Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

12.12.23

Toetsrugby op sy beste en regte sneeu in Parys

KARIN PRETORIUS skryf: EEN Sondagmiddag in November 1968 verskyn daar ʼn kennisgewing op die bord in Londen se Oversears Visitors’ Club (OVC) in Earls Court vir kaartjies na Parys vir die Springbokke se tweede rugbytoets teen die Franse. My oë rek wyd en vir ʼn oomblik vergeet ek skoon van Ma se skaapboud en gebakte aartappels tuis in Pretoria. Want ná sewe maande in Londen vir werk by die SA Sitrusraad as ʼn “Outspan Girl’, was dit al waaraan mens kon dink op ʼn nostalgiese Sondagmiddag. Veral as die koue waarvan jy nog net gehoor het, begin hap-hap het aan jou langbroek en stewels.

Die kaartjie vir die wedstryd op 14 November 1968 by die Stade Yves-du-Manoir in die Colombes-gebied digby Parys, het ʼn sitplek op die paviljoen en ʼn retoervliegkaartjie van Londen na Parys vir die naweek ingesluit. Huisvesting moes self gereël word, maar pensionne in die nou straatjies van Parys was nie te moeilik bekombaar nie.

Vriendin Sue Davies van Durban en ek het sommetjies gemaak en toe ʼn vriend John Robson, bestuurder by die OVC, sê hy gaan saam om ons op te pas, het ons nie vir ʼn oomblik getwyfel of geweifel nie. 

Op daardie oomblik was dit vir my die naaste wat ek darem ʼn bietjie Suid-Afrika kon raak kuier om die verlange te stil. Wat ʼn heerlike gedagte om ander Suid-Afrikaners daar raak te loop, Afrikaans te kan praat, om swaaiende vlaggies met sy oranje, blanje, blou te sien, die Bokke in groen en goud en dan – van alle dinge – luidkeels en sekerlik heeltemal aangedaan, die vooruitsig om Die Stem uit volle bors te kan sing. 

So land Sue, John en ek die oggend van 13 November in Parys na ʼn kort vlug van Gatwick-lughawe oor die Engelse kanaal na Orly-lughawe. Ek kan nie juis veel detail onthou nie, maar genoeg om te kan skryf dat ons ʼn pension naby die rugbystadion gekry het en dat dit bitter koud in Parys was. 

Daar was kans om vir die dag bietjie rond te loer na van die besienswaardighede voordat ons die volgende dag rugbystadion toe is, onthou ek nog.

Karin en vriende by die toets in Parys.
My hart het in my keel geklop toe ek al die SA vlaggies sien en Sue en ek het saam met die Afrikaanse toeskouers ‘Bokke’ geskree. Selfs John – ʼn Ier in murg en been – het gesê hy skree liewer vir die Bokke as die Franse! 

Toe kom die groot oomblik toe die Bokke met hul groen-en-goud-truie en wit broekies op die veld verskyn, gelei deur kaptein Dawie de Villiers met sy kenmerkende goue kuif. Die aantree vir die sing van Die Stem en ja – ek was nie net bewoë nie – die trane het gevloei. Maar sing, het ek gesing. 

Die tweede toets was deel van die SA Rugby-unie se nasionale rugbytoer in Oktober en November 1968 na Frankryk. Met Fritz Eloff as bestuurder, Johan Claassen as afrigter en Dawie de Villiers as kaptein, het die Bokke vyf uit die ses wedstryde gewen. 

Daar was geen reën op hierdie bibberende winterdag in Parys nie en die veld was hard en droog wat glo – volgens sommige kenners – ideaal was vir hardlooprugby. 

Die Franse het die eerste punte aangeteken met twee skepskoppe terwyl die Bokke se Piet Visagie sy strafskop suksesvol deur die pale gestuur het. Drieë deur Jan Ellis en Syd Nomis is nie toegeken nie.

Teen rustyd was die telling 6 – 3 in die guns van die Franse. Hierna het die Bokke begin vaart optel. Ná sowat twintig minute in die tweede helfte het Jannie Engelbrecht volgens kenners een van sy beste drieë in toetsrugby aangeteken. Dit het gebeur nadat Mannetjies Roux ʼn los bal wat reg geval het, opgepik en nadat die bal deur verskeie hande gegaan het, het Frik du Preez vir Jannie Engelbrecht in besit gestel wat na buite en na binne geswenk het voor hy oorgeval het vir sy drie. 

Kort daarna het Dawie de Villiers sy kans benut toe hy weggebreek het van ʼn skrum en dwarsdeur gehardloop het om te druk sonder dat ʼn vinger op hom gelê is. Visagie het die drie vervyf. 

Daar was die epiese voorval wat menige rugbyliefhebber sal onthou. Nomis het die bal aangedribbel, hy’t geval, opgestaan, weer geval met ʼn kramp in sy been, het in stadige aksie vorentoe na die doellyn gekruip en net voor die verdediging hande op die bal kon lê, het Syd daarin geslaag om op die bal te val. Visagie het weer daarin geslaag om te vervyf en het altesaam sewe punte met sy skopskoen aangeteken. 

Die finale telling was 16 – 11 in die guns van die Bokke, ʼn tweede oorwinning in die reeks met die eerste toets wat die Bokke met 12 – 9 in Bordeaux gewen het. 

Dr Danie Craven het na die tyd gesê dit was die beste toets wat hy nog gesien het, want dit was hardlooprugby, so na sy sin. Daar is selfs later na hierdie wedstryd verwys as die beste spel deur die Bokke in die geskiedenis van rugby. 

Die volledige span was: heelagter: H.O de Villiers; vleuels: Syd Nomis en Jannie Engelbrecht; senters: Eben Olivier en Mannetjies Roux; skakelpaar: Dawie de Villiers en Piet Visagie; voorry: Mof Myburgh, Gys Pitzer en Hannes Marais; die twee slotte: Frik du Preez en Gawie Carelse; die losvoorspelers: Jan Ellis, Piet Greyling en Tommy Bedford. 

Natuurlik het ons gejuig met elke punt van die Bokke en ek kan onthou dat ons daarna verder fees gevier het, eers by ʼn Franse kroeg met rugbyondersteuners en daarna in John se pensionkamer. Ons het êrens by ʼn winkel goedkoop Franse wyn gekoop – wat steeds lekker gesmaak het – en radiomusiek het geblêr, maar teen middernag het die bestuurder ons kom stilmaak – die bure het gekla en dit was tyd om te slaap. 

Die volgende oggend toe ons uitstap vir ons taxi na die lughawe het ʼn wonderlike verrassing op ons gewag: die eerste wintersneeu van Parys het oornag geval en die wêreld in wit getooi. Dit was die eerste keer dat hierdie Pretorianer sneeu sien – regte sneeu. Nie soos in 1964 nie, in prof. At Pelzer se geskiedenisklas toe iemand die gang afgestorm het en by elke deur geskree het: “Dit sneeu by Joubertpark in Johannesburg”. 

Net daar het ons boeke toegeslaan, die prof. het sy hande saamgeslaan en ons het klas ge-“bunk” om te gaan kyk, maar as ʼn vlokkie op die grond geval het, het dit gesmelt. So sien ek toe regte sneeu en die skoonheid van ʼn ongekende spierwit wêreld was ʼn wonderlike afsluiting na ʼn heuglike en onvergeetlike Springbokoorwinning in Parys.