PEET VAN STADEN skryf: GERRIE COETZEE se dood in Januarie is seker maar hoekom ek opnuut gewonder het oor die ding. Soos oor al die ander in Perskor se biblioteek wat ʼn mens oor jare bygebly het: knipsels van ons spookstorie as studente wat nege koerantvoorblaaie gehaal het, Willie Havenga se atletiekfoto’s, een uit Wessel Oosthuizen se eerste joppie met sy nuwe motoraandrywing wat wys hoe hoog ʼn knop op ʼn fietsryer se bobeen swel ʼn halfsekonde ná sy valslag.Of die biegbrief van ʼn veroordeelde moordenaar wat Jan Beukes uit die tronk gesmokkel het, geskryf op toiletpapier met sy eie bloed.
Seker ook maar die vergetelheid in.
Die ander wrang ene het ek geweet ek het self nog, êrens in ʼn legger of propvol koevert. Dit was net ʼn geval van soek. Toe soek ek maar, nie omdat ek smag násmart nie, maar omdat ek dit met die oudkollegas wou deel ná Andries Botha se skryf oor die sirkulasieskandaal wat van Marius Jooste "ʼn verslae mens" gemaak het. Daar loop ek sommer ook ʼn afdruk van die Coetzeeding raak saam met ʼn rits ander wat my geheue geprikkel het.Ek hoor af en toe diskrete opmerkinkies dat my vertellings dalk ʼn bietjie gouer by die punt kan kom. Daarom los ek maar my rits ander vir ʼn afsonderlike skryfie. En dalk moet ek maar die sirkulasiesyfers dadelik van die gemoed afkry.
Regs: Die voorblad van die ABC-verslag waarin die vals verkope vervat is.
Waarna ek gesoek het, is gewoon die oorspronklike grafika wat die gekookte sirkulasiesyfers uitbeeld: op wit karton vier staafgrafieke wat die grootste Afrikaanse dagblaaie se verkope wys. Die Vaderland is regs, dan Beeld, Die Burger en links Die Transvaler. Aan sy bopunt het DT ʼn plofwolkie wat met heldergeel kolkleur treffender uitgebeeld word. Daarby in my legger was die voorblad van die ABC-verslag met die gekookte syfers in, maar nie die plofwolkie se tweede kleur nie.
Bo: Grafika van ʼn leuen: die uiteensetting van Die Transvaler se gekookte verkope (links, 75 287). Dan volg Die Burger (72 214), Beeld 64 901 en Die Vaderland (60 564).
Dis byna simbolies. Met apologie aan Van Wyk Louw staan die grafika daar nakend uit sy bedrieglike jeug.
Hóé onthou ek nie meer nie, maar ek was as waarnemende promosieredakteur seker aandadig aan die ding. Hom waarskynlik nog geskryf. Maar die syfers, edelagbare, was iemand anders se pleegsel.
Die ding
het op 1 Augustus 1980 verskyn, kwalik drie maande voordat ek die laaste keer
oor die dik bruin mat voordeur toe geloop het.
l Die een van Coetzee bly my by, want hy kon werklik waarde gehad het ... as ek hom net gevra het om sy naam daarby te skryf.
Bo: Deur die hand oor die hand ... Gerrie Coetzee se tekening hoe sy handbene geheg is met daarnaas die agtergrond.
ʼn Jaar of wat voor sy opspraakwekkende geveg teen Leon Spinks in Monte Carlo was hy op ʼn dag in DT se sportkantoor. Sommer op ʼn vel kopiepapier het hy vinnig geteken hoe die spesialis sy regter se middelhandbene geheg het wat sy boksloopbaan kort-kort in gevaar gestel het.
Ek het die papier in my lessenaarlaai gestop en hom eers uitgehaal toe ons ʼn gedenkbylae saamgestel het vir die Spinksgeveg. Dit het op Vrydag, 22 Junie 1979, verskyn, twee dae voor die geveg. Die Sondag-nánag onmiddellik ná die geveg self het ons, terloops,wéér ʼn spesiale uitgawe uitgebring.
Coetzee het so skouspelagtig gewen teen die voormalige Olimpiese kampioen en oorwinnaar oor Muhammad Ali dat sy “bioniese hande” terstond kultusgoed was.
In die bylae het ek die brose hande se agtergrond uiteengesit, en geskryf dat Alan Toweel erken het dat sy strategie vir Mike Schutte se geveg vroeër teen Coetzee eintlik bedoel was om Coetzee se verdagte hande te beseer. Daarby het ek die tekening gebruik.
Dis haas 44 jaar gelede se maaksel. Ek was nogal verbaas dat ek dié bylae en ʼn paar ander gehou het. Min mense dink ʼn tweede keer oor so iets ... behalwe ʼn paar wat weet wat dit verg om ná weke se opbou aan ʼn groot sportgeleentheid laatnag nog ʼn klomp bladsye vol te kraam waarvan die besluitnemers lankal geweet het, maar die sportredaksie eers gehoor het toe die bladplanne op ons lessenaar beland.
Maar ek kan nie verhelp om te wens ek het die insig gehad om te vra dat Coetzee sy naam by die tekening skryf nie. Dit sou dan nie soveel saakgemaak dat Perskor se biblioteek tekening en al daarmee heen is nie.
Ten minste sou ék die waarde van alles ʼn bietjie beter voorsien het: eerste man van Afrika wat om die swaargewigtitel van die wêreld sou boks, eerste swaargewigkampioen uit Afrika, eerste wit swaargewigkampioen sedert Ingemar Johansson in 1959... in ʼn tyd toe al drie baie beteken het.
Dis iets
vir Flenterhandjies, die outjie van Boksburg.