Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

12.7.24

Uitweg uit Unisa-doodloopstraat

KARIN PRETORIUS skryf: EK skryf met betrekking tot Andries Burger se navraag op K’rant en die redakteur se opmerking.

Ek het die voorreg gehad om As Burger in 1972 te ontmoet toe hy by ons op die plaas naby Swartruggens kom kuier het. Dit was tydens die Vonsteen-verhoor en my man, Kas van den Bergh, was besig om ʼn boek daaroor te skryf. Hy het adv. Burger oorgenooi om gedagtes met hom oor die verhoor te wissel. 

Dit was ʼn wonderlike ervaring om na die gesprekke en kennis van die twee regsgeleerdes te luister. Ek het in die kort tydjie adv.Burger as ʼn stil, rustige en innemende mens leer ken.

Ek het moeite gedoen om navraag te doen oor die gerief wat Unisa aanbied om ou koerantartikels uit hul argief vir die publiek op te spoor wat ek al voorheen gebruik het, maar soos K’rant se redakteur meld, het dit in ʼn doodloopstraat geëindig.

Die goeie nuus is dat ek ʼn vriendelike en behulpsame beampte in hul inligtingskantoor opgespoor het wat met hierdie diens en navrae kan help. Hy is verder selfs bereid om enigeen wat belangstel aanwysings te gee hoe om self op die internet te gaan en in Unisa se koerantargiewe navorsing te doen oor waarna hulle ook al soek.

Dit klink na ʼn gulde geleentheid vir ons almal en ek gee hiermee die kontakpersoon se besonderhede 

  • Henry Matjima
  • Epos: matjimh@unisa.ac.za (sy van is in sy epos sonder die ‘a’).
  • Tel: +27 12 429 8825