Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

23.10.12

Legende Jaap se seun in Londen wil oor sy pa weet

WESSEL OOSTHUIZEN, een van die land se mees ervare en gerekende fotojoernaliste, het so 'n bietjie in sy geheue rondgekrap en met die volgende vorendag gekom: Iewers in 1974 land die rugbylegende Willie John McBride en sy Britse Leeus vroeg een oggend op die destyde Lughawe Jan Smuts.

Die inleidingsparagraaf van ‘n berig in Die Vaderland deur oud-
Perskorman Jaap Swanepoel oor dié  geleentheid lui toe of min of meer so: Die Leeus is hier, spring en juig. Lekka, lekka, jahoe, jabba!

Sedert daardie dag het oorlede hooffotograaf Willie Havenga altyd na Jabba Swanepoel verwys.

Isabel en Jaap Swanepoel.  Inlas:  hul seun, Riaan.
Jaap en sy vrou Isabel het 25 jaar gelede in die hoogs omstrede Helderberg-vliegtuigongeluk gesterf.

Met die onthulling van 'n monument op die vakansie-eiland Mauritius, vertel Jaap se oudste seun, Riaan, vir my hoe kwaad sy pa vir hom was toe hy sy eerste jaar mediese studie gedruip het.

"Dit was seker die ergste dag in my pa se lewe toe ek ná my eerste jaar op Kovsies by die huis kom en vir hom sê dat ek gedruip het", het hy gesê.

Riaan sê sy pa kon nie glo dat sy seun met vier onderskeidings in matriek kon druip nie, maar hy was ook nie daar om te sien hoe sy seun kuier nie!

Ná sy pa se dood het Kovsies hom weer aanvaar en 'n paar jaar later het Riaan as mediese dokter sy graad gekry. Onlangs het ek en hy in Londen koffie gedrink. Hy is getroud met 'n Engelse dokter, die egpaar het twee seuns en bly in die noorde van Engeland, baie na aan die Skotse grens.

"Ek praat Afrikaans met my seuns en my oudste seun praat en skryf ook Afrikaans, maar die jongste outjie praat slegs Afrikaans," sê hy.

Hy het aandagtig geluister na stories uit sy kleurryke pa se joernalistieke loopbaan.

"Wanneer 'n mens jonk is, stel jy nie eintlik belang nie, maar noudat ek van my pa wil weet, is daar nie iemand om my te vertel nie," sê hy.

Wil iemand nie miskien 'n storie of wat oor die legendariese Jaap vertel nie? vra Wessel. (Lesers kan herinneringe oor Jaap na K'rant stuur. Dit sal in een storie opgeneem word om vir Rian 'n nagedagtenis oor sy pa deur oud-kollegas te gee.Red.)