Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

18.2.23

Hanlie herleef die wonder van die boom en die Appelvrou

HANLIE VORNBRG skryf: IN die tuin van die huis wat ons drie jaar lank in Kopenhagen gehuur het, het ’n ou appelboom gestaan. Die boom was oor die honderd jaar oud en so hoog soos die dubbelverdieping self. Elke laatsomer, tot diep in die herfs, het die boom in drag gestaan. Swaar en mat soos 'n markvrou met arms vol appels. 

Die takke het in hulle oorvloed af aarde toe gebuig en ons het op ons tone gestaan en gepluk en gepluk. Soms het ons op 'n leer geklim om in die hoogste toppe by te kom maar die boom wou net nooit kaal word nie! 

Wanneer die herfswinde begin waai, het van die appels afgeval en oor die hele grasperk gerol waar sommige verrot en ander deur die slakke toegetakel is. 

Ek het soms 'n slegte gewete gehad en die oorvloed appels het my laat dink aan die vragte vrugte wat, om die pryse te beheer, as oorskot op die Europese markte, in die see of êrens op 'n stortplek beland het, terwyl skrikbeelde van verhongerde kinders in Afrika oor die televisieskerms flits. 

Ek het geweet dat so 'n vrugbare boom in my ma se tuin geen probleem sou wees nie. Of in die tuin van enige Boeretannie wat haar sit en opstaan in die kombuis tussen die konfytflesse en die terte geken het! Ek het egter nog nooit konfyt gekook of 'n vrug ingelê nie! 

Ek en die kinders het mandjies vol appels opgetel en bespiegel wat ons daarmee gaan doen. Dit was kookappels en nie eetappels nie. Sondae het ek appels geskil vir appelpoeding met vla of vir appeltert met room. 

Regs: Die tekening van die appelboom het my jongste kleinseun, Daniel, vir my geteken. Ek het ongelukkig nie ʼn foto van die egte boom nie!

Dan was daar nog appelmoes by varkboud en natuurlik Apfelstrudel soos dit in Oostenryk gebak word. Die Weners is ook lief vir Apfelkompott. Die appels word met 'n stukkie kaneel en suurlemoenskil gekook en dan in die yskas afgekoel. 

Dis 'n verfrissende nagereg op 'n warm dag. 

Een jaar het ons die boom pas voor die snerpende winter kaalgestroop en skottels vol appels op die rakke in die ysige tuinhuisie gepak. Só het die voorraad lank vars gebly. Om alles te kroon het Richard op 'n dag 'n kollega uit Amerika genooi wie se vrou gespog het met haar appelkunste! Hulle het ook so 'n knewel van 'n appelboom gehad en sy het vertel hoe sy appels oes en skil en inlê en vries en verwerk en appeljellie maak en Apple Pie, Apple Merinque en Apple Charlotte. Veral haar appeljellie was glo skougehalte! 

Dié middag, nadat sy weg is, moes die boom my innerlike wroeging aangevoel het, want toe ek laatmiddag in die tuin gaan draai het 'n perfekte ronde, egte Cézanne-appel reg op my kop geval! 

Die volgende oggend het 'n wonderwerk gebeur. 'n Ware engel in die gestalte van 'n appelvrou het kom klop en voor my op die drumpel gestaan. 


Sy het 'n egte Rooikappie-mandjie in haar arm gehad en kom vra of sy nie asseblief van die appels mag pluk en optel nie. Ek was oorstelp van vreugde en het vir haar die tuinhekkie oopgemaak. 

Ek het deur die venster staan en kyk wat sy doen. Die kneusplekke aan die vrugte het haar min gepla. Sy het die bruin vlekkies bekyk, teen haar rok afgevee en saam met die mooi appels in haar mandjie gepak. Later het sy nog ou sakke uit haar baadjiesak uitgehaal om ook dié met appels te vul. 

Dae later, toe ek die oggend uitgaan om my inkopies te doen, het ek amper gestruikel oor 'n bondel voor my op die grond. Die inhoud daarvan was in 'n doek toegeknoop. Dit was twee flesse met appeljellie. Die mond van elke fles was netjies en styf oorspan met rooi en wit geruite stof. Ek het dit teen die lig gehou en dit het geblink soos die druiwekorrels in my ma se skoukonfyt. 

By die bakker het ek vir my varsgebakte brood gaan koop en tuis die heerlike appeljellie by my tee geniet.

Die Appelvrou het weer en weer kom pluk. Ek het haar bedank vir die jellie, maar sy het dit met 'n vinnige handbeweging afgemaak en wou nie daaroor uitwei nie. 

Flessies met appeljellie.
Sy kon pluk soveel sy wou en as wederdiens het sy my weekliks met flesse vol appeljellie beloon. Dit het vir my kompleet gelyk asof die boom nou eers werklik sy volle drag uitgestoot het. 

In die spens was my rakke nou gevul met appeljellie. Ek moes vir Richard vra om vir my ekstra rakke in te bou. Sommige flesse was met wit en blou geruite kopdoekies bedek en ander weer met rooi. Die geheelbeeld was 'n ware fees vir die oog. 

Dit was nou my eie klein skatkamer, my persoonlik triomf, 'n wedywering met die natuur, 'n oorwinning oor die boom. Ek het graag appeljellie vir gaste voorgesit. Ek het appeljellie as klein geskenke vir vriende saamgeneem. Bekendes het oor my wonderlike appeljellie begin praat. 

Ek het hulle hoflik en met 'n glimlag vir die komplimente bedank. 

Ek het hulle nooit reggehelp nie!