KARIN PRETORIUS skryf: MET geen kennis van perdewedrenne of weddenskappe nie, het ek jou so wrintiewaar twee keer in die jare sewentig vanweë my werksituasie by Perskor op wenperde by die July verwed – en gewen. Nou nie so dat ek my trommeltjie eers kon opvul nie, maar dit het tog vir baie opwinding gesorg.
Eerstens was dit in 1970 by die vroueblad van Die Transvaler en daarna in 1979 as Perskor se verteenwoordiger tydens die bosoorlog in die ou Rhodesië. Met my aanstelling in 1970 by Die Transvaler se vroueblad, was dit heerlik om oor ʼn eg-vrouesaak te berig – die vooruitskouing van die vrouemodes by die naderende July-perdewedren begin Julie op die Greyville- renbaan in Durban.
My verbeelding het met “vrye teuels galop” en met uitdrukkings soos “ek het uit die perd se bek” verneem die midi gaan die gunsteling wees; moet egter nie op "die verkeerde perd wed" met ʼn mini as jy nie ʼn “perdebylyfie” het nie; hooftooisels is nou weer 'ʼn perd van ʼn ander kleur" – sonder ʼn hoed by die July sal jy wees soos" ʼn perd sonder ʼn hoefyster"; vroue, die wagwoord is: pak die modes en "ry hulle bloots" by die July.
Nuusredakteur Das Herbst het dit goed gedink om my na Durban te stuur om oor die modes by die July te gaan berig en daar vertrek fotograaf Alan Lipschitz en ek in die betroubaarste persmotor na die Greyvillebaan. Wat ʼn vreugde! Alles was vir my as groentjie by die koerant ʼn wonderlike ervaring.
Alan was ʼn ou hand met perde speel. Ek het nie die vaagste benul gehad nie en toe hy my vra op wie ek my geld gaan verwed, het die frons op my voorkop my onkunde verraai. Hy’t my die lys perde gewys, toe val my oog op die naam Chichester en toe skop my intuïsie, my gevoel en my sesde sintuig in en het ek so geredeneer: ʼn jaar vantevore was ek in Chichester in die suidooste van Engeland vir die dag en – ook toevallig – by ʼn perderesiesbaan by ʼn plek met die naam van Goodwood. Toe het ek vir ʼn ouerpaar au pair op hul plaas in die Cotswold nie ver daarvandaan nie. Ek moes klein Laura, haar broer William, Tobie, die kat, en Bella, die ponie, versorg.
Ons het vir die dag na Chichester gery want hulle het ʼn perd gehad wat op Goodwood sou hardloop en hy die het dié spesifieke dag tweede gekom. En so redeneer ek toe by die July dat Chichester tweede gaan kom – gewis. Ek het nogal ʼn paar rand op hom verwed. En daar kom Chichester jou wrintiewaar tweede en ek wen R50! Dit was nogal ʼn vol beursie vir daardie jare en Alan was baie beïndruk. Ek kan nie onthou of hy iets gewen het nie.
Die tweede keer wat ʼn July-gelukkie my kant toe gekom het was in 1979 as verteenwoordiger vir Perskor in die ou Rhodesië. Ek was besig met heelwat berigte vir Die Transvaler en Die Vaderland en alles het gelyk gebeur gedurende daardie tyd. Biskop Abel Muzorewa het pas die premierskap oorgeneem, nadat die ou Rhodesië op 31 Mei 1979 tot ʼn einde gekom het. Daar was breedvoerige beriggewing oor die nuwe parlement, al die nuwe ministers en die naderende parlementsopening.
Terselfdertyd het die Zimbabwe-Rhodesiese veiligheidstroepe juis toe lug- en grondaanvalle op Joshua Nkomo se Zipra-hoofkwartier in Lusaka geloods. Daar was harwar oral en ʼn geskarrel om stories persklaar te kry. Ek was dus heeltemal omgeboul toe ʼn sportverslaggewer van Die Transvaler in Johannesburg my skakel en my vra watter perd dink ek gaan die July wen.
July? Watse July? Wanneer? Waar? Watter perde? Hy’t verduidelik dat hulle ʼn peiling doen by al Perskor se buite-verteenwoordigers en korrespondente landwyd om sommer ʼn lekker en ligte leesstorie te skryf oor ons voorspellings so op ʼn distansie. Geen geld betrokke nie, net pret.
Ek het hom gevra om die lys perde se name stadig aan my voor te lees en dan sou ek maar weer op my intuïsie staatmaak om ʼn wenner te kies. Toe hy Over the Air lees, sê ek: Stop! Dis die wenner. Dit kan mos nie anders nie, want hier gesels ek en hy dan “oor die lug” oor die July-wenner.
Nodeloos om te sê, Over the Air het die July in 1979 op Greyville gewen.
Jammer daar was nie ʼn ou meevallertjie vir my trommeltjie onder my bed nie!