PIET EBERSÖHN skryf: WIE onthou nog die duur stelsel vir toegangsbeheer wat Perskor in die laat jare sewentig by Aucklandpark laat aanbring het?
Ons het almal kaarte met ons foto’s op gekry wat ons by die deur moes toon.
Ek dink die stelsel het iets soos twee weke gehou, toe breek die masjien om nooit herstel te word nie.
Toe ek nou die dag hier rond krap, kom ek af op ʼn vleiende foto (regs) wat destyds vir die stelsel van my geneem is.Dit laat toe sommer my gedagtes koers vat na die dae toe sekuriteit nog nie die multi-miljoen-rand-bedryf was wat dit deesdae is nie.
Destyds in Auclandpark was dit die streng oom Weyers wat kaalhand die orde moes handhaaf.
Later in Doornfontein was daar die manne by die lang toonbank met die skietyster op die heupe. Die “High Noons”, het Frikkie van der Walt hulle genoem.
Oorkant die straat, by die New Doornfontein Hotel, oftewel Vegkop, was daar die ou Zoeloe, Zebulon, met sy knopkierie, wat male sonder tal moes toesig hou wanneer ons ’n tafel vol bier gekoop het nadat Diamond “laaste ronde” geroep het en die res van die hotelpersoneel huis toe is.
Nog later in Pretoria het ek ʼn interessante drietal sekuriteitsmanne raakgeloop, nou weer kaalhand, maar ek dink daar was iewers ʼn skietding op bystand.Hul bylyn is as “Skieriteit” op die skakelbordlys aangedui.
Daar was oom Henry Naudé, die hoof tot met sy aftrede, wat op sy dag in die Olimpiese proewe geboks het en wat een van die Yskor- manne was wat Wallis toe gestuur is om ʼn hoogoond te gaan afbreek en in Pretoria weer op te rig.
Jannie van Vuuren was sommer Transvaler (nou al sonder die Die vooraan) se sokker- en bofbalkorrespondent ook.
Frank se van het ek vergeet, maar nie dat die wedderspublikasie Computaform sy gunsteling leesstof was nie. En dat hy in Tubby du Preeez ʼn sielsgenoot in perdewedrenne gevind het.