepaalde dag is ek die “sub”. Halfnege is die spertyd van die agterblad (sport). Wanneer jy klaar is, gaan jy òf na die kafee op die hoek toe vir ʼn geroosterde kaasbroodjie en nog koffie òf jy drafstap badkamer toe weens die hoeveelhede koffie wat jy drink in die twee en ʼn halwe ure van bladuitleg en taalversorging.

Jeanne Goosen
Ek is bekend daarvoor dat ek vreemde dinge aanvang omdat ek dikwels ingedagte is. Ek het al onder andere Vim op mielies geëet en kopluismedisyne vir verkoue gedrink. Toe die blad sak (klaar is) haas ek my badkamer toe en gaan sit. Op die vloer lê koerant van die vorige dag. Binne in het Jeanne Goosen ʼn skreeusnaakse, sarkastiese resensie geskryf oor ʼn boek genaamd Wonder Woman.

Die boek het (kortliks) voorgegee dat ʼn vrou se plek in die kombuis is, dat haar lewensfokus haar man is, en dat sy haar man in die aande met net haar voorskoot aan by die deur moet inwag, reg om haar na sy wil te buig.

Terwyl my maag skud van die lag oor hoe Jeanne die skrywer se menings versnipper, hoor ek vrouestemme. Ek probeer my lag – en onderstel se byklanke – inhou. Ek kom tot die aaklige besef dat ek in die vrouetoilet sit, reg langs die Mans.

Dit duur ʼn goeie kwartier voor ek uit my selfopgelegde isolasie kan ontsnap. Met die uitvlug kom ons destydse sekretaresse, Wilma van der Merwe, nader gestap.Sy kyk my vraend aan. Ek kan net bloos en verby hou.

Tot vandag toe is sy, en my vrou, die enigste getuies van my ingedagte dwaling en die voorreg om die giggelgoeie resensie van Wonder Woman te kon lees.

Ek sal dit dus waardeer as julle nie hieroor uitpraat nie.