Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

28.9.22

Toe die lewe sorgvry en rustig was ...

JAN VAN VUUREN skryf: Onlangs krap ek in ʼn paar ou foto-albums om ʼn ledige tydjie te verwyl. Ek kom toe op die ingeslote af. Dit was die dae voor ernstige verantwoordelikhede. Sorgvry en rustig was die lewe toe. 

Al wat jy moes doen was om “scoops” na te jaag en Beeld se krieketskrywer die loef af te steek. 

En ja die meisie hier aan my sy, Susie, haar nooiensvan eweneens Van Vuuren, is vandag nog my vrou ... 45 jaar later. 

Die geleentheid was een van daai veels te min samesyns as joernaliste tydens ons dae by Die Transvaler. Dit was met die opening van die een of ander Pick 'n Pay in Norwood, Johannesburg. 

Spanne van die perswese is genooi om in ʼn braaikompetisie teen mekaar te braai. Piet Ebersöhn en Essie Esterhuizen was Die Transvaler se span. Die res van ons was die juigkommando. En met ʼn paar biere om te help, het ons gejuig. 

Jan en Susie van Vuuren en Wilma (toe nog Rudman) en  Philip Deetlefs by die opening    van die Pick ʼn Pay Hipermark in Norwood.


Piet het die dag talle probleme ondervind. Eers was sy spanmaat laat, want ons het die oggend ʼn krieketwedstryd in Elsburg gespeel. Wyle André Pienaar het die wedstryd gereël. Wat hy nie vir ons gesê het nie, was dat Elsburg die vorige jaar die liga gewen het waarin hy gespeel het. Veel van die wedstryd kan ek nie onthou nie, behalwe dat ons ʼn goeie loesing gekry het. 

Piet Ebersöhn
André Pienaar
Maar dit het nie ons geesdrif gedemp nie. Ons ook nie haastig gemaak om Norwood toe te gaan nie. Toe ons wel ons opwagting daar maak, het Piet se tweede probleem ontstaan. Hy moes ʼn nagereg saam met die braai maak. Maar weens my swakte vir sjokolade het ek dié bestanddeel daarvan opgeëet. Weet nie wat het hy toe gedoen om die situasie te red nie. 

Die dag was gewis ʼn rasende sukses. Sorgloos en vry. 

Piet se minder sorgelose weergawe van die okkasie verskyn HIER.