Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

30.9.22

Mentors, base en klase op my pad

ESTELLE DE BRUYN skryf: Ja, ek dink ons het dalk almal iemand gehad wat ons hand iewers langs die pad gevat en ons op die spoor gesit of gehou het. Ek het drie ridders gehad wat my fakkels hooggehou het en dis tyd dat ek krediet gee vir die ongelooflike leiding wat hulle vir my gegee het. (Gits, dis jammer om te sê, maar hulle was almal mans.) 

Nommer een: Harald Pakendorf. Hy was my eerste redakteur. Hy was soos ʼn “rockstar”. Ons het hom almal as “meneer” aangespreek en hy het dit verdien. 

Harald Pakendorf
Hy het my gered van ʼn benoude insident wat die destydse burgemeester van Johannesburg betref het. 

Ek het ná maande as stadverslaggewer van Die Vaderland uiteindelik ʼn eksklusiewe onderhoud met die oubaas gekry. Toe ek daar kom, is daar versnaperinge en wyn en die ou oom sit op die bank en “pat” so op die sitplek langs hom. Ek sit. Mooi gevoude beentjies, soos my ma my geleer het. Notaboek uit, pen in die hand. En toe vat die ou bliksem aan my been en slobber ‘n natbek-soen wat gemik was na my mond ... 

Dalk was dit professionalisme, maar ek dink dit was meer walging wat my my handsak laat gryp het (notaboek en pen vergete) en uit sy kantoor gehardloop het.

Terug by die kantoor, het ek in mnr. Pakendorf se kantoor ingehardloop, verby Rina van Rooyen, sy uitvoerende sekretaresse. 

Ek het die hele ondervinding uitgeblaker en verskriklik om verskoning gevra omdat ek die onderhoud opge-f het. 

Harald. Hy het die deur toegemaak en my ge-beraad en vertel dis reg wat ek gedoen het en hy het my nooit daarna sonder ʼn fotograaf naby die ou bliksem toeglelaat nie. Toe my meer liberale politieke sieninge deur my verslaggewing duidelik word, het hy my gelei. 

Toe ek my hart wil volg en Namibië toe kom agter André de Bruyn aan, het hy my aangemoedig. 

Nommer 2: Donald Koch. My eerste nuusredakteur. Ek kon nie tik nie, ek kon nie skryf nie en ek het geen ondervinding gehad nie. Ek was seker vir meer as ʼn maand op Die Vaderland se redaksie voor my eerste vertaling van ʼn persverklaring (oor boomwortels in dreinpype) die koerant iewers op die binneblaaie gehaal het. 

Donald het my soveel selfvertroue gegee deur my die munisipale verslaggewer te maak, toe Hanneli Deysel (my voorganger) op kraamverlof gaan. Hy het stap vir stap vir my verduidelik hoe belangrik munisipale verslaggewing is. Hanneli was ʼn fantastiese mentor en het my aan al die departmentshoofde gaan voorstel. Maar Donald het my, ʼn “nobody”, genoeg vertrou om hierdie belangrike “beat” aan my toe te vertrou. Vertroue bou selfvertroue. 

Nommer 3: André le Roux
André le Roux
. By Die Vaderland was André die parlementêre korrespondent. Ons het hom selde gesien. Hy was halfjaar in die Kaap, halfjaar in Pretoria. Maar soms was hy in die Johannesburg kantoor om met Harald te praat. 

Jare daarna, toe ek vir die SWAUK in Windhoek werk, tydens 1989 se onafhanklikheidsverkiesing in Namibië, stap André ons nuuskantoor binne. Hy werk toe vir SAUK. 

Hy het geen benul wie ek is nie, maar ek onthou hom. Voor op die wa, stap ek na hom toe en sê: “Jy onthou my nie, maar ons het terselfdertyd by Die Vaderland gewerk en jy was ʼn 'ex' van my vriendin, Rina van Rooyen.” 

Wel, dit het nie veel van ʼn indruk gemaak nie. 

Na dese het ons soms ontmoet by mediageleenthede as hy in Namibië was. 

Met die Verenigde Nasies se verklaring dat die Namibiese verkiesing van 1989 inderdaad vry en regverdig was, was ons saam om die storie te doen. 

Later, terug in Suid-Afrika, het hy my gekontak en ʼn pos by die SAUK aangebied. Ek het dit aanvaar en ek kan net dankie sê vir die geleenthede wat hy my gebied het en die deure wat hy beroepsgewys vir my geopen het en ook vir ʼn ongelooflike vriendskap. 

En nou vir die Klase ... Nee wag, dis ʼn storie vir ʼn anderdag.