Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

19.3.23

Oor babas, troeteldiere en koerantsirkulasie – veral troeteldiere

HANLIE VORNBERG skryf: EK het gesien op die foto’s wat die K`rant-skrywers ingestuur het, was baie met hul troeteldiere afgeneem. 

Toe Hermie Hendriks destyds vir ons in die joernalisteskool "Human Interest"-stories verduidelik het, het hy gesê: Plaas 'n baba op die voorblad en jou sirkulasie styg. Plaas 'n baba en 'n hond op die voorblad en jou sirkulasie skiet die hoogte in. 

Ek sien die klomp is maar huiwerig om te skryf ... kom ons rook hulle uit met 'n storie oor troeteldiere! 

Van die lekkerste stories wat ‘n mens dikwels hoor, het met mense en hulle diere te doen. 

Mense is oral baie lief vir hulle troeteldiere. In die Kaap het altyd sulke vuilvaalwitbrakkies rondgehardloop wat soos uitgebasterde Maltesertjies gelyk het. 

Ons het ook so enetjie gehad met die naam van Peggy. Sy was nie gesteriliseer nie en elke keer as sy op hitte was, moes ek en my broer die buurt se reuns van haar af weghou. Op 'n dag het ons halfhartig by die agterhek wag gehou, min wetende dat sy besig was om die reuns op die voorstoep te onthaal. Ons het daardie aand amper nie poeding gekry nie. Gelukkig het die hond nie in die "pudding club" beland nie. (Pudding club is 'n pittige Engelse uitdrukking vir swanger/dragtig wees.)  

Ek in  die jare vyftig met 'n hond, 'n kat en 'n wit parkiet op my hand.
• Toe my ma in die Strand van haar baie ou kat moes afskeid neem, het ’n buurtannie aangebied om saam
te gaan veearts toe sodat hy die kat kon uitsit. Nadat die kat toe haar laaste asem uitgeblaas het, het die twee ou tannies langs die see gaan sit en huil. 

Die tannie, wie die kat skaars geken het, het snot en trane saam gehuil.

"Haai Hanna" het sy vir my ma gesê, "Ek huil nou meer oor jou kat as wat ek ooit oor my man gehuil het toe HY dood is." 

'n Kollega het 'n hond gehad wat verbied was om op die bed te slaap. Die hond het egter elke dag as die vrou gaan werk het, op die bed gespring en homself op die lekker knus beddegoed gaan tuismaak. Wanneer hy die deur hoor oopgaan, het hy dan vinnig afgespring met 'n uitdrukking van botter kan nie in sy bek smelt nie.

Sy het natuurlik geweet van sy streke. Daar was hare op die beddegoed.Toe hy al oud, half doof en mankoliekig was, wou sy hom nie in verleentheid plaas nie.Sy het elke keer die klokkie voor die tyd 'n paar maal gelui, gehoes en geroep sodat hy genoeg tyd sou hê om af te spring en sy onskuld te bewys.

Vriende het ons op 'n keer vir aandete genooi. Die gasvrou was 'n uithalerkok wat 'n varkboud kon braai met 'n krakende swoerd om oor huis toe te skryf. Sy het besluit om die boud reeds die dag voor die tyd te braai en dan oornag op die balkon te sit. 

In die winter, wanneer die temperatuur baie laag is, is dit hier in Oostenryk die gebruik om soms kos op die balkon te stoor. 

Veral 'n pot kerrie wat oornag op die balkon was, is op sy beste die volgende dag. Die gasheer was nie die aand tuis toe sy die kos voorberei het nie. Hy het eers teen middernag huis toe gekom. Hy het gemerk dat die twee honde onrustig was en by die balkondeur staan en krap en stertwaai het. Hy het gedog hulle moes dringend buiten toe en het die deur vir hulle oopgemaak. Op die balkon het die twee groot honde 'n middernagfees gehou! 

Toe die gaste kom, was daar natuurlik 'n nuwe varkboud op die tafel. Die gasvrou het egter gesweer sy gaan die twee honde drie dae lank geen kos gee nie! 

Net nadat ons hier in Wenen aangekom het, het ons die boonste gedeelte van ’n huis gehuur. Onderkant was die eienares van die huis. Daar het sy gewoon saam met drie honde en sewe katte. Sy was 'n weduwee en het net vir haar diere geleef. 

Weggooidiere het almal by haar 'n plekkie gevind. Hulle het haar Persiese matte verfomfaai, het op haar goeie meubels rondgesit, hulle naels skerp gemaak aan haar gordyne en het gekoester op haar kussings en kleedjies. 

Sy was 'n Jodin en het 'n kostelike Joodse sin vir humor gehad. 

Sy het my vertel hoe een van haar katte in 'n hoë boom beland het en nie weer kon afkom nie. Sy het geroep en gepaai en met kos gelok, maar die kat was te bang om te roer. Dit was al laataand en donker toe sy in haar vertwyfelde toestand by die buurman gaan klop het om hulp te soek. 

Die buurman was al in sy nagklere, maar wou graag help. Sy het 'n lang leer gaan haal en sou dit vashou, terwyl hy opklim om die kat af te haal. Net toe hy bo kom en sy arms uitstrek om die kat by te kom, toe glip die koord van sy pajamabroek oop en die broek val af tot om sy enkels. 

"En TOE?" Wou ek weet en kon nie my lag hou nie. "Toe kom die maan uit," het sy geantwoord "en ons het die kat gered!" 

