Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

17.8.22

Skattejag op Graaff-Reinet

GERHARD BURGER skryf: Partykeer slaan die déjà vu ʼn mens mos doef! teen die voorkop. Selfs byna 60 jaar nadat jy ʼn belewenis gehad het wat jy lankal vergeet het. En nou onthou jy dit asof dit verlede week was.

So ʼn ruk gelede gebeur dit weer hier in die Baai toe die Volksie aandag nodig het. Maar eers ʼn stukkie agtergrond. 

Ek het mos ʼn ruk by Die Oosterlig gewerk voordat die APB in sy begroting ruimte geskep het om my Vaderland toe te lok. Teen R90 per maand, met die vooruitsig van tot R20 ekstra as ek soms vir Dagbreek ook werk. 

Teen dié tyd was ek al so te sê die spesialis-stoepskrywer by Die Oosterlig; nog voordat my droom bewaarheid is en ek sportkantoor toe kon skuif; saam met Alex Kellermann en Phil Zaayman en Toy Mostert. 

Herinneringe aan daardie dae tref my nou die dag toe ek by Nel’s Trimmers instap om die bekleedsel teen die Volksie se plafon te laat terugplak. Dis nie die beste deel van die Baai nie, maar die mense is gaaf. Hulle luister toe ek vra hoe lank dié plek al bestaan. 

Ek vra, sê ek, omdat ek ʼn spesmaas het ek was al tevore hier; toe die plek aan ʼn oubaas behoort het wat op Graaff-Reinet ʼn gat laat grawe het nadat hy gedroom het daar lê ʼn skat onder die grond in die Botaniese Tuin. 

Oupa Jan! sê hulle. 

Dit was groot nuus in Die Oosterlig; seker twee of drie weke aaneen. In Newtonpark staan nou nog ʼn groot klip wat destyds daar uitgegrawe is en waarop "Treasure- Stone" uitgebeitel is. 

Toe kom daardie herinneringe terug: van oom Jan wat die droom van die skat gehad het en hoe ons ondersoek ter plaatse gaan instel het en hoe die munisipaliteit toestemming gegee het dat hy daar naby die rugbyveld mog gaan grawe, solank hy die gat mooi toegooi. En die skat met die mense van Graaff-Reinet sal deel. 

Ek moes met die trein Graaff-Reinet toe ry en naweke terugkom, maar Naspers het genoeg geld gehad dat ek in die ou Drostdy kon tuisgaan. En elke oggend – die spertyd vir die eerste uitgawe was seker tien- of elfuur se kant – het die teleksoperateur by die poskantoor die varsste nuus van die vordering Oosterlig toe gestuur. 

Teen die middel van die tweede week was daar groot opwinding, want die grawery het "warm" geraak. Die instrumente het gewys daar is metaal. Die Oosterlig se verkope het gevat-vat aan die 10 000. 

Dié stuk klip, as ‘t ware ʼn gedenkteken aan die groot 

skattejag op Graaff-Reinet, circa 1964, staan nou nog by 

die tuinhekkie van ʼn huis in Port Elizabeth. 

Ofte wel Gqeberha.

Die grawers het op ʼn emmer of ʼn ding afgekom, maar die hoop het nie gekwyn nie. Die grawery het nog ʼn ruk aangehou, totdat oom Jan toegegee het: miskien het hulle op die verkeerde plek gegrou. Want die skat ís daar; dit ly nie twyfel nie, want in die droom was dit so helder soos daglig. 

Dalk lê die skat nou nog daar. 

Nietemin, ek het die "Treasure-Stone" gaan soek – en gekry; vlak langs die outydse hekkie van ʼn bejaarde huis. 

En wie woon in die huis? Jimmy Enslin se dogter. Jimmy, wat familie van oom Jan was en heeltyd saam met ons langs die gat was. Iewers, sê sy, het iemand in die familie nog daardie uitknipsels uit Die Oosterlig. Hulle sal soek. 

En onthou ek nog, vra sy, hoe dit in oom Jan-hulle se huis gespook het terwyl die grawery aan die gang was? Daar was ʼn goëlery en ʼn gees wat almal op hol gejaag het. Dit het opgehou nadat die grawery op Graaff-Reinet opgehou het. 

  • Ek het destyds, so tussen die skatgrawery deur, heelparty Graaff-Reinetters leer ken. Onder andere die ewebeeld van Penny Coelen. Maar dis ʼn ander storie.