Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

21.9.22

Elise se ma het die laaste sê

ELISE VAN STADEN skryf: Word ’n onderwyseres, het my ma gesê. Elke ou dorpie het ’n skooltjie. Maak nie saak waar jy woon nie, daar sal ’n onderwyspos wees vir jou. 

Nie dat die beroepskeuses wyd gelê het nie. As ek wou gaan swot, het die beskikbaarheid van ’n lening die rigting bepaal.

Die aansoekvorms is onderteken, die ouers was tevrede en ek was op pad Pretoria toe. 

Maar die hele tyd weet ek: onderwys is nie vir my nie. Ek sal die aaklige opvoedkundeklasse bywoon, ek sal soet gaan eksamen skryf, maar dis waar die storie eindig.  

Met die bemiddeling van Tienie Fourie, destyds my swaer en lid van Dagbreek se sportredaksie, doen ek aansoek om ’n vakante pos in Die Vaderland se vroueredaksie. En ná Kittie Vermaak en Sarie Raadt (later Valentine) in ’n APB-kar by my koshuis in Pretoria uitslaan en ’n onderhoud met my kom voer, het ek ’n werk, maar tot Ma en Pa se ontsteltenis nie in die respektabele onderwys nie.

Tienie Fourie
En op 8 Desember 1969, met my laaste eksamenvraestel skaars agter die rug, begin ek by DV se vroueredaksie. Op my eerste storie – oor nuwe speelgoed wat kindertjies een van die dae onder die Kersboom kan raakloop – is Willie Havenga die fotograaf. Dit is die begin van ’n lewenslange vriendskap. Ek mis hom steeds. 

Eers toe my kinders laerskool toe is, het ek die relatiewe wysheid van my ma se beroepsraad oorweeg. 

Kraamverlof was skraps en ek het voor elkeen van my twee kinders se geboorte bedank en later wanneer die geldnood te seer geknyp het, weer werk gesoek. Nou, het ek gedink, gaan my gewraakte onderwyskwalifikasie sy sout verdien. 

Willie Havenga
Maar nee, ’n onderwyspos vir getroude vrou? Nul beskikbaar. Selfs die vroue wat reeds skoolgehou het, het hul werk verloor die oomblik wanneer hulle aan die arm van ’n bruidegom by die kerkdeur uitgestap het. 

Gelukkig was sub en bladuitleg deel van die vroueredaksie se daaglikse taak. Elke keer wanneer die onderwysdeure toegeklap het, kon ek werk in ʼn subkantoor kry. En van daar af het ek ’n keer nuuskantoor toe verskuif, en by ’n ander geleentheid weer vroueredaksie toe. 

En toe kry ek op ’n dag ’n telefoonoproep van oud-kollega Joan Kruger af. Sy was in daardie stadium die hoof van die Nasionale Pers-tydskrif Sarie se Johannesburgse kantoor – en sy bied my ʼn pos aan.

Joan Kruger
Die oomblik was groot toe ek op my eerste dag by die imposante kantoor in die Norwich Park-gebou in Sandton instap. Ek het ’n knop in die keel gekry: Soveel glas, ʼn tropiese tuin in die binnehof, ’n veiligheidswag in uniform in die voorportaal, dik, sagte volvloertapyt wat die voetstappe in die kantore demp. Alles vlekloos skoon en heel. 

In die Perskorgebou in Doornfontein was daar nie ’n heel, respektabele stoel waarop jy ’n besoeker of ʼn skakelbeampte in haar ontwerpersklere kon laat sit nie. Hier by Sarie het ek ʼn kantoor gehad; nie ʼn glashok nie. Die meubels was nie net heel nie; dit was modern ook. Selfs die potplante het gedy. 

Eers later het ek besef: saam met die deftig kom ’n groot skep establishment by. Die hiërargie was deftig (uitgesluit Joan wat met haar natuurlike charisma haar ou Perskorwortels met haar nuwe Naspersstaanplek versoen het). Die Kaapse redaksie het ootmoedig na die hoofredakteur as “dominee Izak” verwys. In een stadium toe ek ’n storie oor my ervarings by ʼn heldersiende Johannesburgse vrou gaan doen het, is ek ingelig dat die etenstyd-biduurgroep in die Kaap my in sy gebede gemeld het. 

Ek het in ʼn stadium vir Joan gesê Sarie se inhoud handhaaf ʼn koekeloerbeleid. Daar is in elke uitgawe ʼn kykie tussen die lakens, maar in die redakteursbrief voorin en die geselsrubriek op die agterste binneblad word die vonke met ’n Bybelversie doodgeslaan. 

Izak de Villiers
Toe die eerste Sarie-uitgawe ná my aanstelling verskyn, kry ek ʼn oproep van Maretta Bellingham af. Sy het my opgevolg op DV se vroueredaksie. “Besef jy?” klink haar stem oor die telefoon. “Jou baas het nege foto’s van homself in hierdie Sarie gepubliseer.” 

In daardie stadium was ek al ʼn rukkie lank deeltyds aan die studeer vir ʼn honneursgraad in Afrikaans. Ek het ʼn geldjie verdien van skoolhandboeke waarvan ek ʼn medeskrywer was, en ná die graad het ek besluit om ʼn rukkie lank te tjaila en my tyd aan ʼn meestersgraad te wy. 

En dit was lekker. Geput uit my ervaring in subkantore het ek geskryf oor die behoefte van subs aan die leiding van ’n stylboek. Koerantafrikaans spruit uit ’n tradisie wat blyk uit die lang geskiedenis van ook die Britse en Franse pers. 

Maar nóg was die musikalestoeledans van my beroepslewe nie verby nie. 

Kort ná my meesters kry ek ʼn jop by die taaldiens van die destydse Randse Afrikaanse Universiteit en ná my doktorsgraad word ek aangestuur na ʼn vakante doseerplek in die Departement Afrikaans. 

En so raak die sirkel voltooi. En soos dit enige Moeder Met ʼn Mening se reg is, het my ma die laaste sê ingekry. Haar motivering was wel ’n bietjie skuins verby die teiken, maar wie sal nou die ironie van bestaan sy bydrae ontsê.