Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

14.9.24

Oudredakteur van Tempo oorlede

JOE VAN BUUREN skryf: ALWYN STRYDOM, destyds lid van Die Transvaler se redaksie, is Woensdag 11 September, op Willowmore in die Oos-Kaap dood. Hy was 72.

Wyn sal veral onthou word vir sy gemoedelikheid en voorliefde vir ʼn lekker partytjie, waar hy en André Pienaar, ook reeds saliger, hulle kollegas met hul uitbundige ghitaarspel vermaak het.

Alwyn Strydom
Alwyn en sy drie sibbes het ná 'n draai op Garies op Lady Grey in die Oos-Kaap grootgeword. Hy was onder dié wat destyds by Die Transvaler aangestel is om Naspers en Beeld die stryd aan te sê.

Wyn, 'n bekwame joernalis met 'n besondere skryfstyl, was soms ook maar rusteloos en het dikwels volgens sy eie reëls geleef. So het hy by verskeie Perskorpublikasies gewerk en was in ʼn stadium ook redakteur van Tempo, Perskor se destydse weekblad in Durban.

In 1975 het ek, Danie Malan en Wyn besluit om in die destydse Suidwes-Afrika werk te soek. 

Ons het by Perskor bedank en Danie se suster, Arina de Kock, se motor geleen. 


Na vele wedervaringe het ons eindelik terug in Suid-Afrika beland, sonder werk en sonder geld, maar wat my opgeval het was hoe  deeglik Wyn elke oomblik geniet het en homself in die reis ingeleef het, al het dit soms maar broekskeur gegaan. 

Wyn het hom later ná afloop van sy joernalistieke loopbaan in die invoer-uitvoerbedryf in Kemptonpark begewe. Daarna het hy hom saam met my en sy suster,  Chrisna, toevallig ook my lewensmaat, op Sedgefield in die Wes-Kaap gevestig.

Sy gesondheid het ná ʼn beroerte vier jaar gelede erg agteruit gegaan en twee heupoperasies het sy kragte verder getap. Hy is in ʼn aftree-oord op Willowmore dood. Hy word oorleef deur sy eks en twee kinders, wat in Australië woon.

Joe van Buuren, Danie Malan en Alwyn Strydom by die Spoorwegmuseum in Windhoek.

Alwyn en Stella Niemand (Fouché)