KOBUS BOTMA stuur ʼn knipsel uit Die Transvaler van 14 Maart 1978. Dit lui:
DIE TRANSVALER se fotograwe het nie minder as drie van die pryse in die jaarlikse wedstryd vir die beste persfoto’s verower nie.
In die wedstryd vir verlede jaar het Pierre Oosthuysen, hooffotograaf van Die Transvaler, die prys vir die beste sportfoto van 1977 verower. Hy ontvang daarvoor ʼn kontantprys van R200.
Die tweede prys in die afdeling vir nuusfoto’s is ook deur ʼn Transvaler-fotograaf, Jack Fenix, ingepalm. Mack van der Walt, ook van Die Transvaler, het die vierde prys in dié afdeling verower.
Benewens dié drie pryse het ʼn vierde fotograaf van Die Transvaler, Kobus Botma, eervolle vermelding vir sy inskrywings vir die afdeling nuusfoto’s ontvang.
KOBUS, wat van 1976 tot einde 1978 by Die Transvaler en daarna in 1979 by The Citizen was, skryf dan:
"By Die Transvaler het ek saam met ouens soos Wessel Oosthuizen, Pierre Oosthuysen, Nic van der Linde, Jack Fenix, Johan van Zyl, Mack der Walt, David Briers en Glen Lamprecht gewerk. Al was van die ouens òf Transvaler- òf Vaderlandfotograwe, het ons dieselfde donkerkamers gedeel en baie saam gewerk. Ons het maar almal ander foto’s geneem as net vir die koerant, vir 'n ekstra inkomste.
"Ek het baie werk vir Jannie Herbst van die tydskrif Wiel gedoen. Veral oor naweke op Kyalami en ook baie tydrenne vir hom gedek.
"Jack weer, het baie modelwerk vir ʼn onderklere groep afgeneem, dink dit was Playtex. Veral bra's! Dan het hy ook werk vir Checkers gedoen.
"Nic van der Linde was getroud met Shirley, wat in die Suster Teresa-fotoboekies gespeel het. Hy het haar boekie en baie van die ander boekies se foto's geneem.
PIET EBERSÖHN voeg by: Dit was nie slegs daardie jaar dat van Die Transvaler se fotograwe of gewese fotograwe aldus bekroon is nie.
ʼn Vinnige soektog deur die digitale Die Transvaler (https://gpa.eastview.com/dtsa/) wat Japie Bosch ontdek het, dui op die volgende:
In 1978 wen Die Transvaler se David Briers die tweede prys vir die beste nuusfoto in kleur. Herman Potgieter van Republikeinse Pers, ʼn filiaal van Perskor, het die afdeling gewen. Len Ward van Die Republikein en voorheen van Die Transvaler neem die beste nuusfoto
- In 1979 is Raymond Preston van die Rand Daily Mail, ʼn gewese Die Transvaler-fotograaf, die persfotograaf van die jaar en in 1980 neem hy die beste sportfoto.
(Die foto’s hierby is deur Kobus verskaf. Klik op die foto's om dit te vergroot. – Red.)
Bo: Kobus Botma se bekroonde foto van die renjaer Tom Pryce se laaste wedren – 1977 s’n op Kyalami toe sy motor ʼn baanbeampte raakgery het. Die motor is hier nagenoeg ʼn meter van die teerblad af. Pryce se helm was weg en die neus van die motor as gevolg van die ongeluk ingestamp. Die vermoede is dat Pryce reeds dood was agter die stuur toe Kobus die foto geneem het.
Bo: Nog ʼn foto wat Kobus op Kyalami geneem het, met die akrise Zoli Marki as model. Die fotograwe daarop is Johan van Zyl (middel agter), David Briers (voor hom), albei die een of ander tyd van Die Transvaler, en Nato Barnard (staande heel regs), van Rapport. Links agter is Frank Stahlhut en regs voor Roger Swan.
Bo: Op dié foto van 'n skare mense wat Kobus by die een of ander gholftoernooi geneem het, sit Glen Lamprecht en nog ʼn fotograaf op die gras in die voorgrond. Herken iemand dalk die tweede een?
Bo: Goeie vriende wat saam kuier! Jack Fenix en Ken Marais, albei van Die Transvaler iewers in ‘n kroeg afgeneem. Dalk Vegkop? Daardie glasies was mos "goblets”? Voor Jack is 'n pakkie sigarette met daardie ou tipe aanstekers bo-op. Heel voor is ʼn kameralens, met 'n film langsaan, tipies van fotograwe wat saam kuier.
Bo: DIE TRANSVALER-fotograaf, Jack Fenix, was voor die ambulansmanne op die toneel toe dié vrou van ʼn hoë gebou in Hillbrow, Johannesburg, na haar dood toe gespring het. Haar man moes deur omstanders teruggehou word van sy sterwende vrou af. Die foto het die tweede prys aan Fenix besorg. K’rant het die foto vroeër geplaas en gevra wie kan die storie vertel. Danksy die digitale Die Transvaler (uitgawe van 14 Maart 1978) weet ons nou.
Bo: Zoli Marki en die Datsun 140Z waarin die Suid-Afrikaners Brian Cook en Phil Adams 1978 se 9-uur-uithouren op Kyalami gewen het. Kobus onthou dat hy tydens die persgeleentheid ná die sege twee rondtes saam met Cook om die baan kon jaag. Datsun het spesiaal ʼn passasiersitplek ingesit.