PEET VAN STADEN skryf: LAG was maklik … of Essie Esterhuizen in die kantoor, die persbank of op die hoë stoeltjie langsaan in Vegkop was.
Maar dis nou moeilik om oor hom skryf, want Essie was ʼn merkwaardige mens, ingewikkeld in sy oënskynlike eenvoud. Daar was nooit nukke of buie of ego nie. As sportskrywer was hy geen grap nie. Hy was in werklikheid een van die spesiale sportskrywers – en ménse onder hulle – in wat toenemend lyk na die laaste betekenisvolle halfeeu van Afrikaanse sportskrywers.
Johan Esterhuizen is Dinsdag, 6 Augustus op Ballito dood ná ‘n kort siekbed, soos syverwant Emile Smith in K’rant geskryf het. Hy het die vorige dag 76 geword. Eers washy tennisskrywer by Hoofstad en Die Transvaler, en het daarna veral as krieketskrywer by The Citizen en Rapport naam gemaak. Hy was sportredakteur van The Citizen, en het ook uitvoerig oor boks en rugby geskryf.
Essie |
By DT het net getel watter stories almal uitgehaal het, en Essie-hulle het dit met dieselfde oorgawe gedoen waarmee hulle die kuiers ná werkstyd uitgeleef het.
Nie dat dit ‘n voorwaarde was om van hom te hou nie, maar ek en Essie het ‘n raakpunt gehad: albei van Rustenburg af, en uit dieselfde hoërskool. (Terloops, ek het tot my eie verleentheid in K’rant geskryf ek is die oudste lewende sportskrywer van Rapport. Nou sien ek Essie was in werklikheid ‘n dag ouer as ek, al was hy ‘n jaar ná my in matriek. Na dese is ek, ai, natuurlik weer die oudste. Ek én Rapport ervaar nog genade.)
Al was die skool destyds dubbelmedium het Essie gou gebieg oor sy Engels. Ons kon nie die ironie voorsien dat hy sportredakteur by ‘n Engelstalige koerant sou word of dat die nasionale krieketvereniging hom by sy aftrede met ‘n spesiale toekenning sou vereer vir sy diens aan dié sport nie. Net soos hy nooit geweet het in watter rigting van Johannesburg af sy blyplek in Pretoria was nie, was sy Engels gevolglik ‘n bron van baie spottery in die kantoor.
Hy het lustig saamgespot. Sy destydse meisie, Dina, of hy, het êrens aan ‘n hond gekom wat hulle Stoomtrein genoem het omdat dié aardige geluide gemaak het. Die naam het gou sommer Stomies geword. Op ‘n dag in die dierearts se wagkamer het Dina gewroeg dat Stomies nie deftig of Engels genoeg is nie. Teen haar beurt by die toonbank het sy ‘n verbetering bedink: Shto-méz.
Die jonges in die sportredaksie het destyds beurt gemaak met ‘n laat skof wat meestal veranderinge aan die agterblad en omvattende vernuwings aan ‘n binneblad vir die later uitgawes behels het. Dit het drie skofte by Vegkop ingesluit: wag vir die laat stories, tussen die afgooi van die laaste kopie en die steensub, en die lang nabetragting daarna.
Daar drink Essie ‘n Kanadese sportskrywer van The Star, Dan Side, raak. Meertalig vir Dan was hoogstens Frans by sy Engels, gevolglik het hy en Essie net simbolies gekommunikeer. Dieper in die nag het taal en woorde ‘n nuwe betekenis gekry. In die gees van die nuwe kontak het Essie ‘n nagedagte by ‘n standpunt begin met “Oh Dan, from the oz on the eezel ...”
In werklikheid het Essie se Engels hom heel goed oor die weg gehelp, nie net om hom volkome in krieket en by ‘n Engelstalige koerant uit te leef nie. Hy het benewens die uitsonderlike kriekettoekenning ook aansien by sy medesportskrywers verwerf soos sy verkiesing as voorsitter van die Randse Sportskrywersvereniging bewys. Hy is boonop in 2002 as Sportskrywer van die Jaar aangewys.
Sandy Macdonald het vroeër in K’rant vertel hoe Essie die toe onbekende Dale Steyn in ‘n artikel vir ‘n groot toekoms aangeprys het. Dit wys sy insig op sy terrein.
Die merkwaardige is vir my dat hy by Rapport die groot Sondagblad-slaggat vermy het deur nie mense en veral spelers af te kraak nie. Om dit reg te kry en nog ʼn volle kwota sterk stories te lewer, bestempel Essie klaar as een van die uitgelesenes. Dat hy sy geesdrif behou en sy skryftalent gebly slyp het tot sy aftrede verdien verder lof.
