HANLIE VORNBERG skryf: HULLE sê jy praat nie oor geld nie, jy HET dit. Of jy praat nie oor geld nie, jy GEE DIT UIT! Vanoggend wil ek onverfynd wees en die reël oortree en vertel oor die besoek wat ek onlangs by my plaaslike bank gehad het.
Ná ʼn huwelik van bykans veertig jaar, was ek daaraan gewoond dat Richard al ons geldsake behartig het. Ná ons egskeiding, waartydens hy gelukkig 'n gentleman was en my nie finansieel benadeel het nie, moes ek begin om al my sake alleen te hanteer.
Veral wat die geldsake betref, het ek gevoel soos ʼn donkie op 'n ysskaatsbaan.
Die laaste jaar of wat het hulle by die bank lastig geword. Elke keer as ek iets by die toonbank nodig gehad het, moes ek hoor dat ek meneer so en so moet gaan spreek. Die geld kon nie op 'n spaarrekening bly lê nie.
Hier in Oostenryk kry jy geen rente op jou spaarrekening nie. Ons het nooit iets soos inflasie geken nie, maar sedert Covid en die oorlog in die Oekraïne, het die inflasie hier ook geweldig gestyg en alles het duurder geword. Die bank wou dat ek die geld belê en ek het begin om daaroor te stres.
Toe my pa destyds oorlede is, het my ma die huis verkoop en het sy vir haar ʼn woonstel in die Strand gehuur.
Daardie tyd was die inflasie in Suid-Afrika baie hoog. Sy het my pa met oor die dertig jaar oorleef en ek het gesien hoe ʼn huis se geld vinnig deur so 'n stygende inflasie verorber word. Dit het destyds met baie outannies gebeur. Ek is nou self 'n outannie en as ek onoordeelkundig spekuleer, kan ek in die Donau gaan spring!
Ek het onlangs toe al my moed bymekaar geskraap om meneer so en so by die bank te gaan spreek. Ek het 'n afspraak gemaak. Hy het my 'n paar dae voor die tyd drie keer op my selfoon daaraan herinner.
Ek het voor die spieël gaan staan en oorweeg wat om aan te trek. Netjies, maar nie TE opgedollie nie. Lekkerruikgoed, maar net agter die ore en 'n groot handsak plus ʼn notaboek en ʼn pen om aantekeninge van moontlike beleggings te maak.
Twee menere het my by die bank ingewag en my na die boonste verdieping vergesel. Die kantoor was groot en modern en teen die een muur was 'n reusagtige rekenaarskerm.
Hulle het vir my koffie aangebied, maar ek wou nie nog kafeïne in my gestel inpomp nie. Ek was bewerig genoeg.
“Ek sien u kom uit Suid-Afrika,” het die jonger een gesê. Dis duidelik dat hulle my stamboom bestudeer het.
“Ja,” het ek geantwoord, “uit Kaapstad.”
“Seker 'n mooi stad,” het hy voortborduur. “Ek sien u is in Bellville gebore?”
“Ja, dit is naby Kaapstad,” het ek verduidelik.
Ek het al die jare in die buiteland die feit vervloek dat Bellville op my paspoort staan, en nie Kaapstad nie. Niemand het ooit geweet waar dit is nie!
Die meeste vereenselwig Belleville, soos korrek in Frans gespel, met 'n skorriemorrie buurt in Parys.*
Intussen het die tweede bankman die rekenaarskerm begin voer. Bo in die een hoek was my foto en oral oor die skerm het skielik die naam Bellville uitgespring.
Al die Bellvilles oral in die wêreld. Nie almal dieselfde gespel nie.
Hulle het begin om my met finansiële feite te oordonder.
Het gepraat van beleggings en versekerings, aandele met en sonder risiko.
Hulle het vir my die moontlike winste in persentasies voorgereken en ek het gevoel hoe my ore begin gloei.
Ek het nog nooit 'n kop vir syfers gehad nie. Ek het my wiskundeboek aan die einde van matriek in die braaivleisvuur verbrand.
