Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

6.5.24

Groot Dirk was enig in sy soort

JAN VAN VUUREN skryf: Dirk Benadé, perderedakteur van Die Transvaler in die 1970's en 1980's, is Vrydagaand, 3 Mei 2024, oorlede. Hy was 77 jaar oud. Dirk was in die Garden City-kliniek, Johannesburg om vergroeisels te laat verwyder. Komplikasies het ingetree en het tot sy dood gelei.

Dirk was 'n uiters begaafde sportman wat van jongs af groot potensiaal in rugby en atletiek getoon het. Hy was in standerd 9 toe hy in 1964 vir Die Fakkel Hoërskool, Johannesburg in die Administrateursbeker-eindstryd op Potchefstroom teen Lichtenburg gespeel het. Ongelukkig vir hom, het Die Fakkel met 11-16 verloor.

Hy het as hekkiesatleet aan die Suid-Afrikaanse skolekampioenskap deelgeneem. Weer was dit 'n leerling van Lichtenburg wat hom in die eindronde getroef het.

Dirk Benadie
Ná skool was dit Diggersrugbyklub toe. Hy was een van die jongste spelers wat vir Diggers se eerstespan gespeel het. Later moes hy as slot met Kevin de Klerk en Salty du Randt om 'n plek in die eerste span meeding. Gewis 'n harde neut om te kraak. Hy het ook senior klubrugby vir Nelspruit gespeel.

Op Die Transvaler se sosiale sportfront wou hy niks daarvan weet om rugby te speel nie. Hy was wel lid van die krieketspan. Ek het baie kere die kolfblad met hom gedeel. Omdat hy so groot was, kon hy die bal moker. Hy het gewis sy oomblikke gehad.

Maar rugby was sy hart en siel. Hy was tot die aand van sy dood, 'n  groot Leeu-ondersteuner -- tot my vermaak, want ek het hom gedurig laat deurloop wanneer die BLOU BULLE gewys het wie is baas in die Noorde.

Dirk kon nie name onthou nie. Daarom het hy almal as PAPPIE aangespreek. Rus sag, PAPPIE. Jy was enige in jou soort en ek gaan jou mis.