Meegaande is die voorlaaste aflewering van dié reeks.
Die laaste een verskyn op 4 Januarie 2012.
Vervelige mense sonder skakering was die dood vir hom. Relatiwisme - die erkenning van versoenbare paradokse – het 'n kernrol in sy lewe gespeel. Alles is nie noodwendig reg nie. Alles is nie noodwendig verkeerd nie. 'n Mens koop nie 'n idee op sigwaarde nie, maar haal eers die dele uitmekaar om te sien hoe dit inmekaar gesit is.
Willem de Klerk was in ruime mate die meester van relatiwisme. Paradokse wat skynbare teenstrydighede is. In die proses het hy altyd twee kante van 'n saak raakgesien, albei na waarde geskat, geweeg en dan 'n ewewigtige besluit geneem. Dit het uiteraard tot ongewildheid by verstrakte, sogenaamde “beginselvaste” politici en kerklui gelei.