Maar miskien is die nog groter onderskeiding dat niemand dié opmerkings by hom self gehoor het nie. Wanneer ander dit raaksien, hoef jy dit nie self te sê nie.
Sportskryf was vir Essie ʼn voorreg … om te kon skryf oor sport en sy kolosse, en om die sportskrywers op die agtergrond te hou waar hulle hoort.
HERMAN LE ROUX, ʼn gewese sportredakteur van Beeld, skryf: Dit was ‘n voorreg om Essie as lid van my sportredaksie te hê in die jare tagtig en negentig.
Die veelsyduge sportskrywer was kalm en rustig en het sy werk deeglik gedoen.
Sportlui oor wie hy geskryf het, praat met groot lof van hom.
HANNES SCHOEMAN skryf: Ek sal Essie altyd as ʼn uitmuntende sportskrywer en mens onthou.
Altyd vriendelik en altyd netjies.
Wat ek altyd van Essie sal onthou voer my terug na 1982 toe ek by Die Transvaler aangestel is deur Pieter Coetzee, pa van die voormalige provinsiale rugbyvleuel en akteur, Deon Coetzee.
Ek beland toe op my eerste Sondag-skof saam met Essie op kantoor. Ek hoor toe Essie sê hy gaan ’n internasionale oproep maak.
Komende van die Baai waar ons maar meestal plaaslike sterre en sportbase vir stories gekontak het, val ek toe byna van my stoel af toe ek hoor Essie praat met Muhammad Ali se afrigter, Angelo Dundee, in Amerika.
Genugtig, het ek gedink. Hoor ek reg? En wat ʼn rillerstorie het die Maandagoggend op ons sportblaaie gepryk!
Dis tóé dat ek besef het ek is nou in ’n heel ander liga as in Port Elizabeth.
JAN VAN VUUREN skryf: Al die ouens in die kantoor - behalwe ek - was slapgatte om die papierwerk te doen om eise af te handel wanneer jy op 'n "trip" was. Essie was die slapgatste.Een maand toe kry hy bykans geen salaris nie. Al die "tripgeld" is doodeenvoudig afgetrek omdat hy nie die strokies ingedien het nie.
Ek sê toe vir hom om die strokies vir my te gee dan help ek hom gou daarmee. Ek verwerk dit toe. Essie gee dit in en binne dae toe het hy geld.
Die Saterdagoggend daarna is daar 'n klop aan my woonstel se voordeur. Essie. Hy vra dat ek net gou saam met hom ry. Hy ry toe na 'n sportwinkel toe en koop vir my 'n paar kolfhandskoene om dankie te se omdat ek hom gehelp het.
Dit was Essie.
Peet van Staden (sportredakteur) het ʼn jong meisie in die sportkantoor aangestel. Met ons taalgebruik was dit nie ʼn baie goeie besluit nie. Dit was rof, want almal was jonk en onbeskof. Maar veral Dirk Benade en Essie was "uitblinkers".
'n Graaf was 'n graaf.
Só moes ons by geleentheid almal met aandpakke aan ʼn geleentheid bywoon,. Almal huur en gee terug. Nie Essie nie. Die aandpak vergaar stof in sy blyplek. Toe kontak die ou hom. ʼn Goeie argument was die gevolg.
Die meisie was in die kantoor en Essie sê vir die ou prontuit en sonder omhaal van woorde wat hy van hom dink. Kliphard. Doodse stilte in die kantoor.
Maar toe gaan hy nog verder. Hy bring die aandpak werk toe. Hy heg ʼn nota daaraan waarin hy vir Johan van Wyk vra om dit asseblief by die ou te gaan aflewer. Hy gebruik weer die gewraakte woorde om die ou mee te beskryf. Johan doen dit, maar vergeet om die nota te verwyder.
ʼn Ruk daarna bel die ou vir Essie om dankie te sê. Hy gebruik toe ook maar die woorde waarmee Essie hom beskryf het, om hom bekend te stel.
Terloops, die meisie het spoedig bedank.
Dit is hoe Essie was. Mag hy salig rus.
FRANS ROODT skryf: Die groot bome val nou die een ná die ander.
Die jongste is oud-kollega Johan (Essie) Esterhuizen wat verlede Maandag (29 Julie 2024) , ʼn dag ná sy 76e verjaardag, oorlede is.
Essie het jare lank by by Die Transvaler en later by Beeld as krieketskrywer gewerk en word onthou vir sy humor en groot geesdrif vir en kennis van die wilgerlatsport.
Vele kollegas onthou sekerlik die “ groot krieketwestryde” wat in die kantoorgange met ʼn papierbal gespeel is en die uitbundige wedywering om die meeste lopies aan te teken.
Johan Esterhuizen laat goeie herinneringe na, en eer ons sy nagedagtenis.
