HANLIE VORNBERG skryf: Nou, terwyl ek die storie skryf, besef ek eers hoe besonder aktueel die tema op die oomblik is met al die probleme daar is Israel.
Soos bekend, was daar 'n tyd hier in Europa waar mense van Joodse afkoms harde bene gekou het. Trouens, deur 'n Semitiese familielid êrens in die geslagregister te hê, kon die doodvonnis beteken.
Na die Tweede Wêreldoorlog het die Jode wat hier oorgebly het, óf Israel toe geëmigreer, of hulle bes gedoen om so gou soos moontlik by die res van die bevolking in te skakel. Talle was selfs bereid om hulle geloof prys te gee en hulle as Katolieke of Protestante te laat doop
.'n Handjievol het ortodoks gebly en nog hulle streng tradisies voortgesit. Ek het hier in Wenen 'n Joodse familie leer ken met wie ek verskeie gesprekke oor dié tyd gevoer het. Die familie het slegs die oorlog oorleef omdat die moeder nie van Joodse afkoms was nie.Die Nazi`s het destyds gesinne gespaar as die moeder 'n Ariër was. Indien die vrou egter tydens die oorlog gesterf het, het hulle dadelik so 'n gesin kom haal en hulle na 'n konsentrasiekamp gestuur. Dié betrokke gesin het jare lank in doodsangs geleef.
Ek het twee foto's van die vader gesien, een daarvan is voor die oorlog geneem en die tweede kort daarna. Hy is onherkenbaar op die laaste foto. Hy het van 'n man in die fleur van sy lewe in 'n afgetakelde grysaard verander.
Sy dogter het vertel dat hulle tot vandag toe nog nagmerries kry as iemand in die nag aan die deur klop. Hulle het elke aand met die vrees gaan slaap dat die Gestapo hulle dalk in die nag sou kom opklop. Na die oorlog, is sy toe met 'n volbloed Jood getroud en het sy haar kinders sonder sy toestemming in 'n Protestantse kerk laat doop.
Sy wou hulle die kans gee om dan later self te besluit wat hulle wou wees. Haar man, 'n ortodokse Jood en die direkteur van 'n groot firma was baie aktief in die Semitiese gemeenskap.
Hy was woedend toe hy met 'n ompad verneem dat sy kinders in 'n Christelike kerk gedoop is. Hy het sy vrou laat beloof dat sy dit ten alle tye in hulle kringe sou verswyg. Sy het egter, ook teen sy wil, elke Kersfees 'n Kersboom gekoop en dit in die sitkamer saam met die kinders versier.
Een jaar sou hulle hooggeplaasde besoekers uit Amerika ontvang. Hulle het tesame met ander Joodse gesinne in 'n weelderige blok woonstelle in Wenen gewoon. In die gebou het haar man onder andere ook met 'n klein Joodse skooltjie begin.
Toe hy haar vertel van die vername besoekers, en dat hulle moontlik finansiële hulp vir die skooltjie kan verleen, het hy ook beklemtoon dat hulle ortodokse Jode is.
Sy het onmiddellik aan die Kersboom gedink! Sy wou die kinders, wat intussen aan die gebruik gewoond geraak het, nie teleurstel nie. Haar man het haar egter die dood voor die oë gesweer dat indien hy die besoekers huistoe bring, daar geen Kersboom êrens mag opduik nie.
Sy het die saak deeglik bepyns en haar plan fyn uitgewerk. Sy sou die boom, soos altyd, versier en dit dan, wanneer die besoekers opdaag, in die kelder gaan wegsteek.
Toe die groot dag aanbreek, was sy gereed om die boom op te raap en na die wegsteekplek te dra. Dit het sy ook gedoen en die besoekers het 'n gesellige dag saam met hulle in die woonstel geniet.
Die saketransaksie is beklink en die vername gaste het gevra of hulle nog vinnig die skooltjie mag besoek.
Om by die skooltjie te kom, moes 'n mens egter deur die kelder gaan, direk by die Kersboom verby! Sy het besef wat die gevolge sou wees.
'n Kersboom in die Joodse huis kon in dié geval net op 'n fiasko afstuur. Sy het ongemerk uitgeglip, die boom weer opgeraap en verward daarmee rondgestaan. Waarheen nou?
Die een oomblik was sy in die gang, dan weer in die kelder, terwyl sy wik en weeg oor wat sy met die boom kon aanvang.
Voor sy aan 'n plan kon dink, hoor sy die stemme in die gang soos die geselskap al nader kom om deur die kelder te stap.
Illustrasie: Daniel (9), Hanlie se jongste kleinseun. |
versierings en kersies en al deur die oop venster in die agtertuin.
Die besoekers is onverstoord deur die kelder tot by die skooltjie en was beïndruk en veral in hulle skik oor die ywer om die Joodse tradisies weer in Oostenryk aan die gang te hou.
Die volgende oggend vroeg het die woonstelopsigter aan die gesin se deur kom klop. Hy was erg ontsteld. "Weet u," het hy gestamel, "tye het nie regtig verander nie, die land is nog net so anti-Semities soos altyd! Om ons Jode te beledig, het iemand gisteraand 'n Kersboom hier in die tuin kom gooi!"
Die gesin het jare daarna nog lekker gelag oor die petalje met die Kersboom!