Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

25.6.14

Geskiedkundige Persfoto’s opgediep

SOMARIE GREY, dogter van Perskor se oprigter, Marius Jooste, het ‘n versameling kosbare geskiedkundige foto’s uit die verlede van Die Afrikaanse Pers Beperk (APB), Die APB (1962) en Perskor tot K’rant se beskikking gestel. Ons spring weg met twee foto’s wat die geboorte van die Pretoriase middagblad Hoofstad herdenk en ‘n ietsie oor die stigting van die blad.

Goudstad en Hoofstad vat mekaar se hande

Mev Marguerite Jooste, eggenote van die besturende 
direkteur van Die Afrikaanse Pers (1962) Beperk, 
druk die knoppie om Hoofstad, Pretoria se eie 
Afrikaanse dagblad, se rolpers aan die gang  te sit, in 
die teenwoordigheid van eerste minister John Vorster 
(regs) en E Vogl, hoofingenieur van Die Afrikaanse 
Pers (1962) Beperk.
Onder dié opskrif vertel LJ (Rassie) Erasmus die verhaal van Hoofstad se totstandkoming op 1 April 1968 in sy boek “’n Volk staan op uit sy as: die verhaal van Die Afrikaanse Pers Beperk (1962)”. Die APB (1962) het tot stand gekom toe Dagbreekpers (uitgewer van die Sondagblad Dagbreek en Sondagnuus) en die oorspronklike APB (uitgewer van die dagblad Die Vaderland en die tydskrifte Brandwag en Rooi Rose) saamgesmelt het.

Erasmus vertel dat Hoofstad tot stand gekom het deurdat die Afrikaanse Kultuurraad van Pretoria (AKP) dit sedert sy stigting in 1936 beywer het vir ‘n eie Afrikaanse dagblad vir die hoofstad. Verskeie onderhoude is met Die APB, later Die APB (1962) en Die Voortrekkerpers, uitgewer van die dagblad Die Transvaler, gevoer met die versoek om ‘n eie dagblad vir Pretoria. Die AKP het in 1959 ‘n perskomitee gevorm om die saak verder te voer. Dit is twee jaar na die stigting van Hoofstad ontbind.

Die nuwe koerant was ‘n saamwerkpoging tussen Die APB (1962) en Die Voortrekkerpers en ‘n voorloper tot die latere samesmelting en stigting van Die Perskorporasie van Suid-Afrika (Perskor).

Marius Jooste was die besturende direkteur en voorsitter van Die Hoofstadpers. Andries Treurnicht, die redakteur van Die Kerkbode, is as die eerste redakteur aangestel. Die ander leidende geeste was Rudolf Opperman (hoofbestuurder), Jan Schoeman (drukkerybestuurder), Abel van Niekerk (advertensiebestuurder), Philip Spies (rekenmeester), At de Beer (assitent-redakteur en nuusredakteur), Beaumont Schoeman (assistent vir die redakteur) en Jan van Vreden (assistent-nuusredakteur).

Eerste minster Vorster en besturende direkteur Jooste kyk 
na ‘n eksemplaar van die eerste uitgawe van Hoofstad. 
Francois du Rand, hooffotograaf van Die Hoofstadpers, 
het die foto’s geneem.
Hoofstad het ná slegs drie maande sy eerste wins getoon en ‘n groot toekoms is vir die koerant voorspel.
Treurnicht is later deur At de Beer en PG du Plessis as hoofredakteurs opgevolg.

Erasmus se boek hou sommer ook vir ons ‘n lessie in beskeidenheid in as hy oor Hoofstad skryf: “Wat hierdie aangeleentheid des te heugeliker maak, is die sekerheid dat hierdie koerant geen ondergang te vrees het nie. Nie alleen is dit gefundeer op die twee kragtige persondernemings: die Afrikaanse Pers Beperk (1962) en die Voortrekkerpers Beperk as die grootste aandeelhouers nie, maar die blad is ook verseker van die daadwerklike steun van elke denkende Afrikaanssprekende in Pretoria en omgewing wat gedurende die lang, maer, koerantlose dae, gehunker het na ‘n koerant wat hy weer as sy eie aan die hart kan druk en wat ‘n einde sal maak aan die jare lange alleenheerskappy van ‘n hooghartige Engelse blad in die groot Afrikaner-kultuursentrum.”

Die publikasie van Hoofstad is op 19 Februarie 1983 gestaak.