Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

29.3.23

Eiland van ons drome (2)

PIET EBERSÖHN skryf: EK vertrou julle het nou ʼn glasie ouzo in die hand sodat ons teug-teug, rustig verder kan kuier. 

Toenterjare toe ʼn mens nog na ʼn aftrede uitgesien het, en jy het ʼn afgetredene gevra hoe dit gaan, was die antwoord so te sê sonder uitsondering: “Besiger as ooit.” 

Deesdae besef ek hoe waar dit is. Nie dat ʼn mens meer uitrig nie, nooit gesien nie. Alles duur net soveel langer om af te handel en is ʼn groter gesukkel. 

Nietemin, dit wat ons doen, geniet ons. 

KOM ons klink ʼn glasie

ouzo saam, net so skoon.


Daar is wel die nimmereindigende huishoudelike sleurwerkies, maar ʼn mens laat jou mos nie daardeur ontspoor nie. Gelukkig is ons huisie maar klein en kan ons dit behartig. 

Die poetsvrou kom een keer per week teen sowat R250 vir twee uur se werk. Sy ry met haar eie motor en trakteer ons gereeld met lekkernye uit haar tuin en kombuis. Dis duur, maar daarmee saam besef ʼn mens hoe kosbaar dit in werklikheid is om jou private ruimte meestal vir jouself te hê. 

Ek het nog aanvanklik, danksy die internet, vryskutwerk in Suid-Afrika kon doen, maar dit het mettertyd opgedroog. Toe het ek ʼn boek oor die Oostelike Rugbyklub in Pretoria afgehandel, waaraan ek langer as 30 jaar gewerk het. 

Nou doen ons net die dinge wat vir ons lekker is. 

Die grootste bonus is dat ons nou uiteindelik na hartelus kan lees, iets wat waarvoor daar voorheen selde genoeg tyd was. 

DIE resultaat van 30 jaar se navorsing. 
In 1983 het Rubicon-Pers ʼn lys van “Duisend Beste Boeke” uitgegee. Ons het deur die jare oor die 600 van daardie titels versamel en hoewel baie daarvan reeds gelees is, is daar nog heelwat waarby ons nou eers uitkom. 

Ons het ook ʼn redelike uitgebreide versameling laserskywe met ʼn verskeidenheid musiek van klassiek tot pop en vele tussenin. Ongelukkig reken Mariétte my keuse maak haar meestal mismoedig en mag ek net met oorfone daarna luister – wanneer sy slaap. As sy wakker is, kan ek mos nie met die oorfone op hoor as sy met my praat nie ... 

TV bied nie die groot verskeidenheid waaraan ons in Suid-Afrika gewoond was nie, maar daar is genoeg vir Mariétte om te kyk wanneer sy nie lees, hekel of met haar kralewerk of iets anders doenig is nie. 

Op die koop toe onderhou sy seker een van die uitgebreidste WhatsApp-netwerke wêreldwyd. Sy lees die plaaslike koerante op haar telefoon en Pinterest vul haar tydskrifte se plek. Danksy die internet en Google Translate hou ons darem tred met die Griekse nuus. 

Om die taal te probeer praat, is eenvoudig te moeilik en ons het lankal moed daarmee opgegee. Ons bou maar so veel as moontlik woordeskat op. Omdat die Korfiote so afhanklik van die toeristebedryf is, kom ʼn mens baie ver met Engels. Dit is deesdae ook van die vroeë grade af deel van die skoolleerplan in Griekeland. Dis nogal vreemd om selfs Russe en Bulgare te hoor Engels met die Grieke praat. 

ONS beskeie huisie.
Ek is allermins ʼn telefoonmens, maar probeer wel ʼn Facebook-forum onderhou en dien as administrateur van twee ander. Dan hanteer ek ook ʼn elektroniese geselsbrief vir ons koshuismaats in die vroeë jare sewentig. 

Met ons hele werf onder plaveisel, het ek in potte probeer tuinmaak, en toe probeer om ʼn groentetuin op pote te praktiseer. Laasgenoemde het nie geslaag nie en die “tuin” is nou tot enkele kruie, malvas, ʼn kraanvoëlblom, twee vye- en twee roosbome, alles in potte, gereduseer. Ons koop maar al die groente by ʼn winkel. 

