Hy skryf: Wanneer het ek vir Die Transvaler gewerk? Iewers in die tagtigs, vermoed ek.
Ek was in my laat twintigs – nie een van my beter tydvakke nie. Dit was wilde tye en my bynaam Die Groen Hond moes dalk eerder Die Wilde Hond of Die Dronk Hond gewees het.
Tog het ek my werk na die beste van my vermoë gedoen. Babelas en al.
Al wou oom Hentie Serfontein, toe president van die Noord-Transvaalse Rugbyunie, my die persbank by Loftus Versfeld belet, omdat my hare te lank na sy sin was, het ek my storie gekry.
My baas in die Pretoriase sportkantoor was Tubby du Preez. Hy was ook die bestuurder van die Jeugsentrum se rugbyspan, vir wie ek gereeld uitgedraf het om te boks.
My grootbaas was Neil Steyn, vir wie ek baie tyd het. Die geselsies in Oom Neil se kantoor as hy vertel hoe hy “sprints” geoefen het as jong stutvoorspeler vir Tukkies, of hoe Charlie Weir iemand aan repe geslaan het, was kosbaar.
Neil Steyn |
Piet Ebersöhn |
Die rekenaarkamer was eers teen die einde van my tyd by Die Transvaler daar. Voor dit het ons op tikmasjiene gewerk en stories deur Johannesburg toe gefaks. My vriende by Beeld het hulle oor 'n mik gelag vir ons tikmasjiene, want hulle was toe al lankal meer tegnolgies gevorderd.
'n Boek van RR Ryger |
Tussenin was daar baie avonture in 'n paar dorpe/stede. Nou probeer ek rustig bly in die Baai saam my vrou, Willemien, en seun, Gareth. Ek skryf steeds boeke, onder my eie naam en RR Ryger. My jongste poging, 'n 101 Bakgat Avonture om te Lewe en te Sterwe, verskyn middel aanstaande jaar (2013) by die uitgewer Human en Rousseau.
- Google Michael Green of RR Ryger. Daar is heelwat te lees. Klik HIER om 'n artikel oor hom in Litnet te lees.