PEET VAN STADEN skryf: Ons het ons troshuistuinjie in Randburg só beplant dat al nege die groot bome gelyk hoog sou word bo-oor alles. Rankers en struike tussenin vir die geur. Lenteaande verstik ʼn mens amper daarvan. Oral groei boslelies, nou vol eerste blomknoppe. Daar is ʼn paar geeles maar meestal oranjes. Daarvan kom nog uit Dave Viljoen se welige beddings in Fourways.
Oral is daar herinnerings aan ons Perskordae. In die gastebadkamer hang twee Lou Henninkies in potlood wat die weemoed van Paul Kruger in ballingskap uitbeeld, die een (met sakkies onder die oë) van voor af, die ander in profiel. Op ʼn glasrak in die sitkamer staan die bloubont keramiekbakkie wat Thijs Nel as toegif aangedra het nadat ons twintig jaar gelede sy granate in houtskool op papier gekoop het.
Tuin en al is die eiendom so groot soos die hoewehuis waarin ons eens gewoon het.
Met nóg genade haal ek en Elise oor 'n maand (Oktober 2022) die groot edelmetaal-huwelikstatus. Ons jongste, Hermien, is by ons.Sy is naas ons twee en haar broer, Cobus, uiteindelik ook joernalis. Deur haar behou ons insig, veral in hoe die beskikbaarheid van inligting ʼn wêreld geskep het wat ons ons destyds nooit sou kon voorstel nie. Sy het ensiklopediese agtergrondkennis waaroor ons nooit sou kon droom nie. Cobus was voor en ná doktorale studie in Japan ʼn joernalis. Ná ʼn senior lektoraat by Wits is hy weer een: hy gee ʼn nuusbrief uit oor China se verhouding met die globale suide, waaroor hy gereeld in die wêreld se topmedia aangehaal word en selfs al twee keer die Amerikaanse department van buitelandse sake gaan toespreek het.
Ek, Elise en Hermien staan al drie onder die gesag van Breggie. Dis die afgeleide noemnaam van ʼn Pretoriusvrou, Huibrecht Susara Cornelia, wat volgens die amptelike dokumente in die negentiende eeu getrou het met ʼn Van Staden die dag ná sy eerste vrou se dood. Albei Breggies had bande met die Waterberg. Ons Breggie is ʼn miniatuurschnauzer met streng oë, nul humorsin en tog die lieftalligste temperament. Die ander twee lede van die bestuurspan is ʼn corgi met ʼn diep blaf en een slap oor, Arend, en ʼn eksentrieke ou malteser, Frits.
Die bestuur vaar vrot met dissipline, veral skoonmaak. Dis oor al die projekte. Elke projek gee ʼn stapel goed af. By ons huis is daar so min stapelplek oor dat die eetkamertafel net af en toe vir aansit beskikbaar is.
Elise se projekte verteenwoordig onder meer etlike stapels mosaïekwerk, waarvoor sy al internasionaal erken is. Daar is kaste vol materiaal, wol en selfs papierpoppe. Uit haar studieprojekte het duisende papiere oorgebly wat sy nie oor haar hart kan kry om weg te gooi nie.Hermien het ʼn werkskamer vol gereedskap, planne, dokumente en materiaal vir haar oorspronklike nering, juweelontwerp en edelmetaalsmee.
Van ons gesamentlike halfklares groei in ʼn rits houers, en tuisgemaakte betonpotte staan die agterstoep toe.
En ja, ek het ook stapels. Grotes. Daar is nog ʼn bietjie geelhout (van Leendert Pieterse in ruil vir die maak van ʼn koffietafel) en tambotie oor. Ook ʼn paar planke ewe skaars witels en ander hout oor ʼn halwe leeftyd uit allerhande onwaarskynlike plekke aangedra.
Staalprojekte staan halfklaar. Ook van ʼn vullishouer vol geelkoper gaan daar nog binnekort goed gemaak word.
Maar die eintlike stapels staan op die boekrakke, te ondenkbaar kosbaar om weg te maak, én gulsig vir die Rand se stof.
Op die hardeskywe is daar ook stapels skryfgoed van ons al drie. Elise het ritse boeke geskryf vir laer- en hoërskoolgebruikers asook universiteitstudente. Haar meestersverhandeling was oor die koerantstylboek as ʼn variasie van Afrikaans, en sou regstreeks met ʼn doktorsgraad beloon word as dit van haar studieleier afgehang het. Haar uiteindelike D-proefskrif was oor iets gans anders, die nuwe begrip: die koopkrag van Afrikaans. Selfs onder die troebel vernis van die akademie glinster daar in haar skryfwerk kol-kol die loslittigheid van haar vorming by Die Vaderland.
Maar sy het meer geskryf as wat verskyn het, insluitend ʼn reeks handboeke op uitgewersversoek wat die uitgewery sommer terloops om strategiese redes later nek omgedraai het.
Van my méér: onuitvoerbaar, onaanvaarbaar of halfklaar. Een Afrikaanse roman, Krake, het darem verskyn. Daar was ook, gegrond op die doktorale navorsing van ʼn polisiekundige, Hennie Lochner, Transito – the truth behind the big-money robberies. Dertig jaar of langer se vat en los oor die familiegeskiedenis het uiteindelik klaargekom onder die titel Van Staden dubbel en dwars.
Maar die teleurstelling van die ongeborenes laat ons albei nou eers weer dink oor die sin van skryf.
So tussen die mylpale en die epidemies mymer ʼn mens oor die plek met die hoenderhaan se aandeel aan ons vorming. Van my diensjare was immers nie eens ʼn kwart in die koerantwese nie. Onwillekeurig weeg ʼn mens ook die joernalistiek van ons beginjare en nou, en die joernaliste destyds en vandag.
Wat het geword van die nuus eerste? As ek weer ʼn berig lees wat begin met “die President het die land gisteraand toegespreek oor die elektrisiteitstekort” gaan ek die stuipe in die aappokkehok soek.
Waar het die kuns van of selfs net die strewe na ʼn treffende inleisin tot stof oorgegaan? Hoeveel keer het ek vir jonges na my onthou een voorbeeld van Gerhard Burger aangehaal? Dié is wel al vyftig jaar oud en het ook ʼn politieke regstellinkie weg:
“Nuweland – waar Bennie Osler se naam nog met eerbied geprewel word en Len Rodriques menige skepskop oorgesit het voordat die staanplektoeskouers kon skree ‘Drop!’ – sien môre vir Gerald Bosch.”
En hoeveel van hulle het my daarop soos lamas aangekyk?
Hermann Giliomee het geskryf “geskiedenis het met die Afrikaners gebeur”. Soveel te meer met die Afrikaanse joernalistiek. (Word vervolg)