Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

14.10.24

Kuier in boekwinkel red Jan van slae

JAN VAN VUUREN skryf: DIE koop van sportboeke was – en is – nog altyd een van die groot passies in my lewe. So te so dat my kleindogter nou die dag vir my sê "maar oupa het ʼn biblioteek se sportboeke".

Dit laat my terugdink aan ʼn dag in September 1977 toe ek die passie van my onverwags moes toepas.

Ek was aan die werk in die sportkantoor. Rustig en sonder probleme. Die krieketseisoen was om die draai en daarmee saam "scoops"en goeie krieket.

Terwyl ek nog so ongeërgd niemand pla nie, beveel wyle Joe Venter my aan om vir twee ure die gebou te verlaat.

Joe Venter
Hy het pas ʼn oproep van iemand van die Gerrie Coetzeekamp gekry wat hom meegedeel het dat Flip Coetzee, Gerrie se pa, op pad na Die Transvaler  toe is om my te kom "regsien". 

Toe verkas ek maar na Estoril Books in Hillbrow en gaan kyk watter sportboeke het hulle. Ek kon seker nie koop nie, want ek het vir Perskor gewerk. Die "biblioteek"waarna my kleindogter verwys, het eers gekom toe ek my eie onderneming bedryf het.

Wat Flip Coetzee so die duiwel ingemaak het was ʼn ding wat Kallie Knoetze vir my gesê het en ek toe net so gaan skryf het. Alles kan ek nie onthou nie, maar blykbaar het die woorde "Meisie Coetzee" hom oneindig ontstel het.

Wyle Dirk Benade het my jare daarna vertel dat Flip Coetzee in die kantoor by elke lessenaar rondgehop en net gevra het "is dit hy"? Die hy is natuurlik ek.

Toe ek ná so twee ure terug by die kantoor kom, was die Coetzee's weg en kon ek
met my werk aangaan.


Bo: Die subs kon darem ook nie die geleentheid nalaat om (met die fabriek se hulp) ʼn grappie te maak nie.