PEET VAN STADEN skryf voorts: My herinneringe is ook nie van oorvloed en vergrype nie, maar van mense.
So halfvyf een middag in 1970 loop ek Hermiena Oberholzer en Marietjie van Rooyen by die hysbak raak. Hulle was gemoedelik ná die afskeid van ons legendariese restaurantvrou tant Rosie, soos wat ons haar toe met respek moes genoem het, maar nie gedoen het nie. Party sal nog onthou dat AM van Schoor haar daar gesoengroet het.
Rosy Belily |
My bietjie genetiese aanleg daarvoor het dié mediumtermynprojek
gehupstoot tot ek ná ʼn week sonder vervoer in ʼn Kaapstadse
vuurproef saam met lede van die eerste span in Januarie 1972 agtergekom het dat
ek eintlik allergies is vir dop.
Gary en Vivian Player |
Was ek toe ooit ʼn koerantman? Wie weet? Ek het
wel ʼn goeie een se ervarings beleef, veral met legendariese sportlui. Een wat
altyd sal uitstaan, is ʼn week as huisgas van Gary Player in Surrey se
makelaarsomgewing in Engeland. Daar kon ʼn mens hom raaknaby sien in sy omgang
met Vivienne, oorwinning en nederlaag op die baan, fabelagtig ryk sakevriende
en ondersteuners deur dekades. Self het ons mekaar laat uitdaag vir kaal swem
in die buitenshuise swembad. ʼn Minder waardige ervaring laat Oktober in
Engeland!
Ek het onderhoude gevoer met al drie Suid-Afrika, Nieu-Seeland en Wallis se Rugbyspelers van die Eeu. En met mense wat nie voorheen in Afrikaanse koerante aangehaal is of selfs mog word nie.Tog bly die klein belewenisse terugkom in dié fratstyd weens Covid, beurtkrag en aap- en politieke pokke. Hennie Lochner vertel eendag vir ʼn kollega, Heinrich Schulze, by Unisa dat ons saamwerk aan ʼn boek en dat ek ʼn sportskrywer was. Dit blyk toe dat hy navorsing doen oor destyds se Paul Roos-rugbybonde, die kleintjies op die platteland. Daar het hy toe ʼn knipsel van my scoopie uit 1970.
Jaap Swanepoel |
Gerhard Burger |
Ek en Gabriel, wat hom wieg-wieg agter die
stuurwiel mos nooit laat aanjaag het nie, het in ʼn nuwe 404 eers laat die
Saterdagoggend daar aangekom en na ʼn gedenkwaardige deurnagkuier Sondagoggend
weer in die pad geval nadat ons die Suidoosters aangery het lughawe toe.
Vir Die Vaderland was die vrug dubbel: ʼn foto van
die sneeu op die
Drakensberge wat wys waar Transvaal se koue
vandaan kom was my eerste (en enigste) voorblad-hooffoto. Op die agterblad was
daar ʼn beriggie dat Natalplatteland, al was hy die gasheer, nie kon bekostig om
spelers van oral uit sy gebied te laat kom nie. Hoewel die besoekers per
vliegtuig uit Witbank gekom het, het die Natallers stilletjies ʼn subuniespan
saamgestel en in die provinsiale truie laat speel.
Gabriel Maphalala |
Dit wys nou hoe wyd, moeitedoof en kosteblind ons
toentertyd inhoud ingesamel het.
G’n wonder ons het hoofkoerante van 32 bladsye
met sestig persent advertensielading uitgeryg nie. En boggherol daarvoor gekry.
Baie belangrike herinneringe vervaag. Teen wie ʼn
mens destyds probeer drink of skryf het en watter prikkels agter die hakskene
was, lê onder stof in ʼn databasis wat met elke volgende jaar traer oopmaak.
Harry Lombaard |
Selfs uit die Engelstalige pers.
My eerste senior somersbeat was gholf: negentien
maande joernalis, nog nooit ʼn gholftoernooi gesien of ʼn enkele siel in die
sport geken nie.
John Hildyard van die Star was my regstreekse
teenstander, langer as ʼn dekade vroeër al vyf maande saam met die
rugby-Springbokke Europa toe gestuur vir waarnemerservaring: nog ʼn loopbaantrappie vir een
van die Argusgroep se keurlysie belowende jonges. Seker al tien jaar
sportredakteur, en sewentien jaar of wat dié gholfskrywer in Johannesburg. ʼn
Storie wat Buller nog nie in die Star geskryf het nie, is nog nie geskryf nie.
Mettertyd het selfs ʼn teenstander uit die sober
skool die gemoedelike kuier- engeselslegende beter geleer ken. Ek moes by
geleentheid oudergewoonte self sien hoe ek van Kaapstad af op Hermanus kom.
Buller, met sy Arguskar, het hom oor my ontferm.
Die kuspad het ʼn bult gevat en hy het lomerig uit
die agtersitplek na die hengelaars op die rotse gekyk. “There is no fish in the
sea,” het hy gesê. “It all comes from tins.”
Selfs vir hom was die jaarlikse Holiday
Inntoernooi in die destydse Swaziland beproewend. Ná een besonder bedrywige nag het hy
met ʼn Bloody Mary voor hom en ʼn donkerbril op besluit hy moet kopie stuur. Hy
het ʼn perstelegram in die tikmasjien ingerol en lank gedink. Uiteindelik stoot
hy die masjien terug en sê: “Bugger it, I can’t even think of a slug.”
Ek het Buller die laaste keer by die ou Johannesburgse
Buiteklub raakgeloop op pad van die dooponthaal vir ʼn kollega se kind af
na die TV-nuuskantoor toe ʼn blok hoër op. Hy was toe al redakteur van die
Saterdagse Star en ek gevestig in die TV-joernalistiek.
Ons het vir mekaar vertel dinge is nie meer soos
toe ons nog gholf geskryf het nie. Met die groet sê hy: “No one ever scooped me
as hard and as often as you did. I love you, you bugger”, gee my ʼn toe nog
ongewone druk en loop.
ʼn Jaar of twee later lees ek in sy koerant hulde
deur sy ou assistent, Mike Shafto, by die heengaan van “the finest bar-room
raconteur of them all”. Buller se woorde het my bygebly en laat my nou nog
nederig voel. Tog skryf ek dit hier, want dit getuig duideliker van hom as van
my.
Ek lig my afskaffersglas vir hom. Hy het nie nodig gehad om dit vir my te sê nie.
Nie Buller Hildyard nie.