Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

16.9.22

Ian vind ʼn holte vir sy Kaapse voet

IAN SMITH skryf uit Kaapstad: Toe Piet Ebersöhn my onlangs vra wat ek deesdae doen, was die versoeking groot om te antwoord … niks, absoluut niks nie. Hoe salig sou dit nie wees nie, maar ook ʼn totale leuen.

Iemand het jare gelede vir my in Johannesburg gesê ek's eintlik maar ʼn Kapenaar wat wag om uit die kas te klim. En hier's ek nou: al 18 jaar uit die kas uit.

In April 2004 het ek 'n Kaapse "inkommer" geword na 'n halfeeu in Jo'burg. Daar gebore, skoolgegaan, gewerk en getroud. Die verplanting was maklik; seker maar altyd 'n Kapenaar soos destyds beweer is. Die kliekerigheid hier waaroor baie semigrante kla het ek nie ervaar nie. Maar, dan: voordat ek afgetrek het, het ek 'n hele hand vol Kaapse vriende gehad. Dit maak 'n groot verskil.

So, deesdae woon ek in die voorpoorte van die hemel (Kaapse snobisme!) maar teen 'n prys. Soos seker heelwat van my koerantkollegas van destyds ervaar, koop 'n karige Perskor-pensioen nie ʼn lewe van luukse nie. Ek moet steeds werk om te kan bestaan.

In die vroeë jare hier, is hierdie bevoorregte bestaan befonds deur die reklamebedryf. Ná my begin in die joernalistiek in 1973 by Die Transvaler, het ek daarna ook ʼn paar draaie in die reklame gegooi as tweetalige kopieskrywer.

So, ek het toe hier vir my laaste agentskap in Jo'burg, plus ʼn paar ander, begin werk̶  oor die internet, alles virtueel. Te lekker: g'n verkeer, g'n dralende vergaderings, g'n kantoorpolitiek nie. Rondom 2016 het hierdie stroompie ongelukkig opgedroog en ek's terug na my koerantwortels.

Gelukkig kon ek terugval op my sub-ervaring by Die Transvaler en Rapport, en op zijnIngels wat die reklame my geleer het.

Ek sub deesdae vier sportwebwerwe se Engelse kopie vir Highbury Media. Gelukkig steeds kubergewys, en kan nie sê ek mis vergaderings en die berugte Kaapse verkeer nie!

Op 'n meer persoonlike vlak: Ek is in 1975 met Ina Botha getroud ná 'n "Transvaler-romanse". Sy het destyds saam met redaktrise Anne-Marie Mischke in die vroueredaksie gewerk. Ons is in 1995 geskei en Ina woon steeds in Jo'burg.

Nietemin, die "vrug op ons arbeid" is drie wonderlike kinders: twee dogters en 'n seun. Nina, die oudste, is onderwyseres by die Duitse Skool in Parktown en het al 'n kleindogter, Kathryn Hannah, tot die Smith-troppie bygedra.

My klong, Xander, woon en werk as reklame-kopieskrywer in die suidweste van Frankryk. Hy's getroud met Parysenaar Ludmilla (van Armeense herkoms) en hulle het al twee bydraes tot die genepoel gelewer: Elia en Isadora.

Die laatlam, Danelle, het lank hier by my in die Kaap gewoon en gewerk. Sy's twee jaar gelede terug Jo'burg toe en is 'n video-redigeerder.

My Perskor-pad:

(Volwaardige onthulling: Ek en Piet E ken mekaar van die Puk (NWU) af. Ons was saam in die gatskop-koshuis op kampus: Over de Voor. Ek het so 'n raps voor hom by Die Transvaler begin.)

l Het met 'n Perskor-beurs BA Komm in 1970 op die Puk begin swot. ʼn Vierjaar-kursus, maar die finale jaar het ses maande prakties by 'n koerant ingesluit̶  in my geval Die Transvaler. So het ek dan middel 1973 in Aucklandpark ingeval in die nagkantoor. Met varsity-verwaandheid gedink ek kon al sub, maar my mentors̶  die stoiëse Peet Smit en vlymskerp Frikkie van der Walt  ̶  het duidelik nie. Soos alle groentjies moes ek eers die Sapa-masjien beman en repe vullers vir vertaling afskeur. Het darem maande later tot volwaardige sub gevorder toe ek permanent aangestel is.

