Tom Caircross |
REAN skryf: Met groot hartseer moes ons Tom Cairncross onlangs groet – ʼn man wat diep in die hart van soveel van sy kollegas, familie en vriende gekruip het. Tom was ʼn ervare verslaggewer, ʼn subredakteur, redakteur, onderwyser, boer en boogjagter, ʼn wonderlike eggenoot vir sy vrou Markie en ʼn pa vir twee dogters, Louisette en Naomie.
Tom het onderwys by die Heidelbergse Onderwyskollege studeer, waar hy sy vrou, Markie ontmoet het. Hy het 'n BA in 1958 behaal, waarna sy loopbaan as verslaggewer afgeskop het toe hy by Die Transvaler aangestel is waar hy tot 1961 gewerk het. Daarna het hy ʼn pos aanvaar as subredakteur by Die Vaderland waar hy tot 1964 gewerk het.
Oom Tom skryf in ʼn stuk wat hy oor sy lewe saamgestel het: “Die rede was om my Hoër Onderwysdiploma te voltooi deur bedags te werk en saans klas te loop. By die Transvaal College of Education (JCE) het die kursus buitemuurs een en ʼn halfjaar jaar geduur. Ek het dit in Januarie 1963 begin en einde Julie 1964 voltooi waarna ek toe by Die Vaderland bedank het om my loopbaan in die onderwys voort te sit.”In 1965 het hy sy loopbaan in die onderwys begin en was hy vir meer as ʼn dekade ʼn onderwyser en ook ʼn deeltydse boer. In 1976 het hy ʼn pos as aanslaer by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens se streekkantoor op Standerton aanvaar. Hy het uitstekend in die beroep gevaar en is in 1978 gevra om met bevordering oorgeplaas te word na die hoofkantoor in Pretoria.
Tom skryf: “Nadat ek die gesprek in Pretoria gehad het, het ek op die ingewing van die oomblik besluit om my ou vriende by Perskor in Braamfontein, Johannesburg, te besoek – en het ek ʼn pos waarin ek meer belang gestel het, aanvaar!”
Tom het besef hy is ʼn koerantman in murg en been en daarom het hy weer by Die Vaderland as joernalis begin werk.
In 1988, tien jaar later het hy bedank en vir een jaar lank by die Patriot gewerk as redakteur, waarna hy bedank het om ʼn pos as subredakteur by Die Transvaler te aanvaar. Hy het deel gebly van die Transvaler se redaksie tot dié koerant se einde in 1993.
Nadat die Transvaler sy deure moes sluit, het Tom verkeie nuwe projekte aangepak. Hy was ʼn nuusredakteur by Radio Pretoria en ʼn verslaggewer by Lingua Publica. Daarna het hy sy eie onderneming begin as bemarker vir MediaMakers, hy het by Dinkum Advertising Angency gewerk en ook by Homela Advertising Angency.
In 2001 het hy by Africa’s Bowhunter begin werk as skrywer, redakteur en advertensiebestuurder. Dit sou die plek word waar hy die langste in sy lewe sou werk en wat hom heeltemal in ʼn nuwe rigting sou stuur. Tom het baie bygedra om dié tydskrif van ʼn baie klein begin te help groei tot ʼn tydskrif wat deur bykans elke boogjagter in die land gelees sou word.Hy het ook begin boogjag, wildplase besoek en geëvalueer en bekend geraak in die jagbedryf. In Tom se eie woorde: “Rean Steenkamp het my in 2000 gevra om saam met hom ʼn boogtydskrif op die been te bring, wat ek met groot vreugde aangegryp het. Wat ʼn ommekeer het dit nie in my lewe gebring nie. Rean was nog betrokke as redakteur by Wild en Jag-tydskrif, en ek het die bul by die horings gegryp en Africa’s Bowhunter met Rean se entoesiasme, kennis en geloof begin. Advertensies is gewerf, artikels oor die bedryf is geskryf en aanklank is op verskeie maniere met boogwinkels, boogskutters, boogjagters in die buiteland soos die VSA, Europa en die Oosbloklande gevind. Intekenare plaaslik en oorsee het alle verwagtinge oortref. Die tydskrif het bo verwagting van krag tot krag gegroei.
"In die ganse proses het ek boogskiet bemeester, self begin jag, met ʼn paar trofeë teen die muur, en die voorreg gehad om talle jagplase landwyd te besoek en artikels te skryf, asook vriendskappe te bou.
Wat ʼn voorreg was dit om my vrou, Markie, op talle van die jagplaas-besoeke saam te neem. Besoeke na onherbergsame gebiede soos die Tuli-blok in Botswana, waar geriewe soms in geheel ontbreek het, was haar om verstaanbare redes onbeskore. Soms was dit Afrika-toestande in ʼn loop-en-bekruip geval, of ʼn selfgeskepte skuiling tussen Afrika se vyf Grotes, wat onvergeetlike herinneringe laat opvlam. Dit alles was die geslyp van ʼn dankbare sterfling.”
Tom was gewis vir my baie meer as bloot ʼn kollega. Hy was ʼn mentor, ʼn vaderfiguur en veral ʼn vriend saam met wie ek baie avonture beleef het en lief en leed langs vele kampvure kon deel. Hy was ʼn tipiese verslaggewer wat in alles belanggestel het en ʼn wye algemene kennis gehad het. Daar word gesê dat ʼn “gentleman” iemand is wat iets weet van alles en alles weet van iets – en Tom was gewis ʼn “gentleman” en ʼn man wat uitgeblink het in sy beroep.
TOM SE DOGTER LOUISETTE LE ROUX voeg by: Tom is gebore op 30 Junie 1937 in die Vrystaatse dorpie Vrede waar hy ook sy skoolloopbaan voltooi het. Hy verwerf sy Onderwysdiploma in 1958 aan die Heidelbergse Onderwyskollege. Hierna voltooi hy sy BA graad aan UNISA en verwerf sy Higher Teachers' Diploma aan JCE.
Hy verruil die joernalistiek vir die onderwys en hou skool vanaf 1964 tot 1975 by die Hoërskool J.G. Strydom in Johannesburg, later die Hoërskool Vrede en uiteindelik die Hoërskool Standerton.
Die joernalistieke bloed vloei dik deur sy are en hy werk weer by Die Vaderland, Die Patriot, Die Transvaler en Radio Pretoria. Vanaf 1996 tot 1998 werk hy by DENEL.
Sy pad kruis met Rean Steenkamp in 2001 waarna hy vir Africa’s Bohunter werk tot en met 2014. Sy laaste bok skiet hy op 65 jarige ouderdom – ʼn Rowland Ward- trofee.
Hy beskou hierdie jare saam met Rean as die beste van sy poste. Hulle bly lewenslange vriende.
Op 76 lê hy die tuig neer. Op 13 Oktober 2018 is sy vrou, Markie, oorlede. Hy is op 24 Junie 2022 – 6 dae voor sy 85ste verjaardag – aan natuurlike oorsake in Pretoria oorlede. Hy laat sy twee dogters, twee skoonseuns en twee kleinkinders agter.