My broer en sy gesin het jare lank altyd worshondjies gehad. Een Sondag toe sy buurman vleisbraai, moes die worsies daar gaan snuffel het. Kort voor lank het elkeen met 'n tamaai groot lamtjop in die bek huis toe gekom. Die familie het maar daardie Sondag uit die bure se pad gebly! 

Ons eerste hond hier in Wenen, was 'n Beagle met 'n Rothweiler-nuk. Sy was dierbaar, maar het ook soms gebyt. Toe sy ouer was, moes ek baie versigtig wees. Op 'n dag het 'n meteropnemer gekom om die elektrisiteit te kom aflees. Sy het nie van hom gehou nie, het hom aan die broekspyp gegryp en sy broek geskeur.

Hy het geen bytplek aan sy been gehad nie, maar het 'n drama daaruit gemaak.Om die vrede te bewaar het ek toe aangebied om vir 'n nuwe broek te betaal. Dit was sommer so 'n ou poliëster-werksbroek. Weke later kom hy toe by my lui en gee vir my die rekening van 'n spoggerige ontwerpersbroek wat hy vir hom in die binnestad by een van die vooraanstaande winkels gaan uitsoek het! 

Almal wat honde ken, weet dat hulle soms graag op mense se bene ry. Dit kan jou behoorlik in die verleentheid bring. Ek ken 'n gesin in die Oos-Kaap wie se Terriër alles van 'n besem tot 'n mop en 'n skropborsel bespring het. Die reun het veral 'n voorliefde vir die dominee gehad. 

Hulle het aan die Engelse kerk behoort en toe die predikant weer op huisbesoek kom, het die hond dadelik vir sy lang bene en bruin skoene kans gesien. Die man was in 'n verskriklike penarie, sien toe gelukkig 'n oopgemaakte pakkie Marie-beskuitjies op die tafel lê en besluit om die hond se aandag daarmee af te trek. 

Die hond wou egter van niks weet nie. Die dominee, natuurlik bewus van die man se nood, sê toe ewe droog: "Well, would YOU stop for a biscuit?" 

In die jare vyftig in die Kaap, was daar nog baie Bruinmense met perdekarre wat met vis en groete gesmous het. Die streng groepsgebiedwette het jare geduur om uitgevoer te word en van hulle het nog aan die rand van wit woongebiede gewoon. 

Een van die perde het een nag vir iets geskrik, het losgeruk en op loop gesit. Hy het met sy voorkop direk in ons buurman se motorhuisdeur ingehardloop en morsdood neergeslaan. Die bure was Hollanders en ek het iemand hoor sê: "Die Hollanders eet mos perdevleis ... so hulle moet nou maar die perd slag en eet." 

Natuurlik het hulle nie die perd geëet nie. Die munisipaliteit het die perd die volgende dag verwyder. 

Die storie het egter in my kop bly spook. Ek was lief vir perde en was nog te klein om die kloutjie by die oor te kry. Vandaar af het ek die arme meneer De Jong net nog altyd met 'n perdekop met 'n bril op gesien.

Ek het my liefde vir diere by my pa geleer. Hy het, soos 'n towenaar, gereeld hondjies, katjies en hasies uit sy sak getrek om ons daarmee te verras. Indien iemand êrens 'n opteldiertjie gevind het, het hulle en dit na my pa toe gebring. 

Tydens my matriek eindeksamen was ek natuurlik in stres en my pa was daarvan bewus. Die dag voor ek geskiedenis moes skryf, was ek besig om oor die Edik van Nantes te leer. Dit het met die vervolging van die Protestante te doen gehad het. Toe klop my pa aan die kamerdeur, kom in en toor 'n snoesige hondewelpie uit sy sak. 

Onder die indruk van NANTES het ek hom Nanti genoem. Hy het my deur die hele eksamen getroos. 

Sy groot liefde vir diere het daartoe gelei dat ek as kind ook gedurig diere gered en huis toe geneem het. Iets waarmee my ma nie altyd so in haar skik was nie. 

Toe ek ses jaar oud was, was daar 'n troue in die familie. Dit was 'n verlangse neef wat met 'n tengerige, onooglike vroutjie getrou het. Hy was lank en slank met 'n Clark Gable-snorretjie, en niemand kon verstaan hoe hy in haar sin gekry het nie. 

Van die tantes het haar 'n verspotte skepseltjie genoem en ek was die ene ore wanneer hulle oor haar gepraat het. Siestog, sy was glo 'n weeskind en haar naam was Martha, maar almal het haar Mattie genoem. 

Maande na die troue het ek weer 'n verlore en verwaarloosde katjie oop 'n leë erf naby ons huis gevind.

Muffin.
Sy was in 'n jammerlike toestand en ek het vir haar 'n bed in   my popwaentjie gemaak. Die popwaentjie was pienk en uit rottang en ek het dit my "mandjiepram" genoem. 

Die kat het lekker gelê terwyl ek haar oral rondgestoot het. Een middag het twee kinders by die waentjie kom inloer en vir my gevra: "Wat is jou katjie se naam?" 

Die kat was nog nie benoem nie en hulle het my bietjie onkant gevang. Ek het die droewige skepseltjie so bekyk, sy was maer, 'n bietjie brandsiek en het 'n skewe ogie gehad wat half toe was. Ek het nagedink en oorweeg. "Mattie, het ek ewe kordaat geantwoord, haar naam is Mattie." 

Nou, op my oudag, leef ek saam met my pragtige Havaneser hondjie, Muffin. Sy versoet my lewe elke dag en ek wens ek was die wonderlike mens wie SY dink ek is! 

My kinders, Christian en Birgit in die jare tagtig met ons eertse Beagle, Angie.
 
My dogter Birgit met ons tweede Beagle, Becky.