Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

26.9.22

Karin se sabbatsreis langs Bloubergstrand

KARIN PRETORIUS skryf: Sondag ná Sondag het ek die sowat twee kilometer van my woonstel in Bloubergstrand af na die Remaxkantore afgelê om my skouborde en sware hammer te gaan haal vir skoudag – og! Maar die rit was al langs die see af met Tafelberg dáár en die wit branders híer – h’mm! En sesuur, ná skoudag, weer die terugtog langs die see met die westerse son wat ʼn blink streep op die water trek – aha! Wonderlike vertroosting na ʼn middag se harde werk.

Dit het my skuldig laat voel om as eiendomsagent die Sabbat só te ontheilig, sekerlik sal dit nie ongestraf bly nie? Met my rit al langs die see, het die woord “sabbatsreis” by my opgekom, en die verklarende woordeboek het dit só gestel: ʼn sabbatsreis is ʼn bepaalde afstand, sowat 2 000 treë, wat die Israeliete toegelaat was om op die Sabbat te reis. Aha!

En daar voel ek toe sommer beter! Die 2 000 treë is mos die sowat 2-km-rit van my byplek na die kantoor en sedertdien is die verwysing na my woning: My sabbatsreis langs Bloubergstrand.

Bloubergstrand was die keuse om nes te skop nadat ʼn aftreepakket by die SA
Kommunikasiediens (die ou Departement van Inligting) my op 52 jaar aangebied is en waar ek die gaste-afdeling behartig het. Ons moes die regering se oorsese gaste, hoofsaaklik dié van Buitelandse Sake-minister, mnr. Pik Botha, ontvang en vir hulle ʼn program uitwerk volgens elke gas se behoeftes en belangstellings, vir onderhoude, besienswaardighede en dies meer.

Op hierdie ouderdom was ʼn inkomste steeds nodig en die besluit was toe om as eiendomsagent by Remax aan te sluit. Dit was baie hard werk, maar twaalf jaar later het ek die tuig neergelê, nie as pensioentrekker nie maar as “afgetredene” – my vriendin sê die woord klink altyd beter, jonger en meer voortvarend.

Die lenteblommetjies steek kop uit in Bloubergstrand.
Bloubergstrand is ʼn wonderlike aftreeplek vir bejaardes. ʼn Mens is omring van alle geriewe met selfs ʼn hospitaal en biblioteek. Daar is baie restaurante en koffiewinkels - dié kant toe loop jy na Ons Huisie vir ʼn glasie wyn en seekos onder die sambrele op ʼn windstildag en dáái kant toe loop jy agter al die geure en reuke aan waarmee ander eetplekke jou nader lok.

Selfs die woonstelblok is gerieflik vir krankes, want met die hyser is jy onder tot op straatvlak, gemaklik en sonder hindernisse oor die straat tot op die strand, selfs met ʼn rolstoel en krukke. En dan sit jy daar op die bankie tussen die geel Namakwalandse madeliefies wat nou net begin kop uitsteek, en jy aanskou die pragtige uitsig oor Tafelbaai.

Tans hou die bestuur van ʼn paar woonstelle my besig, asook die versorging daarvan en opknapping met ʼn nutsman wat my bystaan. Net só dat ek nie te besig is nie!

Tenniskyk is my geesdriftige tuisvermaak en Roger Federer is my held al van 2001 af toe hy Pete Sampras op Wimbledon verslaan het. Daar is groot hartseer dat hy op uittree staan en 'n mens hom nie meer so dikwels sien speel nie. ʼn Spesiale vliegrit na Londen om hom tog net in lewende lywe in aksie te sien, was ʼn groot vreugde. Ná sy beserings en herstel speel hy September in ʼn toernooi in Basel, sy tuisdorp waar hy grootgeword het. Die gevoel is dat hy moontlik hier gaan afskeid neem, want dit is in Basel waar hy as jongeling eers baljoggie vir die seniors was en toe later as professionele speler tien toernooie verower het.

Tenniskyk is die lekkerste tydverdryf vir enigiemand en die beste verskoning om heeldag net niks te doen nie.

Carl Nöffke
Daar was egter ʼn tyd toe ek as jong verslaggewer die “aksiemeisie” by Die Transvaler in Braamfontein was.

Ná universiteit het my amptelike loopbaan in 1970 by Die Transvaler begin. My aanstelling het via Trafalgarplein in Londen gekom tydens ʼn geselligheid in 1968 by Suid-Afrika-huis waar ek mnr. Carl Nöffke ontmoet het. Hy was destyds die SAUK se verteenwoordiger en ek een van die Outspan Girls wat gekies was om Suid-Afrikaanse sitrus in Brittanje te bemark. Ons het in oranje mini-rokkies – ja daar was so ʼn tyd in my lewe! – oranje pruike en oranje MiniMokes die hele Engeland plat gereis – wonderlike ondervinding en het hierdie plattelandse meisie van Brits baie gou ordentlike Engels leer praat.