Ek het hulle oor 'n uur lank so sit en bekyk en toe gesê: “Maar julle twee moet baie ryk wees!” Met soveel finansiële kennis tot jul beskikking en al hierdie wonderlike transaksies wat julle aanbied, het julle seker al baie geld gemaak!”
Toe begin die ouer een my vertel hoeveel geld hy al in die verlede op beleggings en aandele verkwansel het. Die ander een het hom ʼn vuil kyk gegee. Ja-nee, hulle belowe jou die blou van die hemel en as die geluk draai, val jy sonder valskerm terug aarde toe!
“Weet u wat,” het ek hulle onderbreek en ferm met my hande op die tafel geslaan. “Ek kom volgende week weer en dan bring ek meneer Wolf en my eks-man saam.”
Richard, wat self sy lewe lank in internasionale bankwese was en baie ervaring het, het my die wenk gegee om ʼn sekere mnr. Wolf te verlang omdat laasgenoemde ʼn deskundige op die gebied van finansiële beleggings was.
Dis al waarmee hy glo die hele dag lank besig is.
So gesê so gedaan.
Ek het begin om my hierdie keer geestelik op die tweede besoek voor te berei.
Toe my seun jare gelede nadat hy in Kaapstad met vakansie was, by my broer in Kareedouw gekuier het, het hy die dag voordat hy moes terugvlieg ʼn rugprobleem opgedoen. Hy kon nie regop loop nie en hulle het hom nog vinnig na die plaaslike dokter toe geneem.
Sy het dadelik die regte diagnose gemaak. Hy was in pyn en bekommerd en wou weet hoe hy dit gaan regkry om in daardie toestand die volgende dag en nag Europa toe te vlieg. Toe gee sy vir hom 'n pil en sê:
“Luister mooi, ek gee nou vir jou ʼn te-hel-met-jou-pilletjie, jy neem dit môre voor jy vlieg en ek verseker jou jy gaan dit maak tot in Wenen.”Net, sy het sommer prontuit die f-woord voor die pilletjie gebruik.
By my tweede bankbesoek het ek die oggend weer vir my mooi aangetrek en het besluit om ook 'n te-hel-met-jou-pilletjie te vat.
Hierdie keer was meneer Wolf en my gewese man in die groot kantoor.
“Ek sien u kom uit Suid-Afrika,” sê meneer Wolf. “Ja,” antwoord ek. “Ek was ongelukkig nog nooit daar nie, maar dis seker mooi,” sê hy.
“Ja, dis ʼn baie mooi land,” verseker ek hom.
“Ek sien u het 'n Hollandse nooiensvan?”
“Ja,” sê ek.
“Dis ʼn ou Kaapse familie.”
“Ek sien u is in Bellville gebore?”
Uit die hoek van my oog sien ek hoe al die Bellevilles oor die skerm heen en weer flits.
Hierdie keer pla dit my nie. Die pilletjie begin skop.
Ná twee ure was alles verby. Richard kon dinge vir my in die taal van die leek verduidelik en ons het saam die besluite neem.
Die geld moes nou van die spaarrekening na die lopende rekening oorgeplaas word. Van daar af sou dit oor ʼn sekere tydperk bedrag vir bedrag in die verskillende beleggings vloei.
Die voorstelling gee my die ritteltit! Ek kan maar net hoop vir die beste.
Ek gaan tog weer probeer om Bellville op my paspoort na Kaapstad toe te verander.
*Suid-Afrika se Bellville, sonder die Franse "e", is so genoem na die
eertydse Kaapkolonie se landmeter-generaal, Charles Bell. Wat minder
bekend van Bell is, is sy sketse om ou Kaapse familiewapens (later in C.
Pama se boek daaroor opgeneem) vir die nageslag te bewaar; dat hy die
eerste Kaapse posseël (die bende driehoekseël) asook Ou Mutual se drie-
anker-embleem ontwerp het. -- Red.