Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

14.11.22

Die dag van die klavier

HANLIE VORNBERG
skryf: EK was van kleins af musikaal. Het met drie al elke deuntjie oor die radio met my vingers op die kombuistafel saamgetokkel. My ouers het vir my ʼn klein swart klaviertjie gekoop wat net een oktaaf breed was. Dit was verbasend wat ek alles op daardie agt klawers kon speel.

Toe ek agt jaar oud was en in standerd een, het my pa my een Saterdag aan die hand geneem en gesê: “Kom, ons gaan nou vir jou 'n klavier koop!”

Ons is na ʼn musiekwinkel in Seepunt en ek moes vir my ʼn klavier uitsoek.

Ek het voor ʼn bruin blinkgepoleerde Fritz Kuhla-klavier gaan sit en op een oktaaf die lied Tiritomba gespeel. Dit het presies op die agt note uitgewerk! Die klavier het 300 pond gekos en het ʼn week later in ons sitkamer gestaan. 

Ek het van standerd twee af tot matriek musieklesse geneem.

Nadat ek studeer het, het ek die Kaap verlaat, wou graag die een of ander tyd my klavier saamneem, maar my paaie het al verder en verder van die huis af geloop.

Regs:   Die Fritz Kuhla wat ek op agt jaar oud vir my uitgesoek het. Die klavier staan vandag by my broer se dogter, Linette, in Kareedouw.

Toe kom ek in Wenen en het begin uitkyk na 'n klavier. Wenen is dié musiekstad en ʼn klavierstad. Destyds was hier nog drie klavierbouers, ʼn ambag wat jy vandag nie meer kry
nie. Hulle het ou klaviere gekoop en dan behoorlik stuk vir stuk gerestoureer.

Elke mens wat iets van 'n klavier verstaan, sal jou vertel dat die ou garde die beste klaviere is en dat al die moderne soorte nie by hulle kan kers vashou nie.

Ek het toe op ʼn dag vir so 'n klavierbouer gaan kuier. Ek het daar in sy stowwerige werkswinkel gaan rondsnuffel en met hom aan die gesels geraak. So ʼn klavier word van hoek tot kant uitmekaar gehaal en dan in ʼn wekelange proses met die hand herstel.

Die klavierbouer was ʼn eienaardige, seurderige ou man in ʼn Alpynse kniebroek en met ʼn astrante veer in sy hoed. Hy het my vol trots van sy werk vertel en van sy vaardigheid oortuig. Ek het ʼn bruin klavier by hom bestel en kort voor lank het hy die klavier vir my onder hande geneem. 

Toe ek weke later na die instrument gaan kyk, was ek baie in my skik! Ek wou die koop beklink, maar toe sê die ou klavierbouer met die veerhoed: “Voor ek toestem dat u my klavier mag koop, wil ek eers kom kyk waar die klavier gaan staan.”

Ek het vinnig na Richard gekyk. Ons was nog kort in Wenen en ons woonplek was nie baie ruim nie. Daar was net EEN plek vir die klavier en dit was langs die sentrale verhitting wat sewe maande in die jaar aangeskakel is. Ek het besef dat dit nie ideaal is nie, aangesien klaviere vir uiterste temperature hoogs gevoelig is. Ek het myself egter getroos met die gedagte dat dit geen permanente woonplek is nie en dat die klavier nie te lank daar sal moet staan nie.

Toe die ou man egter die plek sien was hy woedend. Hy het op die hedendaagse
moderne argitektuur geskel, op die ritse sonvensters en die verhitting, die opening
tussen die eetkamermuur en die kombuis waardeur die stoom vanuit die kombuis sou
kom, die dubbele balkondeur wat 'n trek op die klavier sou veroorsaak en het geweier
om sy kosbare handewerk aan al dié elemente bloot te stel. Die veer op sy hoed het gewip en gewip soos hy ontstoke rondbeduie het. Hy het opsluit geweier om die
klavier aan ons te verkoop.

Hy is ontevrede en knorrig daar weg en ek het hartseer en teleurgesteld agtergebly.

Maande het verbygegaan en Richard en die kinders het geweet dat die woord klavier in ons huis taboe was. Tot op ʼn dag.

Die vrou by wie ons die huis gehuur het, het my vertel dat sy met ʼn oortollige vleuelklavier sit. Die klavier het in een van haar huurwonings gestaan en die nuwe huurder het nie in die instrument belanggestel nie. Sy was bereid om dit vir my te laat kom. Dit was ʼn swart mini-vleuel, daardie tyd ongeveer sewentig jaar oud en met ʼn letsel waar ʼn handgranaat dit tydens die Tweede Wêreldoorlog getref het.

Die wete dat die swart vleuel binnekort in my sitkamer sou staan, het die verlange na ʼn klavier weer in my laat gloei en ek het die ou omie met die kniebroek vergewe. Ek het die groot dag van die klavier behoorlik ingedroom! 

Daar was net één haakplek. Ons het op die boonste verdieping van die huis gewoon en die klavier moes óf oor die trap ingedra, óf oor die balkon opgehys word. Die trap het ʼn kwaai knik gehad waaroor al die afleweringslui gedurig beswaar aangeteken het! 

Toe hulle met die klavier kom was ek alleen tuis. Die mans het die vleuel by die hek ingedra en by die trap soos steeks perde vasgesteek! Hulle wou geen tree verder nie. Nie oor die trap nie en nog minder oor die balkon. Ek wou nog redekawel, maar dit was sinloos. Ek kon myself slegs in Hoogduits uitdruk en hulle het ʼn swaar Weense dialek gepraat waarvan ek geen woord kon verstaan nie. Daar staan ek toe met my hand in my hare en ʼn knewel van
ʼn knop in my keel!

Die vier bullebakke het die swart vleuel in die voorportaal op die sy neergelê, hulle
vergoeding geëis en laat spaander.

Ek het Richard gebel, toe die afleweringsfirma en het daarna in die leë ruimte in die sitkamer gaan sit en huil. Toe lui die telefoon en dit was die vervoerfirma wat sê hulle stuur die mans terug om hulle halwe werk te voltooi en die klavier oor die balkon te hys. En dit sou nie ʼn sent ekstra kos nie!

Ek het vyf jaar lank met groot liefde en plesier op die ou vleuel gespeel. Later het ons toe ons eie mini-vleuel gekoop. Maklik verkrygbaar in Wenen en glad nie swaar op die geldsak nie!

 Bo: Die klavier waarop ek vandag nog baie graag speel.  Vleuelklaviere is maklik in Wenen verkrygbaar en nie duur nie.