Ons maak steeds graag kos en het nou meer kans om met nuwe resepte te eksperimenteer, maar ons onthaal minder. Die Korfiote hou nie van ons kos nie. Hulle vermy speserye en vind ons kos te skerp; hulle hou nie van ʼn soetigheid in vleisgeregte nie; en verseg om vrugte en groente in ʼn slaai te meng. Waatlemoen en spanspek is nagereg in hul boekie, nie slaai nie. Op die ou end pas dit ons nogal omdat die onthaalkrag minder raak. 

Bo: DIE blik van Kanoni af op Pontikonissi (Muiseiland) agter en die Vlachernon-klooster op die voorgrond is een van die bekendste vergesigte op Korfu. 


  Die Korfiote eet graag braaivleis, maar kuier nie om die vuur soos ons nie. Die braaier maak eenvoudig die vleis op sy eentjie gaar terwyl die res van die geselskap binnenshuis om die tafel kuier – en die glasies kom eers saam met die kos op die tafel. 

Hy gebruik toe blare pleks van korrels.
Die plaaslike worsmakery met kruie pleks van speserye staan ons nie juis aan nie. ʼn Poging om ʼn plaaslike slagter te leer boerewors maak, het misluk. Wat koljander betref, het hy met die eerste probeerslag die blare gebruik. Toe gaan koop ek maar koljanderkorrels en gee vir hom om dit te gebruik. Hy verseg om dit saam met die vleis te maal; dit sal glo sy masjien “kontamineer”. Hy weier ook om soveel in te sit as wat die resep verg. Nou het ek maar besluit om ʼn vleismeul aan te skaf en ons eie te probeer maak – ek moet net die moed bymekaar skraap. 

Uiteet is nie meer so hoog op ons sakelys nie. Die Korfiotiese kos bly lekker, maar dit verloor mettertyd sy opwinding. Geskoei op tamaties, suurlemoensap, oreganum en olyfolie raak dit selfs ietwat vervelig.

Korfiotiese kos is vir toeriste. Hier is boonop geheel en al te veel restourante, wat nie almal die beste kos bedien nie. Dit het nie lank geduur nie voordat ons besef het dat die meeste nie ʼn tweede besoek werd is nie. 

Behalwe vir enkele restourant-ontdekkings weg van die toeristepaaie af, gee ons voorkeur aan restourante met mooi uitsigte. Boaan die lys is die uitsig van die Golden Fox-restourant in Lakones op Paleokastritsa. Dit het boonop een van die beste voorgeregspyskaarte op die eiland en bied ʼn gawe bekendstelling aan die plaaslike kookkuns.


Bo: PALEOKASTRITSA soos gesien uit die Golden Fox-restourant in Lakones is een van ons gunstelinge.

Van die lekkerste is om sommer net in die motor te klim en enkele minute later een van die ongelooflike panoramas van die eiland te geniet. ʼn Mens is nêrens verder as ʼn halfuur se ry van ʼn eksotiese bestemming af nie. En ons geniet die besonderse natuurlike ligskouspele soos sonsondergange en Acharavi se blou uur. 

Bo: AGIOS GIORGIOS-BAAI is nog ʼn panorama wat ons bekoor.

Kuier is steeds ʼn belangrike tydverdryf, maar, soos gesê, onthaal ons nie meer so omvangryk as in Suid-Afrika nie. Ons het nie meer die krag vir twintig, dertig mense nie en nooi selde meer as vier. 

Die lekkerste is as familie, vriende en kennisse van oral oor kom kuier. Behalwe uit Suid-Afrika het ons nou al besoek uit Kanada, die VSA, Argentinië, Australië en die Britse Eilande ontvang. 

Ons het ʼn gastekamer as julle nie te kieskeurig is nie. Julle is welkom en kan talle interessante dagbestemmings van Korfu af bereik. 

Kom ons sluit af met ʼn laaste slukkie ouzo. 

Gia mas! 

Bo: DIE blou uur by Acharavi bied ʼn onvergeetlike belewenis.