Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

13.2.23

Toe ‘sirkulasies’ nog miljoene beloop het

GERHARD BURGER skryf: KOERANTE en tydskrifte spog nie meer met verkoopsyfers nie. Om heel begryplike redes ook. 

Die aand toe die Grootste Afrikaanse Koerant ter Wêreld ʼn fees der feeste gehou het om die verkope van ʼn halfmiljoen eksemplare op een Sondag te vier, is ʼn mooi baken langs die pad van SA joernalistiek. 

 ʼn Engelstalige koerant het op ʼn kol op die verkope van 750 000 aanspraak gemaak en ʼn paar jaar gelede het heelparty SA dagblaaie nog gereeld indrukwekkende “sirkulasiesyfers” op hul voorblaaie aangekondig. 

Almal weet wat sedertdien gebeur het. Deesdae moet ʼn mens weet waar om te gaan soek om die getalle te bekom. 

In die buiteland gaan dit ewe sleg. Soms slegter. Dosyne ou, gesiene koerante oral ter wêreld gaan jaarliks stil heen en hipermoderne rolperse staan stil. 

Daarom was dit soos een van daardie stories wat ou mense vertel en die jonges nie glo nie toe ek nou die dag weer in Classic Books in die Baai gaan speel het en op Inky Way Annual 1947-8 afkom. 

Die boek, wat my R5 gekos het, was ʼn produk van Reuters, “The leading world news Agency: owned by the newspapers of the British Isles, Australia and New Zealand who are pledged by a Trust Agreement to see that its integrity and independence area at all times fully preserved”. ʼn Mens kan ʼn boek oor hierdie boek skryf; oor die bydraes van joernaliste van daardie tyd. En met talle advertensies van koerante en uitgewers. En briljante spotprente en sketse. “Edited by Arthur J. Heighway *Editor, World Press News”. 

Gene Tunney
Jack Dempsey
Daar is vele insiggewende menings en pragtige staaltjies wat eenvoudig móét oorvertel word. Dalk doen ek dit nog, DV.

Soos Trevor Wignall wat verslag gedoen het van die boksgeveg waarin Jack Dempsey en Gene Tunney baklei het. Tunney het gewen – “the biggest pugilistic story for two decades” – maar dit het so gereën dat “the drenched rats in the Press seats were faced with the fact that not a single telegraph instrument was in order. 

“Damon Runyon, on my left, was scooping water out of his portable with a coffee cup; Bob (Believe it or Not) Ripley, on my right, was wringing the rain out of his brand new suit.” 

Maar eers iets oor die verkoopsyfers van daardie dae se koerante, wat soms maar uit enkele bladsye bestaan het; met advertensies tussenin. Dié storie kan met twee foto’s vertel word. Kyk ʼn bietjie.