Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

25.3.23

Wat ‘n affêre was dit nie!

JAPIE BOSCH skryf:  IN 1970 – ná ‘n jaar se skoolhou – het André Verster my as ‘n verslaggewer  by Die Vaderland aangestel.   Ons almal was verslaggewers.  Deesdae is almal joernaliste.

Frans du Toit was die nuusredakteur vir wie ek baie respek gehad het.  AM van Schoor was hoofredakteur.  Ons het hom selde gesien.

Paul Kruger het my munisipale verslaggewing geleer.  Die jare daarna was ‘n universiteit vir my. Daardie agtergrond was van groot waarde in my latere loopbaan.


In
Frans du Toit
Paul Kruger
1975 het ek Douglas Jones as nuusredakteur opgevolg.  In die opeenvolgende jare was daar ‘n paar gebeurde wat groot spanning en frustrasie vir almal – die redaksie, die advertensie-  en sirkulasieafdeling en die mense by die drukpers  --  meegebring het. 

Eers het televisie (net saans) gekom.  As ‘n middagkoerant moes ons wedywer vir lesers se tyd.  Televisie het ver gewen.  Die verkope het gedaal.

‘n Ruk daarna het die drukpers van Aucklandpark na Doornfontein verskuif.  Wat ‘n affêre was dit nie!  Die redaksie sit in Aucklandpark en die drukpers is 5 of 6 km vandaar, anderkant Hillbrow en die middestad.  Kopie, bladplanne en foto’s is in koeverte geplaas en na Doornfontein per motor aangery.  Dit was spistydverkeer en daar was ongelukke.  Enigeen wat dié pad soggens gery het, sal weet dis 'n nagmerrie.  Bestuurders wat die redaksiemateriaal moes aanry, het soms verdwaal en 'n paar keer het die koeverte net weggeraak.  Alewig laat op straat.  

Die pad tussen Aucklandpark en Doornfontein met Hillbrow in die middel.

Terselfdertyd (of net voor of ná bogenoemde -- ek kan nie onthou nie) het die koerant kleur begin druk. Fotograwe moes kleurskyfies neem vir dié doel.  Daarna moes die kleure geskei word voordat plate vir elke kleur gemaak is. Nog baie tegniese probleme  en nog later op straat.  Verkope het gedaal. 

Sirkulasiebestuurder Hennie Human se oplossing was om ons spertyd te vervroeg van 10:00 na 09:00 en 'n rukkie later verder na 08:00.

Vir ‘n middagkoerant in Johannesburg! 

Hennie Human
Hennie Human was gereeld by redakteur Dirk Richard.  Daar was druk vir ‘n nog ‘n vroeër  spertyd, maar ons het vasgeskop. 

Op ‘n manier het ons aangepas.  Een daarvan was dat Hannes de Wet, toe hoofverslaggewer, elke dag met ‘n ander span verslaggewers gesorg het vir ‘n “Vaderland-ondersoek”.  Dit was baie suksesvol.  

 

In ‘n stadium het ons ‘n nagkantoor gehad.  Dit was minder suksesvol.

Feitlik die hele koerant is die vorige dag voor 16:00 afgehandel.  Onthou die meeste van die redaksie was reeds 06:00 op kantoor.  Net bladsy 1 en 3 het soggens vir nuus oorgebly.  En hoe en waar kry jy nuus en reaksies/kommentaar daardie tyd van die oggend?  Mense was skaars op kantoor. Om 07:30 het hoofsub John Moody al gevra waar is die hoofstorie. 

John Moody
Hannes de Wet
Ek onthou dat ek eendag vir Koos Botha van Die Transvaler gesê het dat, ondanks alles, het ons darem nog elke dag ‘n koerant met ‘n hoofstorie gehad.  Sy reaksie was:  “Nie regtig nie”. Hy was reg.

As ek reg onthou, is ook net die agterste sportblad en die politieke bladsy (Voorslag se bladsy 2) soggens voltooi.

