Ek sal Etienne altyd onthou vir –
• Die manier waarop hy sy neus gefrommel het as hy so luidrugtig en uitbundig gelag het, vir sy aaneenlopende “unicorn”-wenkbrou en daardie unieke blessie met die klossie hare op die voorkop.
• Die manier waarop Marlene (’n ou universiteitsvriendin van my) in die jare sewentig sy voete onder hom uitgeslaan het toe sy vir my in Pretoria kom kuier het en ons nog by Oggendblad gewerk het.
Etienne se befaamde lag. |
• Hoe kwaad hy vir sy motor kon raak as dié nie aan die gang kon kom nie. Ek het een oggend 'n groot lawaai buite die woonstel in Sunnyside gehoor, wat ek en Marlene in 'n stadium gedeel het, terwyl Etienne met mening die "donnerse Italianer" al skoppend uitgetrap het.
• As woonstelmaats het ek en Marlene ook eenkeer 'n foonpes beleef. Etienne het gou met hom klaargespeel toe hy eendag die foon optel en lank en hard met 'n polisiefluitjie in sy oor blaas. Ons het nooit weer van die pes gehoor nie. Ek vermoed die man is nou nog doof.
• Die feit dat hy ’n knap joernalis en werkesel was ( hy het selfs toe hy terminaal siek was nog in die hospitaal op sy skootrekenaar gewerk, het Marlene my vertel) maar soos menige joernalis kon hy net so hard en met oorgawe kuier.
As Etienne gelag het, het jy saam gelag. |
• Sy gasvryheid, gekombineer met Marlene se ongelooflike kooktalent.
• Sy onwrikbare lojaliteit teenoor sy vriende..
Wat ek die beste van hom sal onthou is daardie lekker lag. Later het jy sommer aan die lag gegaan net omdat hy so lekker gelag het eerder as oor dit waaroor hy gelag het.
Die prentjie van Etienne met ’n glimlag wat amper om sy kop strek met ’n bielie van ’n blink vangs sal ’n mens altyd bybly.
Ek het hom 38 jaar lank geken maar dit was 38 jaar te kort.
Etienne was ’n lekker “pel”, ’n lekker ou.
En een van die gewildste mense wat ek geken het.
• Foto's van Etienne: Salomé Kotzé, Etienne se dogter en redakteur van die Klerksdorp Rekord.