Koos du Plessis
In daardie tyd het ek ook vroegoggend by Die Vaderland gesub (na ʼn laat nag by suster DT). Dit was nou vir ekstra geld om ʼn verloofring te kan bekostig; ai, wat ʼn man ook nie vir die liefde sal doen nie. Wat my veral nog bybly, is die veraf indruk van Koos du Plessis in sy hoofsub-hoek: stil en diep. Min het ons toe geweet hy's 'n reuse-Afrikaanse musiek-ikoon in wording …

l In 1975 het Rapport goedgunstig my beurs oorgeneem en ek het by "Die Skooltjie" (Richmond Laerskool, Stanleyweg, Richmond, Johannesburg -- Red.) 'n klipgooi van die Perskor-gebou af, ingeval. Toe vir die eerste keer stories begin doen as algemene verslaggewer; Saterdae het ek gesub. Lang, lang Saterdagnagte … baie stories, baie drank ná saktyd. Later het ek Tydskrif-Rapport gesub en opgemaak.

Rykie van Reenen
Die groot geeste van daardie tyd, vir my, was die redakteur, Willem
"Ysterman" Wepener, en een van sy assistent-redakteurs, Rykie van Reenen. Wepener, veral weens sy sterkman-aura. Niemand het met hom gemors nie, nie eens NP-ministers nie … en, Rykie, ai. Vlymskerp intellek, meestal wars, altyd innemend. En laat ons nie Chris Vermaak vergeet nie. Sekerlik een van die beste misdaadverslaggewers wat ons joernalistiek nog opgelewer het. Vra jy vir Chris, "Hoe lyk dit?", was sy antwoord altyd, sonder weifeling: "Grim, f
*kkengrim." G'n wonder dit het sy bynaam geword nie …

Chris Vermaak
l In 1978 het die groot jeuk my beetgekry en ek het die reklamewêreld aangedurf. Die gejeuk het bedaar toe ek in 1983 weer terug is Rapport toe. Die "misdaadtoneel" het toe intussen van Aucklandpark na Doornfontein verskuif.

l Sakkie Perold was redakteur en hy is later opgevolg deur dr. Wimpie de Klerk. Die vader van "verlig en verkramp" het ek so skrams van die Puk af geken. Hy het vir eerstejaars 'n verpligte kursus aangebied genaamd "Interfakultêre Wysbegeerte" (bid jou aan).

Algemene verslaggewing was my voorland. Ons is destyds baie platteland toe vir "atmosfeerstories", sommer vir 'n week. Lekker tye. In 1983 het ek nuusredakteur geword in die wurggreep van die Totale Aanslag. My vuurdoop het gekom in die vorm van die Pretoria-bom en Westdene-busramp. Die sirkulasiesyfers van daardie era klink vandag ongelooflik: oor die honderdduisend.

Johannes Kerkorrel
Uit die nuusredakteurstoel het ek weer by Tydskrif-Rapport beland. Aansienlik minder stres, natuurlik. Saam met my in die redaksietjie was ene Ralph Rabie. Stil, gemoduleerd as hy wel praat, wye glimlag altyd. Uitstekende sub, maar teruggetrokke.

Totdat hy in die laat tagtigs in die Black Sun in Hillbrow ontplof het. Hel, waar was jy al die tyd, Ralph?! Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band het koppe begin oopskiet. Kyk jy vandag terug, besef mens hoe ingrypend daardie kopskuif sommige ons voëlvry verklaar het. Dankie, Ralph, dat jy geglo het. Dat jy opgestaan en gedoen het. En vir die gedeelde kantoorruimte. Rus in vrede.

l In 1988 het die Groot Jeuk weer begin en ek's terug reklame toe.

Ná 40-jaar-plus in die kommunikasiebedryf het ek dan in 2004 uit die kas geklim en 'n holte vir my Kaapse voet gevind.