Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

9.10.22

Wat ʼn arm kind beleef het – in woord en beeld

FRANS ESTERHUYSE wyk ietwat af van die gewone aard van die bydraes wat K’rant ontvang en vertel die storie wat ʼn arm kind beleef het – en hy span sy talente in om dit in woord en beeld aan te bied. 

Behalwe die skilderye en sketse waarmee hy sy storie ophelder, stuur hy ook bladsye uit sy sketsboek waarin hy sy kleintydse storie vertel. 

Frans skryf: Ek is in 1941 in Johannesburg gebore. Ons het in Ophirton gebly wat aangrensend aan Booysens was. Jy het nie sommer aan iemand vertel dat jy in Ophirton bly nie. Net arm mense het daar gebly! Ons was arm. 

Van kleins af het ek geteken, was nie baie goed nie maar ek
het as skoolkind geld verdien deur medeleerlinge se bloemlesings te illustreer vir twee sjielings. In standerd twee was daar ʼn meisie wat my aandag heeltemal in beslag geneem het. Sy was Agnes Olivier. Haar nefie was ook saam in ons klas en hy was Gert van der Westhuizen. Natuurlik het ek goeie vriende met hom geraak. Ek het vir hom gesê ek sal haar bloemlesing illustreer, verniet! Sy het ingestem en ʼn toffie vir my gegee om te eet! 

In standerd twee het ons al begin rugby speel met rugbyskoene aan. Ek het senter in die span gespeel en het die teenstanders altyd onder hulle knieë geduik en gras toe gebring ... my val saam met hulle gras toe was net so seer! 

Na skool het ek ʼn heeltydse driejaar-kursus in handelskuns voltooi en so my loopbaan begin. Ek het ook in skilderkuns studeer. 

My loopbaan het by die koerantwese aangesluit waar ek advertensies vir koerante verwerf het. 

Oggendblad is gestig en ek het as die politieke spotprenttekenaar daar begin. Die koerantmense ken die gebeurtenisse wat tussen koerante ontstaan het en Perskor het gesluit. 

Ek het eers verder privaat gewerk en is toe deur Beeld aangestel as die politieke spotprenttekenaar. 

 Ek het ook private strokiesprente gemaak en so is Floors gestig. (Gewilde strokieskarakter in Oggendblad). 


Bo: Ek is op 24 September 1941 in hierdie sinkhuisie, Booysenweg 121, Johannesburg, gebore. Ons was arm. Ons was nie bewus van iets beter nie, en was dus redelik gelukkig. Ons huisie het voor die Robinson Deep-myn gestaan. Pa het eers op die myn gewerk. Hy was ʼn draaier ... die een helfte van ʼn passer en draaier. Wanneer Pa saans tuis gekom het, het hy van die baie harde dag se werk na sweet geruik. Hannes en ek moes al om die ander aand beurte maak om sy voete in ʼn skotteltjie te was. Ma was besig om die aand se ete te maak. Dit was gereeld maar rys, vleis en aartappels. 

My ma-hulle was drie sussies waarvan sy die oudste was. Hulle pa was ʼn Skot wat nie Afrikaans kon praat nie en hulle ma was blind. Die Skotse pa het ʼn plaas gekoop en daar geboer. Hulle het ʼn baie goeie bestaan gemaak totdat hulle pa skielik gesterf het. Hulle familie het die plaas oorgeneem. Die drie dogtertjies moes in die motorhuis bly en die familie almal in die plaashuis. Die boerdery het agteruit gegaan en die plaas moes verkoop word. Hulle drie dogtertjies het elkeen ʼn bietjie geld gekry en almal moes die plaas verlaat.

My ma-hulle het maar getrou en so ʼn bestaan probeer maak. Ek was die oudste seun van die gesin wat sewe kinders gehad het. 

My pa het met haar geld ʼn vragmotor gekoop en so ons bestaan probeer onderhou. Die vragmotor-bedryf het ook nie gewerk nie en my pa het weer met sy bestaande werk voortgegaan. Ons het as gesin maar weer onder die omstandighede voortgeleef en ek het later toe ek groot geword het besluit om te gaan studeer. 

Bo: ‘n Chev-vragmotor is deur my pa aangekoop vir vervoerdienste wat hy gedoen het. Wanneer hy vroeg in die oggend gery het, het ek agter die enjin in die binnekant weggekruip. Het eers as hy ver weg was, uitgekruip tot my pa se verbasing. Die presiese model was ʼn Canadian Chevrolet model C-60X van 1944. 

Bo:  Dis 1947 – ek gaan skool toe. Dis die Laerskool Heronmereweg in Booysensweg, Booysens. Graad 1: Ek dra my eie skooltas met my eie volkleurboek in. Om skielik tussen so baie kinders te wees, is opwindend. Elke oggend voor die skool begin, staan elke klas se kinders in rye voor hul klas. Mnr. Van der Merwe, die skoolhoof, doen eers afkondigings. Die klas wat eerste al hul skoolfonds insamel, kry ʼn geraamde skildery om vir ʼn hele maand in hul klas te hang. Daar word ook ʼn gebed gedoen voordat ons die klas instap. Daarna stap ons baie stigtelik die klas binne op die maat van militêre musiek wat oor luidsprekers gespeel word.

