HANLIE VORNBERG skryf: EK versamel graag ou Africana-boeke en veral die stories uit die Ou Kaap is ʼn voorliefde van my. Sommige daavan is so kostelik dat ek dit graag met die K’rant-lesers wil deel.
Een daarvan is die storie oor die grot in Vishoek wat vandag bekend staan as Peers se Grot. Die grot is in 1926 vernoem na Victor Stanley Peers (1874 – 1940) en sy seun, Bertie, wat die skedel van die sogenaamde Vishoekmens, ongeveer 12,000 jaar oud, tydens opgrawings, daar gevind het. Voor dit was die grotte bekend as die Skildersgatgrotte. Die grotte het egter nog lank voor dié naam, 'n ander meer pikante naam gehad!
Die Duitse reisiger, O.F. Mentzel, wat die Kaap in die 18e eeu besoek het, het oor die gebeure berig.
Die storie lui dat 'n skip wat in die 17e eeu, uit Indië om die Kaap geseil het, van koers af geraak het en Valsbaai met Tafelbaai verwissel het. Die bemanning het gevolglik in Valsbaai geanker en matrose aan land gestuur om vars water te soek en met die inheemse bevolking handel te dryf.
Regs: DIE skedel van die Vishoekmens, ʼn geraamde 12 000 jaar oud.
Naby die kus het hulle ʼn grot ontdek wat soos 'n bakoond gelyk het, en die offisiere het aan land gegaan om die storie te bekyk.
Al die rys- en beskuitvoorrade op die skip was opgebruik en daar was slegs ʼn paar vate meel oor. Die bemanning het besluit om in die grot wat soos 'n bakoond gelyk het, te gaan brood bak!Links: VALSBAAI op ʼn antieke kaart.
Die grot binne in die rots, was baie koud en hulle het vier-en-twintig uur lank binne-in die grot vuurgemaak om dit warm te kry. Intussen het die kok ʼn deeg aangemaak, maar het geen suurdeeg gehad om die brood te laat rys nie.
Skeepslui was egter noodgedwonge vindingryk en hulle het gereken dat die afsaksel in die wynvate, of potas, as ʼn moontlike rysmiddel kon dien.
Die skeepsdokter het gewoonlik seep uit Venesië of Marseilles in sy mediese voorraad gehad, ook dit het brood laat rys, maar het laasgenoemde natuurlik ʼn seepsmaak gegee.
Regs: DIE Peersgrot by Valsbaai in die Wes-Kaap.
Nadat die grot warm genoeg was, het die matrose die brode gevorm en in die grot gepak. Toe het hulle die opening met klippe toegemaak, die splete met klei toegesmeer en die deeg oornag laat bak.
Die volgende môre moes hulle egter vasstel dat die deeg nog steeds rou en plat was en net goed genoeg om die varke mee te voer. Die diere was ʼn deel van die lewende kosvoorraad op die skip.
Die behoefte om ʼn slag brood saam met die gepekelde vleis en gerookte ham te eet, was egter so hewig dat hulle besluit het om weer te probeer.
ʼn PAAR boeke in Hanlie se Africana-versameling. |
Hierdie keer het hulle die vuur in die grot met dubbel die hoeveelheid hout gestook en agt-en-veertig ure lank aan die gang gehou. Die nuwe brooddeeg het hulle vier-en-twintig uur in die grotoond laat bak!
Dit was alles tevergeefs! Die plat, rou broode het weer by die varke beland.
Die uiters teleurgestelde, honger, rowwe en ontstoke seelui het net daar en dan besluit om die mislukte bakoond 'n naam te gee wat letterlik uiting aan hulle gevoelens kon gee. Hulle het dit Madame haar GAT genoem!