PEET VAN STADEN skryf: Shoe Lane was wel die straatadres, maar dit is of was g’n laan nie, allermins ‘n straat. Dit was eintlik maar die ingang na ‘n kantoorgebou ‘n paar meter se stap van Fleet Street af. Die gebou se naam was die International Press Centre, en daar beleef ek op ‘n somerse Saterdagnag iets wat ek jare later besef het simbolies is van die hoogtepunt van koerante, veral Sondagkoerante.
Ná my laat werkery in Rapport se kantoor in die perssentrum het ek regs gedraai in Fleet in die rigting van Trafalgarplein. Hy was, kleurryke verlede en al, self nie veel van ‘n straat nie. Maar die name teen die geboue aan weerskant het hom die trefkrag van ‘n emosionele bakoond gegee: The Times, News of the World, The Daily Telegraph, Daily Mail.
Die Sondagkoerante was op die pers en die hele straat het gepols van die energie. Daar was
geen stegies aan die agterkant waar die vragmotors die koerante kon oplaai nie. Alles het aan die straatkant gebeur: nuuskieriges wagtend vir die eerste uitgawe, laataandverkeer, toue vragmotors luierend by die punte van die voerbande uit die drukkerye. Soos ‘n oortreffende weergawe van die ou Afrikaanse Persgebou wanneer die rolpers begin loop het, het die hele plek getril en gedreun van die energie van masjiene, enjins en afwagting. Bo-oor wolke dieselrook voor elke gebou tot ver ondertoe in die straat. Die geestesoog het iets gesien van hoe die vragmotors vir die leespubliek pakke koerante afgooi al met die nou teerpaadjies langs van John O’Groats tot Land’s End.
Bo: News of the World se laaste uitgawe op 10 Julie 2011. Die koerant wat in
1843 die eerste keer verskyn het, het ondergegaan nadat hy hom as lid
van Rupert Murdoch se News Corporation in sy soeke na sensasie hom aan
telefoon-meeluistering skuldig gemaak het. Verskeie joernaliste,
insluitende 'n gewese redakteur, en ander medepligtiges is tronk toe
gestuur. Murdoch moes sy poging laat vaar om die TV-kanaal BSkyB oor te
neem. Die hoof van die Britse Metropolitan Police het bedank nadat
nalatigheid en korrupsie van polisiekant aan die lig gekom het.
Na my onthou was News of the World toe die wêreld se besverkopende Engelse koerant
met ‘n sirkulasie van so sewe miljoen, gevolg deur ander Sondagkoerante wat meters lank op die sypaadjies uitgepak is. Of ‘n mens se joernalistiek dalk ‘n bietjie te calvinisties was, maak nie saak nie. Daardie koerante was ‘n openbaring in trefkrag, uitleg, visuele aanbieding, skryfaanslag … vindingrykheid, maar veral trefkrag.
Dit was toe nog letterpersdae in swart en wit met al die beperkings en net ‘n paar
uitleghardebaarde wat dit te bo kon kom. Vir ‘n Suid-Afrikaner was daar hope te leer, veral in ‘n redaksie wat hom daarop geroem het dat “ons die groot storie hard slaan”.
Rapport het self toe hoogtepunte beleef. Net voor dié Saterdagnag het hy die Sunday Times in 1974 verbygesteek en met verkope van 483 433 Suid-Afrika se grootste koerant geword. In die volgende ses maande het hy die halfmiljoen verbygesteek en sy voorsprong verder gerek.
News of the World het in 1843 begin en steeds hoë verkope gehad toe hy in 2011 in skande
gesluit is. Rapport, wat in 1970 as ‘n monopolie uit die Afrikaanse Pers se Dagbreek en Landstem en Nasionale Pers se Die Beeld ontstaan het, se sirkulasie het om gans ander redes stelselmatig gedaal tot onder 60 000 in die jongste maande. Sy bestuur het bevestig hy verskyn in Desember die laaste keer op papier.
My Saterdagnagse herinnering steek vas, want ek was nooit weer in Fleetstraat nie. Op baie
ander mense het die straat in een van sy reeks nuwe gedaantes seker ook ‘n blywende indruk gelaat. In die Romeinse tyd was hy blykbaar ‘n belangrike roete deur die deurmekaar jong dorp. Later het hy ‘n soort kerkbuurt geword. Een van verskeie kerke in die omgewing is St. Martin in the Fields met sy beroemde musiekakademie neffens Trafalgarplein. Af en toe trou sentimentele joernaliste nog in een van die kerkies in die omgewing.
Nie dat Fleetstraat nog eie joernaliste het nie. Die laaste een is ‘n dekade of meer al weg uit
die straat wat sedert die agttiende eeu hulle tuiste was. Deesdae is hy ‘n finansbuurt, lees ek. Die straat is net vir voetgangers en daar is tafeltjies en kuierstoele op die ryvlak waar die vragmotors destyds so gestaan en dreun en rook het.
Joernaliste het die uitdrukking “vandag se scoops is môre se tjipspapier” soveel keer gehoor
dat niemand nog daaraan kan twyfel nie dat ‘n mens met iets anders as koerantpapier moet bou as jy ‘n monument soek. Koerante het per slot van rekening sedert die dae van die penny press saam met die wind van die tyd gewaai: saam met die geskiedenismakers, uitgelewer aan die persbaronne, ekonomie en die politici, soms gewoon die vergetelheid in.
Maar in my binneste is daar ‘n dowwe belewenissie van vergeefsheid.
Ek is bevooroordeeld, want Rapport het darem oorleef onder die koerante waarvoor ek
gewerk het. Tot dusver.
My eerste bydraetjies, veral foto’s, het in ons destydse dorpskoerantjie verskyn. Hý bestaan darem nog. Dis wel appels met pere vergelyk, maar dalk doen sulke koerantjies nog iets wat die grotes vergeet het.
|