WIM VAN DER BERG skryf: Ou Essie was ʼn lekker kollega. Dis nie net ʼn persoonlike mening nie, maar een wat verreweg die meeste van die mense, kollegas en andere, oor die gemoedelike ou lang skrale sal deel.En hy was dikwels, só baie, baie dikwels, sommer baie snaaks sonder dat hy probeer het om snaaks te wees. Dít kan ʼn mens seker aan sy droë humorsin toeskryf.
Een episode van ʼn ontstelde Essie sal my langer as ʼn paar ander dinge bybly.
Ek het destyds krieket by Die Vaderland geskryf nadat ek van Oggendblad soontoe "oorgeloop" het. Maar benewens dat ek daagliks die trein vanaf Kloofsig in Verwoerdburg moes haal en onvermydelik elke dag sewe minute laat by die Vaderland-kantoor, oorkant die pad van Vegkop, ingestap het, het ek ook soos baie ander my karige Perskor-salaris probeer aanvul.
Dít het ek gedoen deur ná my skof by Die Vaderland so drie, vier maal per week by Die Transvaler in die sportkantoor te gaan sub wanneer ek nie, soos die gebruik toe was, by die jaar- of maandelikse vergaderings van die Transvaalse krieketklubs moes opdaag en ʼn storie probeer kry nie.
Ek en Essie was by ʼn paar geleenthede saam by gemelde vergaderings waarna ek vinnig na Die Vaderland toe is en die laaste trein van Elliparkstasie af na my huis in Lyttelton gehaal het.
■ Ons lekkerste afwisseling met die krieket se sleurwerk was wanneer ons drie dae (in daardie tydperk) by die Wanderers kon (moes!) sit en Curriebekerkrieket kyk.
En so sit ons twee, ek en Essie, op die betrokke dag saam met die manne van die ander dagblaaie en krieket kyk – hoog in die lug bokant grondvlak, in lyn met die kolfblad en ons kyk vanaf die goedgeleë persbank na die krieket. Lekker!
Dit was in die dae nog baie lank voor selfone. Ons het nog daardie yslike swart poskantoor-telefoongehoortstukke gebruik waar jou buurman in die persbank ʼn volle gesprek op jou foon kon volg.
En ek hoor toe, sonder dat ek van meeluistering beskuldig kan word, elke woord wat ʼn inbeller na Essie met hom bespreek. Dit het oor ʼn (beweerde!) agterstallige rekening van Essie gegaan wat hom letterlik rooi onder die kraag gehad het.
Hy was redelik ongeskik met die beller, wat weer en weer gebel en probeer onderhandel het.
En dis tóé dat die inbel-man, gewis nie ʼn vriendelike kêrel nie, die fout maak om aggressief vir Essie aan te sê om te betaal en dit die volgende oggend met hom te bevestig.
Sy telefoonnommer het ek toe al amper geken, en ek krabbel dit op n stuk papier, my plan klaar gesmee.
ʼn Uur later, ná die dag se spel, is ek na Die Transvaler toe vir my subsessie, en kom gerieflik voor Essie daar aan. Ek sak toe voor sy tikmasjien op die stoel neer en draai een van daai halwe A4-velletjies in waarop ons ons kopie by Perskor gepleeg het. En in hoofletters tik ek toe op die bladsytjie iets soos die volgende:
"Essie. Ene (die skuldeiser-man se naam wat ek toe "onwettig" had) het netnou gebel. Hy het jou naam by hulle prokureur ingegee oor die agtersallige bedrag en vra dat jy hom dringend moet skakel. Hy klink baie aggressief”
Ek tik toe maar Peet van Staden se naam onderaan, en gaan sit onskuldig en begin met my subwerk.
Tien minute of so later kom ou Es toe ook daar aan, sit sy besittings neer en trek die velletjie papier uit die tikmasjoen se roller uit.
Hy het gelees, so 10, 15 sekondes ongelowig na die velletjie papier gestaar, en toe met ʼn "hy soek nou groot moeilikheid" die man se nommer vanaf sy lessenaar begin skakel. Dit was al goed na-uurs, maar Essie was boos, bekommerd en veral dik vir die vent …
En dis hoe ek hom van die spanning verlos het … en kortstondig die teiken van sy frustrasie geword het!
Ek en Essiehet ʼn wedstryd of twee saam laerliga-krieket gespeel en darem ook, waar ons oorvleuelde tyd dit toegelaat het, saam by Vegkop oor hoofsaaklik sport gesels. Ek het hom die afgelope jare bitter selde gesien, die laaste keer seker so 10, 12 jaar gelede by Piet Ebersohn-hulle in Pretoria, maar dink darem taamlik gereeld nog aan van ons gesprekke en doen en late terug.
Essie
was ʼn goeie ou, ʼn opregte ou en ʼn lekker ou om mee saam te sit en
te gesels …