Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

22.8.22

Elma van graad 1 af vir verhoog bestem

ELMA POTGIETER skryf: Van graad I af in die eerste van vyf laerskole het ek en my ouers en suster geweet ek gaan eendag toneelspeel. Ek het botweg geweier om vir die familie voor te dra, maar toe ek die hoofrol kry van die Kaapse Nooi in Hoe Ry Die Boere in graad I in Presidentskool op Klerksdorp, was die koeël deur die kerk.

In my vyfde laerskool, Jubileumskool in Mayfair-Wes, Johannesburg,speel ek my tweede hoofrol, die Kaboutermannetjie, Repelsteeltjie, in die gelyknamige sprokie wat deur die hoof, meneer Sondorp, as ʼn operette verwerk is.

In matriek op Hoër Meisieskool Helpmekaar speel ek weer die manlike hoofrol van Captain Corcoran in die Gilbert & Sullivan operette HSM Pinafore.

My matriekkêrel in die Seunskool sien nie kans om die operette te kom kyk nie, want sy meisie “maak dan ogies vir ʼn klomp ander vroumense op ʼn skip?!?”

Nietemin, my liewe pa is ná matriek saam met my teleurgesteld, want die dramadepartement begin eers die volgende jaar ná my inskrywing as eerstejaar op Tuks. My pa se oplossing: Kies al die vakke wat jy kan inpas en neem drama privaat. Ek kies Afrikaans/Nederlands; Engels; Frans; Duits; Sielkunde en Kunsgeskiedenis en ek neem drama en sang
privaat.

Ná my vierde jaar reël my Broederbond-oom (sonder om my te raadpleeg) dat ek gaan Frans gee op die Hoër Meisieskool Pretoria – al woon ek in Johannesburg en al wil ek nie skoolhou nie. 

Ek kom te hore van die reëling en besluit om die storie te fnuik met ʼn fait accompli – ek gaan sorg dat ek werk kry in Johannesburg.

Jan van Rooyen
Ek stap einde November 1968 in by Die Transvaler se kantoor in Braamfontein Johannesburg en verneem wie die hoofredakteur is en aar ek hom te siene kan kry.

Ek stap in by Jan van Rooyen se kantoor met hom wat met sy voete
lankuit op sy lessenaar sit en sy kop afgebuig oor ʼn koerant.

“Ja?” vra hy toe hy bewus word van iemand in sy kantoor.

“Goeiemôre meneer. Ek is Elma Potgieter en ek wil graag vir die koerant kom werk.” 

Hennie Kotzé
Net toe kom die nuusredakteur, Hennie Kotzé, by die deur ingestap.

“Sy wil vir die koerant kom werk,” gee Jan van Rooyen te kenne.

“Kan jy tik?” vra Hennie Kotzé my.

“Nee, meneer.”

“Nou leer dan.”

“Goed meneer.”

“En geen byvoeglike naamwoorde nie.”

“Niks nie, meneer?”

“Niks. As jy nie iets gesê kan kry sonder ʼn byvoeglike naamwoord nie, is dit nie die moeite werd om te sê nie.”

“Laat sy gaan proeflees,” sê Jan vir Hennie en aan my: “As jy ná ʼn maand nog hier is, kan ons weer gesels.”

Gert Potgieter
Ek stap saam met Hennie Kotzé af kelder toe, waar die drukpers en die setters se domein is. Hy lei my na ʼn klein kajuit en stel my voor aan my medeproefleser, die operatenoor, Gert Potgieter.

Ek leer dadelik twee dinge: Jy begin op die laagste sport werk ná universiteit – letterlik in die kelder, en, kunstenaars in Suid-Afrika kan nie oorleef net deur hulle kuns te bedryf nie.

Ieder geval, ek sal my twee jaar by Die Transvaler nooit vergeet of geringskat nie. Ek het leer blindtik en kripties skryf en ek het mensekennis opgedoen wat ek in my eintlike beroep, dié van toneelspeler, met vrug kan toepas.

Ná ʼn oudisie in Johannesburg vir die artistieke direkteur van Kruik, die dramaturg Pieter Fourie, begin ek in 1973 met my eintlike nering – toneelspeel.

In 1981 stig ek en Schalk Jacobsz ʼn vennootskap om professionele Afrikaanse teater te bedryf en ons doen verhoogproduksies soos Die Wildsboudjie in 1986 as enigste Afrikaanse bydrae tot die Johannesburgse eeufees en in 1987 Corlia Fourie se tweevroudrama,
Hoer of Heilige wat handel oor kindermishandeling.

Werk vir rolprente en TV-produksies volg en nog verhoogproduksies ook onlangs in verhoogklugte vir Lefra Produksies van Frans Swart en ʼn eenvrouvertoning, Klipgebede, vir my geskryf deur die dramaturg, Schalk Schoombie.

Maar ek het nooit werklik ophou skryf nie. Wanneer toneelwerk min raak, skryf ek kortverhale. Ek het lanklaas getel, maar sedert 2002 het daar seker al meer as sewentig kortverhale deur my in tydskrifte soos Huisgenoot, Rooi Rose, Sarie en Vrouekeur verskyn.

In 2007 is my eerste roman, ʼn Tweede Begin, deur Nasionale Boeke uitgegee. ʼn Speurstorie, Slagveld, het ek self in 2010 deur Crink gepubliseer en hopelik verskyn my roman, Skerwe, deur Marleo Publiseerders van Pretoria eersdaags.

Tans op DSTV, kanaal 145.
Dis ʼn sielkundige roman oor ʼn vrou wat ná jare van mishandeling haar man doodskiet en vir die misdaad in die tronk beland. ʼn Strafregadvokaat wat die manuskrip gelees het, het vir my ʼn voorwoord geskryf.

Tans doen ek en twee kollegas, Rina Nienaber en Henriëtta Gryffenberg, oorklankingsregie van ʼn Turkse reeks na Afrikaans by M-Net. Die Afrikaanse titel is Kind van die Noodlot en dit word op weeksaande agtuur op Kanaal 145 uitgesaai.