Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

31.8.22

Sportspits sommer ook swanesang

PIET EBERSÓHN skryf:  Nou die dag val my oog op Herman le Roux se boek “Spitse op die Sportveld” in my boekrak.

Toe dink ek by myself: Kan ek nie maar ʼn slag in alle beskeidenheid met my hoogtepunt op die krieketveld spog nie? Dalk val K’rant daarvoor.

In die middel- en laat jare sewentig het Die Transvaler nogal ʼn formidabele sosiale krieketspan in die veld gestoot.

Daar was nogal heelwat spelers met regte krieketbroeke, lank en wit, en regte krieketskoene, met knoppies aan. As ek so vinnig dink, sien ek Johan Esterhuizen, Andries van der Walt, Hannes de Wet, Dave Viljoen, Jan van Vuuren, Dirk Benadé en Dave Raath voor my geestesoog. Daar was ander ook.

Die Transvaler-redaksie het soveel krieketspelers en aspirant-krieketspelers in sy geledere gehad dat twee volle elftalle met ʼn kuierdag by die Leeuwkop-gevangenis byeen gehark kon word.

Nodeloos om te sê, vir my, sonder ʼn krieketagtergrond of -talent, was daar nie naastenby plek in die span nie.

Ek kon egter wel ʼn telkaart hou en het met die meeste van die span se wedstryde as tellinghouer opgetree.

Op ʼn dag het Die Transvaler en Die Vaderland mekaar die stryd aangesê, op die Hoër Tegniese Skool John Orr se veld, in Milnerpark of daar iewers.

Jakkie Groenewald
Wat verkeerd geloop het, kan ek nie sê nie, maar uit radeloosheid of jammerte sluit die keurders my in die span in. Ek is laaste op die kolflys en glad nie op die boullys nie.

Ek kry nege lopies voor ʼn Vaderlander my skoonboul. Jakkie Groenewald is die onoorwonne kolwer, ook met nege.

Die twee negetalle was die hoogste tellings in ʼn beurt waarin Die Vaderland ons verniel het en niemand dubbelsyfers kon haal nie.

Ongelukkig was my hoogtepunt ook my swanesang in die span, wat nie sommer weer verloor het nie.