Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

21.4.24

Koerantman Frikke leer TV ‘n ding of twee

PEET VAN STADEN skryf: FRIKKIE VAN DER WALT, eens onder meer nagredakteur van Die Transvaler, is Maandag, 8 April ná ʼn tweede ernstige siekbed op 80 oorlede. Hy het sy lang en kleurryke loopbaan by Perskor opgevolg met ʼn nog langer en ewe merkwaardige skof by die TV-nuusredaksie van die SAUK.  Hy laat sy vrou, Susan, en twee kinders agter.

Hy het laat in die jare 1960 by Die Vaderland begin waar hy hom as misdaadverslaggewer onderskei het en lewenslank geesdriftig vertel het van die karakters en ervarings wat hy in daardie wêreld beleef het.  Daarna het hy na Die Transvaler se redaksie verskuif waar hy later nagredakteur was tydens die groot tweestryd met Beeld.

Frikkie van der Walt
Vroeg in die jare 1980 was hy deel van ʼn klein trek Perskormense Auckland-park toe. Dave Viljoen, Leendert Pieterse, Hennie Venter, Sandy Macdonald, André Scheepers en André Pienaar tel ook onder hulle. Vroeër het Johan Pretorius en Piet du Plessis die uittog begin en verskeie senior Perskormense het later gevolg.

Die uitsaaier het by verskeie geleenthede sy nuusdekking ʼn bietjie spierkrag probeer gee met koeranthardebaarde. Dit is nie ewe geredelik in die uitsaaiersgeledere aanvaar nie. Strikke is gevolglik dikwels vir sulke inkommers gestel wat hulle as tegnies-naïewe koerantmense nie raakgesien het nie.

Frikkie het as nuusskrywer begin in die Afrikaanse bulletinredaksie, TV-nuus se naaste weergawe van ʼn subkantoor. Daar is die grondslag gelê van sy legendariese vermoë om groot en moeilike stories binne minute op die lug te kry.

Sy prestasies het hom teen 1990 bevordering tot bulletinredakteur besorg, wat hy hoofsaaklik in die GMSA-redaksie deurgebring het. Dié ontbytprogram het benewens die dol ure die verdere nadeel gehad as ʼn chroniese stiefkind van die nuusredaksie. Bulletinredakteurs moes soggens in alle opsigte hulle eie potjie krap … nie vir huiwerige of oorafhanklike mense nie.

GMSA en ander projekte is in 1996 gesluit toe die SAUK hom deur sakekonsultante en besorgdes wat die uitsaaiterrein gelyk wou maak, tot selfverminking laat lei het. Talle spesiale mense is uit diens gestel, insluitend Frikkie.

Maar kort voor lank was hy terug in die Afrikaanse redaksie wat die aandnuus in die volgende 15 of wat jaar uitgebou het tot ʼn gleuf wat haas alle teenstand platgeloop het. Afrikaans het feitlik eiehandig en met beperkte hulp van die verslagredaksie byvoorbeeld méér en heelwat vermoënder Engelssprekende kykers gelok as die Engelstalige bulletin waarmee hy in dieselfde tydgleuf meegeding het.

Een van die nuushoofde kon sy frustrasie op ʼn keer nie wegsteek nie toe hy sien Afrikaans het ʼn leistorie betyds op die lug, maar Engels (verslaggewer en al) kon hom glad nie opkry nie. Hy het feitlik wanhopig gevra: “Hóé kry julle dit reg?”

Dáár het Frikkie waarskynlik sy joernalistieke hoogtepunt bereik. Mense sonder insig in daardie wêreld kan hulle nie eens begin indink in watter vaardigheid dit soms verg om byvoorbeeld ʼn hoofstorie betyds  op die lug te kry wanneer die videovoer 20 minute voor lugtyd eindig nie. Op so ʼn voer praat die landspresident miskien 15 minute lank, en daar is nog geen teks wat ʼn mens na ʼn goeie klanksnit kan lei nie. Dan moet die nuusskrywer binne 20 minute op ʼn klanksnit besluit, soms ʼn stemverslag skryf en opneem, die bydrae laat videoredigeer en teks en videopakkie aan die ateljeeredaksie lewer voordat die aardbol draai.

Dit het Frikkie male sonder tal reggekry. Dit was ook danksy sy ander talent: verhouding met die videoredigeerders. Dit het ‘n mens verbyster. Ondanks sy oënskynlik bruusk aanslag het die beste en vinnigste redigeerders altyd gedraf of  hom te help. Wanneer Frikkie wou redigeer, was daar geen sprake van sleepvoetigheid of ander weerstand om saam met Afrikaanse mense te werk nie. Jare ná sy weggaan het hulle nog kort-kort gevra: “Where’s Frikkie?”

Dosyne kere is hy ook op kort kennisgewing gevra om ʼn bykomende skof te gaan werk. G’n enkele keer het hy geweier nie. Hy het gevolglik gewoon aangebly as vryskut toe hy uiteindelik afgetree het en tot in 2019 gewerk. Hoewel hy lank nie gesond was nie, het hy kort na sy finale aftrede die eerste keer ernstig siek geword en die afgelope tyd weer.

  • Sedert K'rant in 2012 tot stand gekom het, het Frikkie 23 stories vir die webjoernaal geskryf. Klik HIER --Red.