Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

3.7.23

Die slang in die brandewyn

HANLIE VORNBERG skryf: WAT vir my hierdie storie besonders interessant maak, is die feit dat ʼn voorvader van my hier ʼn rol gespeel het. 

My ouma was ʼn Kirsten uit Darling en oor dié betrokke familie bestaan heelwat geskrifte uit die ou Kaap. 

Johann Friedrich Kirsten, was in diens van die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie en het voor 1740 uit Duitsland in die Kaap aangekom.

Hy was een van ʼn groep hardwerkende Lutheraanse ondernemers wat in die Kaap groot sukses behaal het.

In die somer het die familie in hulle pragtige herehuis, Alphen, in Constantia, gewoon.

Dit was hier waar Anders Sparrman, die Sweedse geneesheer, wêreldreisiger en natuurkundige, ʼn tyd lank die Kirsten-kinders privaat onderrig het.

Om aan die Kaap botaniese en dierkundige spesies te ondersoek, moes Sparrman ʼn private persoon vind wat hom met ʼn bepaalde opdrag sou laat kom, die reis sou betaal en by wie hy kon woon. 

Regs:  Die mooi herehuis, Alphen in Constantia. Hier het Sparrman by die Kirsten familie gewoon. Vandag is dit 'n luukse hotel en in besit van die familie Cloete.

Kirsten het 'n geleerde gesoek wat sy kinders in wiskunde, geografie, Engels en Frans kon onderrig.

Sparrman was een van die beste studente van Carolus Linnaeus (1707 – 1776) die beroemde Sweedse natuurkundige wat die binomiale terminologie vir die klassifisering van plante en diere ontwikkel het. Sparrman word ook as ʼn voorloper van Charles Darwin beskou.

In sy boek “A Voyage to the Cape of Good Hope towards the Antartic Polar Circle round the world and the country of the Hottentots en the Caffres from the year 1772 – 1778” beskryf hy onder andere alles wat hy op sy binnelandse reistogte saamgeneem het.

Hy was gewoonlik op pad in ʼn ossewa met vyf paar Khoi-Khoi werkers wat vir allerlei take op pad verantwoordelik was. 

Hy het verskillende soorte medisyne met hom saamgeneem. Dit was nie net vir sy eie gebruik nie, maar ook vir boere by wie hy op pad ʼn nag oorgebly het. Op die afgeleë plase was medisyne skaars en dit het tot die gasvryheid van die boeregesinne bygedra.

Verder het hy glaskrale, koper tonteldose, messe en tabak saamgeneem. Dit was die ware wat veral die Khoi-Khoi-bevolking baie geïnteresseer het. Onder die voorraad was ook papierstroke om plante op uit te droog, spelde en dosies vir insekte en ʼn eiekehoutvat vol brandewyn waarin hy slange en ander dierspesies kon konserveer.

Hulle het ook genoeg naalde ingepak en gehoop dat indien hulle seile of klere moes regmaak, die boeredogters op die plase behulpsaam sou wees.

Van die dertig pond buskruit het hulle klein hoeveelhede daarvan in kruithorings gestop en die res in ʼn leersak uitgeskud en in die wakis toegesluit, sodat die Khoi-Khoi met hulle rokende pype nie naby die kruit kon kom nie.

Links: Sparrman het verskillende binnelandse reise in die Kaap onderneem. In 1772 het hy vanaf Alphen vertrek.

Daar was ook ʼn goeie voorraad tee, koffie en sjokolade. Dit was hoofsaaklik vir eie gebruik, maar weer eens het die boere wat ver van die Kaap af was, nie altyd hierdie dinge tot hulle beskikking gehad nie.

Sparrman se brandewyn vir die eikevat met die monsters van die diere, het egter altyd weer opgeraak en onderweg moes hy oorweeg hoe om dit weer aan te vul. So het hy op ʼn dag by ʼn voormalige pasiënt in Caledon, weer brandewyn teen ʼn redelike prys gekoop.

Nadat hy die eikevat met genoeg brandewyn gevul het, het die Khoi-man wat die wa gedryf het, aangebied om met die wa vooruit te ry, terwyl Sparrman op een van die plase vir middagete genooi was. Hy sou later die Khoi-Khoi drywer te perd weer inhaal.

Op pad terug na die wa toe, het hy ʼn dronk setlaar teëgekom, wat hom vertel het dat die Khoi-drywer saam met hom van die brandewyn uit die vat gedrink het. 

Toe hy by die wa kom, moes hy vasstel dat die hoenderkop drywer ʼn klomp bottels met brandewyn gevul en intussen heelwat beskonke vriende by hom gehad het.

Die slot van die vat was oopgebreek.

Sparrman en sy vriend het die volgende dag ʼn slang gevang en het dit voor die oë van die Khoi-Khoi in die vat met die brandewyn gegooi. Hulle het die werkers gewaarsku dat hulle van die slanggif sou oopbars indien hulle van die brandewyn sou drink.

Die Khoi-Khoi het hulle egter min aan die dreigemente gesteur en hulle enigste reaksie was dat hulle die slang beny wat in so ʼn heerlike element verdrink het!

Die Sweed het later vasgestel dat die Khoi-Khoi-stamme was nie bang om slanggif te sluk nie.

Inteendeel, ʼn klein dosis gif met water vermeng is as ʼn effektiewe teenmiddel gebruik.

ʼn Ander reisiger, Thunberg, het berig dat die Khoi-Khoi hulle van slange laat pik het om 'n weerstand op te bou. Die urine van so 'n persoon is gevolglik as ʼn uitstekende teenmiddel beskou.

Regs: Anders Sparrman op 'n Sweedse seël.

Sparrman het besef dat sy eksperiment met die slang in die brandewyn, nie die Khoi-Khoi daarvan sou weerhou om van die brandewyn uit sy vat te tap nie.

In Botrivier het ʼn slaaf weer eens homself dronk gedrink aan die alkohol in 'n fles waarin hy 'n padda en die fetus van 'n ystervark bewaar het.

Eers later op die reis, as gevolg van bepaalde omstandighede wat gevolg het, het die brandewynvat vir die werkers sy groot aantrekkingskrag verloor.

Die klomp verskillende diermonsters in die brandewyn is deur die gestamp van die wa aan stukke en flarde geskud. 

Soos die son weke lank op die brousel geskyn het, was die alkoholdampe so afstootlik dat ook die Khoi-Khoi nie meer kans gesien het om die brandewyn te deps nie!

Toe Sparrman in 1772 tydelik uit die Kaap weg is om saam met kaptein James Cook op sy tweede reis na die Suidpool te vaar, het hy al die monsters van plantsoorte by Kirsten gelos met die opdrag dat indien hy nie terugkeer nie, laasgenoemde dit aan Linnaeus in Swede moet stuur.

In 2008 het die Sweedse skrywer Per Wästberg ʼn historiese, biografiese roman oor Sparrman se reise geskryf: “The Journey of Anders Sparrman”. 

Bo: Die boek van Wästberg wat in 2009 verskyn het.

Wästberg was lank ʼn lid van die komitee vir die Nobelprys in Letterkunde. Sy styl herinner aan dié van die historiese romans van André P. Brink. Soos by Brink beweeg die boek oor Sparrman tussen feite en fiksie. Ook die Kirsten familie kom voor. Feitelik en deels fiktief. 

Dit was nogal prettig om op dié stadium, in 'n moderne roman, oor ʼn voorsaat te lees wat so lank gelede in die Kaap van Goeie Hoop geleef het.