Illustrasie
Ná twee jaar terug in Johannesburg, was mnr. Nöffke die hoofredakteur van Die Transvaler en het ek by hom gaan aanklop vir werk. My aanstelling was eers in die biblioteek waar knipsels en liasseerwerk my voorland was, maar waar waardevolle ondervinding en kennis opgedoen is van die werking van die “binnegoed” van die koerant – die verskillende blaaie, nuuswaardigheid, belangrikheid van artikels, ens.

ʼn Paar maande later het die nuusredakteur, Hennie Kotzé, my aangestel as die “aksiemeisie” van die koerant. Hy het seker gereken as 'n mens twee jaar lank oorsee kan rondploeter en met ʼn rugsak die hele Europa vol kan duimgooi, kon ʼn bylaag oor loopbane sekerlik behartig word waar ek ʼn paar weke lank self gaan verpleeg, poskantoorpakkies hanteer, asook buskonduktrise speel.

Hennie Kotze
Hierdie “aksiewerk” by Die Transvaler het moontlik die grondslag gevorm wat my jukkende voete gegee het om altyd opwinding na te jaag. Dit het my dan ook die wonderlike geleentheid gebied om Perskor se verteenwoordiger in die oorloggeteisterde Rhodesië van 1978 – 1982 te wees.

In diens van Rooi Rose en Radio & TV Dagboek in 1978, wou die Hymans – eienaars van Republikeinse Pers in Doornfontein – my nie ʼn oorplasing na Salisbury gee nie, aangesien hulle nie verantwoordelikheid vir my veiligheid wou neem nie. Ná my bedanking is ooreengekom op ʼn maandelikse toelaag, plus ʼn groot voorraad films – onverkrygbaar in Rhodesië – vir my twee Pentax 35-mm-kameras, een vir wit/swart films en een kamera vir kleur.

Illustrasie. Datsun 120Y.
Met my groen Datsun 120Y, volgepak tot teen die dak, het ek na Messina laat waai om te oornag en die doeaneklaring die volgende oggend só te reël om 09:00 by die konvooi na Salisbury aan te sluit. ʼn Gewapende pantservoertuig voor en agter die konvooi het ʼn mens tot in Salisbury vergesel om jou teen terroristeaanvalle te beskerm.

ʼn Kothuis in die woonbuurt Mt.Pleasant het my blyplek vir die volgende vier jaar geword en ʼn kantoor in Union House in Angwastraat naby die Monomotapa Hotel in die middestad, waar al die joernaliste van oor die wêreld gestasioneer was, my werkplek. Daar het tikmasjiene dag en nag gekletter en het lang stringe teleksstroke die gang afgelê soos almal se stories aan operateur Godfrey gevoer is en jy jou beurt afgewag het. Saam met die fotograaf van AP was ons die enigste twee vroue tussen sowat 50 manlike korrespondente.

Bo:  ʼn Skutter met ʼn AMG-masjiengeweer op ʼn pantsermotor wat die konvooi van die Beitbrug af na Salisbury vergesel het.

Hannes de Wet
Só het my vryskutwerk ʼn aanvang geneem en ʼn redakteur wat my deurgaans in my werk ondersteun het, was Harald Pakendorf, die redakteur van Die Vaderland, en die nuusredakteur, Hannes de Wet.

Dit was juis Harald wat my ʼn paar maande later die pos as Perskor se verteenwoordiger in Salisbury aangebied het, wat ek vier jaar lank, tot Julie 1982, beklee het.

Gedurende díé tyd, om enkele hoogtepunte te noem, het Rhodesië vyf regerings deurgemaak voor Zimbabwe se onafhanklikheid in 1980; allerlei Britse goewerneurs, lords, ladies en prinse het besoek afgelê; daar was die tragiese neerskiet van die twee Viscount-vliegtuie; om vir die eerste keer van aangesig tot aangesig te kom teenoor die gevreesde terroristeleiers Robert Mugabe en Joshua Nkomo; ek was dikwels met pistool op die heup in die bosse agter ʼn storie aan; en so baie meer insidente waaroor deurgaans vir Perskor berig is.

Dit was ʼn ontsettende opwindende en besige vier jaar van my lewe, maar soos Gerhard Burger tereg in sy skrywe opmerk: dis ʼn storie vir ʼn ander dag!