PIET EBERSÖHN skryf: DAAR het jy dit nou. Ek kry toe hierdie briefie van Karin Pretorius af in die pos.
“Jy het almal nou al aan die skryf gekry oor Perskor en wat hulle tans doen. Wil jy nie iets oor jouself en die lewe op Korfu skryf nie met pragtige foto’s waar julle bly en hoe die eiland deesdae lyk? Dit sal mos nou baie interessant wees.
”Hoe kan ek nou weier sonder om myself in die voet te skiet? Soveel skrywers het al op my versoek namens K’rant gereageer; soveel ander het belowe en ek maak daarop staat dat hulle hul beloftes nakom. Daar moet dan seker nie ʼn beskuldigende vinger na my gewys word nie.
Dit sal vroeg November ses jaar wees sedert ons permanent op Korfu voet aan wal gesit het, en al is ons al goed ingesete leer ons nog gereeld iets nuuts om die lewe interessant te hou.















































