Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

30.10.22

Oud-Oggendbladters voer iets in die mou

DRIES LE ROUX skryf: EK was onlangs bevoorreg om ’n draai te maak by De Wet Potgieter se Nagkantoor op Kaapsehoop. Terwyl ek en hy gesels het oor die ou Oggendblad-dae, en ek en Gerhard Kleijn ook daarna, het dit my opgeval dat elkeen van ons ’n beperkte herinnering aan ons tydperk by Oggendblad het. Ons onthou uiteraard meestal diegene met wie ons nou saamgewerk het en die insidente wat ons self beleef of aanskou het. 

Dit het my laat wonder of daar nie ’n behoefte bestaan aan ’n boek waarin oud-lede van die Oggendblad-redaksie hulle belewenis van hul tydperk by die koerant met hul oudkollegas deel nie. 

Oggendblad voel vir my soos familie en net soos met 'n mens se familie wil jy graag elkeen se geskiedenis of storie vir die nageslag opteken, maar meestal kom daar niks van voordat dit te laat is nie. Gelukkig is dit nog nie te laat met Oggendblad nie, hoewel daar al kwaai in ons bos gekap is. 

Ek het in my agterkop die titel “My Oggendblad” en ek is al besig om my bydrae in my gedagtes te skryf: van, onder andere, hoe ek daar beland het, die wonderlike mense wat ek daar ontmoet het en humoristiese insidente. 


Aangesien ek lank in die uitgewersbedryf gewerk het en nog steeds boeke uitgee, is ek bereid om die projek te hanteer. 

Elkeen wat wil bydra, moet sy eie storie skryf. Hoewel ek my hele loopbaan lank ’n sub was, sal ek nie die bydraes redigeer nie; hoogstens deur ’n speltoetser stuur. 

My kontakbesonderhede is soos volg: 

Selnommers 0723356468 / 0817004644 (ek is op Whatsapp) 

Bo: Dries le Roux en De Wet Potgieter voor Nagkantoor op Kaapschehoop afgeneem.

 E-posadres: driesleroux@gmail.com Ek hoor graag van julle. Voorstelle en idees is welkom.

 O ja: indien moontlik, toe-en-nou-foto’s van die bydraer. Ook enige foto’s uit daardie tydperk. 

(Deurdat K’rant hierdie versoek geplaas het, gaan julle mos nou K’rant aan jul Oggendblad- stories snoep, dus wil ons ‘n “jintelmansooreenkoms” aangaan: As julle ’n Oggendblad-storie vir Dries stuur, stuur as teenprestasie vir K’rant ’n storie waarmee julle julself deesdae mee doenig hou asook ’n vars foto. Dries reken dit klink na ’n goeie ruil. Kom ons kyk hoe slaag dit. – Red.)