HANLIE (SWANEPOEL) VORNBERG skryf: DIT is vanjaar ses en veertig jaar gelede dat ek Suid-Afrika verlaat het om my hier in Wenen te kom vestig. My man, gebore en getoë in Oostenryk, het op ʼn dag gesê ons verlaat die land en het dadelik met die kinders begin Duits praat.
Dit was die tyd van ʼn holderstebolder Suid-Afrika. Daar was angs en onsekerheid, opstande in die hele land, sanksies en boikotte en diegene wat kon uitwyk het begin koerskry in alle rigtings.
Toe dit by my begin insink dat ek die land en veral die Kaap moes verlaat, het ek meteens bemerk hóé skoon en blouselblou die lug bo my kop is. Ek het geweet dat dit ʼn seer en uitgerekte afskeid gaan wees.
Elke dag het hartseer ingehou. Die aflê van een of ander bekendheid of bemindheid.
Banale dinge soos ʼn Kaapse windvlaag, ʼn kwikstertjie wat oor die grasperke wip, die buie van die see of die geur van ʼn pot boerekos wat van elders by die venster inwalm.
Ek het begin om bekende gesigte en besondere voorvalle, soos briewe in 'n laai te bêre, om
dit dan later, op ʼn leë dag uit te pak en die tyd daarmee te vul. Ek het gedelf tussen flentertjies opgaargoed, ou foto’s, gediggies, briewe en kaartjies, vergete manuskripte wat nooit gepos is nie. Alles geliefde stukkies legkaart wat 'n hele verlede kan bou en padkos verskaf vir ʼn groot hongersnood wat dalk mag kom.
Wanneer 'n mens jou land verlaat om elders van vooraf te begin, is dit asof iemand die vaste stukkie aarde waarop jy staan, brutaal onder jou voete uitpluk! Alles wat jy geken en gekoester het, is meteens weg.
Tuis, was ek 'n gevestigde joernaliste met ʼn persoonlike twee-weeklikse tydskrifrubriek.
Ek was ook iemand se dogter, iemand se vrou, 'n gerespekteerde kollega en ʼn goeie vriendin.
Hier in Wenen het niemand my geken nie. Suid-Afrika was daardie tyd ʼn politieke turksvy en ek moes dikwels vir my land in die bresse tree, sonder om die politieke beleid te verdedig.
Ek het niks gehad waarmee ek kon roem nie! Nie eens my studies aan die Universiteit van Stellenbosch is hier erken nie. Ek was slegs die uitlander-vrou van ʼn man wat sy vriende en familie, sy kultuur en opvoeding hier gehad het.
Jy begin met 'n silwerskoon lei en jou griffel wil ook nie aldag reg skryf nie! Gelukkig kon ek my rubriek “Doodluiters” by Rooi Rose behou en moes dit elke twee weke met die pos Johannesburg toe stuur.
Links: My rubriek onder die naam Doodluiters, het in 1971 in Rooi Rose begin. Bennie Fritz was die assistent-redakteur en het ʼn inleiding geskryf om my aan die lesers bekend te stel. Die rubriek was ʼn groot sukses en het bykans tien jaar geloop.
Om in ʼn vreemde land te woon, jou inkope te doen, jou huishouding te organiseer, siek kinders dokter toe te neem, met kleuterskole te onderhandel en telefoongesprekke in ʼn vreemde taal te voer, kortom, om behoorlik met vreemde mense te kommunikeer, is soms baie frustrerend en selfs vernederend.
Ek het aangehou om met my twee kinders Afrikaans te praat. Hulle is albei in Suid-Afrika gebore en dit was vir my belangrik dat hulle kontak met die land behou. Wanneer jy soms hartseer of selfs knorrig is, stol jy in ʼn vreemde taal en dit is juis sulke tye wat jy met jou familie in jou moedertaal wil kommunikeer. En hoe vertaal jy sulke lekker lawwe woorde soos sommer, kamma en hoeka!
Vandag praat hulle meerdere tale en Afrikaans is die klein pasella wat hulle van my kant af bygekry het. My stoerheid met die Afrikaans, het nie oral byval gevind nie.
Sommige het dit as 'n nuttelose taal afgemaak.
Ek huldig egter die standpunt dat geen taal waardeloos is nie, Enige taal is ʼn verryking en verskaf toegang tot die karakter en siel van ʼn volk.
NP Van Wyk Louw het wanneer hy oor die verrassende opkoms van Afrikaans gepraat het, homself soos volg uitgedruk: Kyk, honderd jaar gelede het ons NIKS gehad nie en vandag besit ons IETS, wat nie niks is nie!
Wenen lê in Sentraal-Europa en die klimaat word sterk deur die Alpe beïnvloed.
Regs: Ek en my twee kinders, Birgit en Christian, ons eerste herfs in die Weense
Woude ... 1976
Die winters is lank, koud en mistroostig.
In November hang die hemel laag vanweë die grou newels en die boomtakke staan kaal en in rou teen die grys lug.
In my was daar dikwels ʼn grenslose verlange na die son. Strande en tuine vol son.
Son in die bont vygies van Namakwaland, in die rooi aalwyne van Riversdal, in die krone van die madeliefies en son in elke bondel vars wasgoed wat ek van die draad afgehaal het.
Die geel, suidelike son wat selfs ʼn winterdag kon opkikker en in elke vertrek en hoekie kom hurk het.
Toe op 'n dag het dit hier in Wenen begin sneeu. Dit was ʼn ware wonder. Ek was skoon aangedaan.
Die wit vlokkies wat soos gepluisde watte oral op die ou geboue, in die tuine en strate en op die mense neergestuif het.
Binne enkele minute was die hele wêreld wit. Dit was stil. Selfs die verkeer was bykans geruisloos.
Ek kon my eie voetval nie op die sagte sneeu hoor nie.
Dit was skielik ook nie meer koud nie. Die lug was vars en skoon.
Ek het besef dat die wonders van die skepping alomteenwoordig is. Oral waar 'n mens jou bevind.
• Ook hier in Wenen.
My joernalistieke agtergrond: Ná matriek het ek Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch studeer. Later jare ook nog vier jaar kunsgeskiedenis by Unisa.
Ek was een van die agt studente in Hermie Hendriks se Joernalisteskool in 1970. Net daarna het ek by Rooi Rose begin en het artikels, kortverhale en ʼn rubriek geskryf. Die naam van die rubriek was "Doodluiters" en het bykans tien jaar bestaan.
In 1976 het ek Wenen toe gekom ... en nog elke twee weke die rubriek met die pos Johannesburg toe gestuur. Hier in die buiteland het ek vryskutwerk gedoen vir Rooi Rose, Sarie en DEKAT. Ek het ook soms nuusbriewe vir die radio geskryf.
Ek het in 2010 ʼn boek in Duits gepubliseer met die titel: Wien der guten Hoffnung (Wenen die goeie hoop) soos Kaap die Goeie Hoop.
Die boek was terapie nadat my huwelik van oor die veertig jaar ongelukkig op ʼn einde was.
• Hanlie het reeds 19 bydraes vir K'rant gelewer. Lees hulle HIER.