Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

15.6.23

Op papier kan ʼn mens dit mos herontdek

PEET VAN STADEN skryf: GOED, miljoene bome het oorleef nadat die nuusbedryf sy papiergebruik ingekort het. Maar hy is daarom nog armer, want vir ons in die kermkoor het woorde op die skerm eenvoudig nie die trefkrag van woorde op papier nie. Jy kan hulle verklein of vergroot en in ʼn ander lettersoort weergee, maar nie skeef draai of ligkant toe skuif of besnuif nie. Veral nie só bedink en waardeer nie. 

Dit besef ek opnuut toe ek nou die dag in my opgaarkas na die grafika van die sirkulasiesyfers gesoek en afgekom het op iets waarvan ek half vergeet het. Dit was net te herontdek omdat dit op papier is, al kom sommige daarvan reeds uit ʼn

rekenaar en nie meer van ʼn teleks af nie. Daar is wel nog van daardie opwindende nuusflitse wat ʼn mens destyds gekry het nadat die teleks gesê het pieng! pieng! pieng! Maar in my versamelinkie is daar ook ander goeters: knipsels, fakse, e-posse. 

Natuurlik is daar ʼn klomp ander en hulle kon duisende meer gewees het, maar dit is tog ʼn kernversamelinkie van gebeure in ʼn ongeëwenaarde nuustyd, ʼn klein kroniek soos skrywers graag destyds gesê het.

Die items kom uit my SAUK-TV-nuusdae. Daar was waarskynlik heelwat meer telekse as in ʼn koerantnuuskantoor. Benewens die hele kaboel agentskappe soos Sapa, Reuters, AP, UPI en AFP was bydraes van buitelandse uitsaaiers en die letterlik honderde berigte van radionuus ook daartussen. Ná ʼn skof was die swart munisipale vullishouer by my lessenaar feitlik vol. Een druk dag het ek die vuurhoutjie nie mooi doodgewaai nadat ek my pyp brandgemaak het nie, maar dit is vir anderdag se vertel ...

Die verhaaltjie begin omstreeks 1988 met die toenemende weerstand teen die staatspresident, P.W. Botha: 

Die wending waaroor almal gepraat het, was twee jaar later: FW-TOESPRAAK 

Allerhande groepe het op die gebeure gereageer, hoe hulle ook al gebek of gesind of gewapen was ... enkelinge of groepies met ʼn faksmasjien, ʼn pistool of sommer net met handgeskrewe kernnotas, soos die KP-leier Andries Treurnicht: 

 

Maar ook Suid-Afrikaners was op die punt om die gesiglose bekendste mens op aarde self te sien: 

-----------------------------------------

Daardie jare het na my onthou geen komkommertyd gehad nie, want Suid-Afrika was daagliks wêreldnuus. 

Maar daar was ook nuusmakers uit ander lande:

 

Soos ons almal het ek sekerlik gedroom oor hoe wonderlik ek sou beplan aan die skryf of opmaak van my eerste voorbladlei/voorblad/plakkaat. Maar totdat ek na dié reeks gekyk het, het ek nooit gewonder oor die skryf van ʼn treffende flits teenoor ʼn treffende hooftrek nie, want ek het nooit vir ʼn nuusagentskap gewerk nie. 

Danksy papier wonder ek nou oor hoe gepas en treffend die flits oor Jackie O is. Hoe anders sê ʼn mens in sewe woorde, wat die bron insluit, dat ʼn merkwaardige iemand dood is? Een wat in die glansestablishment gebore is vir hogere dinge; sosiale legende; presidentsvrou en ikoon van ʼn tragiese dinastie; miljardêrsvrou; en in haar derde lewensfase met haar kinders groot uiteindelik privaat as skrywer en boekeredakteur? Ja, ek dink nie ʼn mens kon een woord weglaat nie, veral nie met alles wat sy ingepas het voor haar lewenseinde “at 64” nie. 

Salaam, skrywer van daardie flits, dalk die naamlose /ms.