Die top op die skets is die Oranje Blanje Blou genoem – of sommer in seunstaal ʼn botterkop. 

Om top en kennetjie te speel, was ons seuns se hoof-tydverdryf. Elkeen het ʼn spesifieke stel reëls gehad waarby gehou moes word. 

Wat almal gelok het, was rugby. Om in die rugbyspan te wees, was ons seuns se droom. Om in rugbyskoene voor die meisies verby te stap, het jou baie goed laat voel. Veral as een van die meisies Agnes Olivier was. Sy het pikswart hare gehad met die diepste van diepblou oë in die wêreld. Haar nefie was ook in ons klas en ek het natuurlik baie goeie vriende met hom geword. Sy naam was Gert van der Westhuizen. Gert het ʼn ouer broer gehad wat baie goed kitaar kon speel. Sy naam was Manie. 


Bo: Ons Graad 1 juffrou was juf. Smal. Ma gee vir my die mooiste boek in kleur, wat daardie tyd baie skaars was, saam skool toe. Juf. Smal leen hom by my om aan die klas daaruit voor te lees. Ek het baie belangrik gevoel. 

Ek kan nie onthou wie vir ons in graad 2 klas gegee het nie. In standerd 1 was ons onderwyseres juf. Blaregroen, van Nederlandse afkoms. In standerd 2 kry ons klas by mnr. Booyens, wat ook ons rugbyafrigter was. 

In standerd 3 gee juf. Maritz klas waar ek ʼn groot belangstelling in Geskiedenis ontwikkel het. Veral onthou ek die oorlog tussen die Spanjaarde en die Hollanders wat tagtig jaar geduur het. Daardie jaar was genl. Jan Smuts die leier van Suid-Afrika, ons land. 

Op die skets van die Laerskool Heeronmeerweg se o/12-rugbyspan van 1952 verskyn Frans vierde van regs in die agterste ry. Sy vriend Gert van der Westhuizen staan vierde van links in dié ry. Cyril Els, derde van links, het van 1967 tot 1971 vir Transvaal gespeel. Die onderwysers is mnre. Booyens, Van der Merwe (skoolhoof) en Venter. 

Agnes Olivier is die nooientjie links onder. 

Dit was vir ons belangriker om te weet wie die hoof van die skool was as om te weet wie die leier van die land was. Genl. Smuts het tweede gekom. Mnr. Booyens en mnr. Mansveld het met hul motors skool toe gekom. Mnr. Booyens het ʼn groen 1930 Chevrolet gehad en mnr. Mansveld ʼn blou 1948 Plymouth. Hul gereelde parkeerplek was onder ʼn groen wilgeboom. 

Bo: Om “dorp” toe te gaan – dit was nou die middestad van Johannesburg – het ons saam met Ma die trem gehaal. Die trem was rooi. Ons het ons beste klere aangetrek wanneer ons dorp toe gaan. Ek, my ouer sus, Tokkie, en Hannes het elkeen ʼn sjieling sakgeld gekry, wat daardie tyd ʼn baie stewige bedrag vir ʼn kind was. Die kondukteur op die trem was baie bedrywig. Wanneer ek alleen moes trem ry, het ek onder gaan sit as hy in die boonste deel van die trem werk. ʼn Mens hoor dan duidelik die “trieng-trieng” van sy kaartjiemasjien. Kom hy ondertoe, dan gaan ek boontoe. Die trem het ʼn stel trappe aan albei kante gehad. So het ek sewe pennies ʼn keer gespaar. Dié geld was om duiwe te koop. ʼn Seun moet duiwe en ʼn hond hê. 

Bo:  Eoffstraat is beleef as die belangrikste straat in Johannesburg. 

Bo:  Ek was as kind heeltemal deur stoomlokomotiewe oorweldig. Ons het gereeld by my ma se suster in Vereeniging gaan kuier per trein wat net in daardie tyd deur stoomlokomotiewe getrek is. 

Bo:  Die swart motor op die skildery en skets was ʼn Chevrolet wat aan ʼn oom behoort het by wie my ma-hulle altyd ʼn entjie van Vereeniging af gaan kuier het. Dit was vir my as kind wonderlik om in hierdie voertuig saam met die familie te ry! 

Bo:  Dié groentelorrie het gereeld groente in ons omgewing kom verkoop. 

Bo: Hierdie bome is geskilder vanaf ʼn foto wat ek geneem het tydens ʼn toer in Rusland. 

Bo:  Grepe uit die ervarings van Frans se strokieskarakter Floors.