·        Bygesê, met klem, die redaksie was deeglik bewus van die omstandighede en het hul kant gebring.  Daar was dikwels ‘n moedeloosheid, omdat hulle goeie stories kry, maar te laat vir spertyd.  Die volgende oggend lees hulle hul stories in die oggendkoerante.  Dit het metteryd ook ietwat van 'n laksheid by sommiges meegebring.

Die sportredaksie met Gerhard Burger aan die stuur was seker die beste van sy tyd in die land. Yvonne le Roux se TV-blad was uitnemend asook Kitty Vermaak se vroueblad.

Les bes het die “groottrek” gevolg.  Die redaksie het ná heelwat maande (ek onthou nie hoe lank nie) ook Doornfontein toe verskuif en ons moes ons inrig in die nuwe kantore.  Dit het sy eie probleme opgelewer.

Verslaggewers het vir sitplekke in die nuwe oopplanopset geskarrel.  Party wou ver van die nuustafel af sit en ander by hulle maatjies.  Maar dit was gou op 'n einde.

Dirk  Richard
Ondanks die hertroue van die redaksie en die tegniese afdeling het die spertye onveranderd gebly.  ‘n Tweede uitgawe (soms) het nie veel gehelp nie, want die oplaag was beperk.

Hierde gebeure het sy tol by my geëis. Die spanning was te veel. Dirk Richard het voorgestel dat ek terugkeer na die “aktiewe joernalistiek”.  Dit was 'n goeie besluit vir ons gesin met twee baba's.

Jac de Vries
‘n Paar maande later (1979)  was ek Kaapstad toe as parlementêre verslaggewer.  Jac de Vries was politieke korrespondent.  Op Bloubergstrand gebly.  Wat ‘n heerlikheid was dit nie ná drie en ‘n half jaar in die warm stoel.

Met my terugkeer het ek bedank en twee jaar se rekenaarondervinding  by ‘n private maatskappy opgedoen.  Dit was my belangstelling, maar dit was nie wat ek heeltyds wou doen nie.  Programmering was ‘n eensame werk.

Twee jaar later is ek ‘n pos aangebied in die navorsingstak van die stadstesouriersafedeling van Johannesburg . Dit was ‘n nuwe wêreld vir my.

Gou-gou is ek gevra om Die SA Tesourier/The SA Treasurer, maandblad van die Instituut van Munisipale Tesouriers en Rekenmeesters, (gestig in 1929) te behartig. ‘n Rukkie later is ek van die stadsraad na die Instituut geskondeer as heeltydse sekretaris.  Die Instituut se hooftaak was om standaarde vir munisipale finansies en kwalifikasies neer te lê. Aan die stuur was puik, goed gekwalisfiseerde mense met baie jare se ondervinding -- stadstouriers van al die groot stede in Suid-Afrika asook Windhoek en Harare.

Oor 15 jaar het ek het letterlik honderde vergaderings oral in die land bygewoon.  Vir die meeste daarvan moes ek die agendas en notules saamstel.  Elke jaar is konferensies van tussen 500 en 1 000 mense gehou.  Vliegtuigry het  ‘n lastigheid geword, maar ek het die land en ‘n klompie ander lande gesien.

Ongelukkig het die Instituut mettertyd sy invloed verloor toe die nuwe regering besluit het om self standaarde neer te lê. My sekondering is herroep. Ek is in 1999 terug na die stadstesouriersafdeling van Johannesburg waar ek vir maande lank niks gedoen het nie.  Party dae het ek nie eers ‘n lessenaar gehad om by te sit nie. 

In 2002 het ek op 55 om “mediese redes” met volle voordele afgetree.  Vir my het dit gevoel of dit ‘n kwessie was van “gaan tog net, jy’s in die pad”.

Wat ek en Myra na aftrede op Jeffreysbaai doen, vertel ek anderdag.  Dis lekker by die see, maar ek verlang na Johannesburg.