Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

26.3.23

Eiland van ons drome (1)

PIET EBERSÖHN skryf: DAAR het jy dit nou. Ek kry toe hierdie briefie van Karin Pretorius af in die pos.

“Jy het almal nou al aan die skryf gekry oor Perskor en wat hulle tans doen. Wil jy nie iets oor jouself en die lewe op Korfu skryf nie met pragtige foto’s waar julle bly en hoe die eiland deesdae lyk? Dit sal mos nou baie interessant wees.

”Hoe kan ek nou weier sonder om myself in die voet te skiet? Soveel skrywers het al op my versoek namens K’rant gereageer; soveel ander het belowe en ek maak daarop staat dat hulle hul beloftes nakom. Daar moet dan seker nie ʼn beskuldigende vinger na my gewys word nie. 

Dit sal vroeg November ses jaar wees sedert ons permanent op Korfu voet aan wal gesit het, en al is ons al goed ingesete leer ons nog gereeld iets nuuts om die lewe interessant te hou. 

Vergun – en vergewe – my eers ʼn kansie om ʼn bietjie met ons eiland te spog. 

Geleë aan die ingang na die Adriatiese See, het Korfu se strategiese ligging, veral in die dae voor vliegtuigoorlog, verseker dat daar gedurig gierige oë op die eiland gerig is. 

Korfu verskil in ʼn groot mate van die ander Griekse eilande, nie net wat die natuur betref nie, maar ook sover dit die kultuur aangaan. 

Vergeet van daardie geykte wit en blou huisies en kale klipwêrelde wat julle met die Griekse eilande assosieer. Ons het al die son en see wat hulle het, ja, maar Korfu het ook ʼn dieper sy.

ʼn Kort geskiedenislessie: Terwyl die res van Griekeland vier eeue lank deur die Turke onderdruk en “versmoor” is, was Korfu die Republiek Venesië se besit (by die Koninkryk van Sicilië gekoop) en het die Korfiote mildelik in die Renaissance gedeel. Die eerste moderne universiteit en die eerste Griekse bank is hier gestig. Korfiote het ʼn leidende rol in die politieke ontwaking van die Grieke gespeel. Die Korfioot Ioannis Kapodistrias was die eerste leier van die onafhanklike Griekeland. Die Griekse volkslied is deur Korfiote geskryf en getoonset. 

Griekeland het in 1821 begin om die Turkse juk af te skud en ʼn republiek uitgeroep. Korfu het ʼn ander
paadjie geloop. Toe Napoleon Venesië in 1795 onderwerp het, het dit deel van Frankryk geword. ʼn Russiese en Turkse mag het die Ioniese Eilande ingeneem en die kortstondige Sewe-eilande Republiek gestig. Die Franse het die eilande teruggeneem en ná Napoleon se finale onderwerping moes Korfu en die ses ander Ioniese Eilande kragtens ʼn besluit van die Kongres van Wenen (1815) ʼn Britse protektoraat vorm. Die Britte het dit sommer as ʼn kroonkolonie bestuur en toe die Grieke teen 1864 na die Britse sin van hul republikeinse neigings genees is en ʼn monargie aanvaar het, is die Ioniese Eilande aan Griekeland “geskenk”.

Dit alles noem ek bloot ter agtergrond om die verskille tussen Korfu en die res van Griekeland te illustreer. 

Anders as die kaal, dorre beeld wat ʼn mens van die meeste Griekse eilande het, is Korfu ʼn groen eiland, nie net vanweë die ruie inheemse plantegroei nie, maar ook as gevolg van die derduisende olyfbome wat die Venesiane eeue gelede ter wille van hul handelsbedrywighede laat plant het. Destyds was dit nie net kos nie, maar die belangrikste brandstof in lampe en dies meer.

Pleks van die blou en wit huisies wat so kenmerkend van ander Griekse eilande is, is die Korfiotiese
argitektuur deur en deur Venesiaans. Die villas is in allerhande kleure geverf en word verder deur balkonne en gewelwe gekenmerk, met dakke van kleiteëls wat die kroon span. Opgerig in jare van welvaart, kan die gemiddelde hedendaagse gesin nie meer sulke huise bekostig nie en is die meeste daarvan in afsonderlike wooneenhede onderverdeel. In baie gevalle word dit deur lede van dieselfde familie beset. 

Moenie my vra hoe en waar nie, maar Italiaans het blykbaar ook sy invloed op die Korfiote se Grieks laat geld, met deel van die plaaslike woordeskat wat nie van standaard Grieks deel is nie. 

Veral die Korfiotiese tafel toon ʼn sterk Venesiaanse invloed met tamaties en pasta, kouevleisprodukte en roomys. Een van die gewildste Korfiotiese geregte, “pastitsada”, ʼn stowegereg van bees- of hoendervleis met pasta in rooiwyn en uie, is by die Venesiane oorgeneem en aangepas om in die Korfiotiese smaak te val. 

ʼn Kwart van Korfu se sowat 102 000 inwoners woon in Korfudorp en die res is oor die eiland se oor die 200 dorpe en gehuggies versprei. Die eiland is net kleiner as 600 km². Van Wes na Oos is dit 32 km op sy breedste en van Noord na Suid 64 km in die lengte. 

Dan iets bepaalds oor ons “voorstad”, Kontokali: Met die Slag van Lepanto (1571) toe ʼn Christenvloot die Turkse seemag in die Middellandse See gebreek het, het ʼn Korfiotiese sakeman, Christophorus Kontakalis, ʼn skip bygedra wat met onderskeiding in die slag geveg het. Venesië het hom beloon deur ʼn stuk grond aan hom te skenk en dit is na hom vernoem. 

Langs Gouviabaai hier neffens ons is nog ʼn Venesiaanse opslagplek uit die 18e eeu. Daarnaas is die plek waar die oorblyfsel van die Serwiese leër in die Eerste Wêreldoorlog geland het in hul ylingse vlug voor die Oostenrykse en Duitse magte. 


Waar die groot Gouvia-jaghawe en die algemene hospitaal tussen ons en die see lê, het die hippies van die vroeë jare sestig glo in hul honderdtalle tent opgeslaan.

 Ná die geskiedenis- en aardrykskunde lessie het julle seker nou genoeg van Korfu verneem. 

Skaf nou ʼn sopie ouzo aan en dan lig ons volgende keer ʼn glasie saam as ek van ons lewe hier vertel.