Meegaande is die voorlaaste aflewering van dié reeks.
Die laaste een verskyn op 4 Januarie 2012.
Vervelige mense sonder skakering was die dood vir hom. Relatiwisme - die erkenning van versoenbare paradokse – het 'n kernrol in sy lewe gespeel. Alles is nie noodwendig reg nie. Alles is nie noodwendig verkeerd nie. 'n Mens koop nie 'n idee op sigwaarde nie, maar haal eers die dele uitmekaar om te sien hoe dit inmekaar gesit is.
Willem de Klerk was in ruime mate die meester van relatiwisme. Paradokse wat skynbare teenstrydighede is. In die proses het hy altyd twee kante van 'n saak raakgesien, albei na waarde geskat, geweeg en dan 'n ewewigtige besluit geneem. Dit het uiteraard tot ongewildheid by verstrakte, sogenaamde “beginselvaste” politici en kerklui gelei.
Hy het dikwels agenda-items wat deur sogenaamde leiers al van die tafel afgevee is as voldonge feite - waarop hulle dan hul standpunte geregverdig het - van die vloer af opgetel en dit met 'n vars blik bekyk wat spoedig uitgewys het dat dit op halwe waarhede gegrond is. Uiteraard het “leiers” wat so aan die kaak gestel is, Willem de Klerk nie bo-aan hul gewildheidsleer geplaas nie.
Die aard van die mens en van die lewe bepaal dat almal vasgevang is in paradokse. Dis alleen wanneer die twee paradokse as 'n begripspaar geweeg word dat 'n vollediger perspektief moontlik is.
Hy het graag die voorbeeld gebruik van afhanklikheid en onafhanklikheid. Elke mens is onafhanklik en afhanklik. Selfs 'n diktator of koning is nie totaal onafhanklik nie. 'n Bedelaar is ook nie totaal afhanklik nie. Mense bereik 'n ewewig tussen die twee paradokse slegs deur albei te beoefen.
Mense wat nie paradoksaal dink nie, raak gou verstok en sal in die loop van die jare ook verstote word. Uitgedien.
“Eenoogmense leef op die wysie wat hulle uittokkel op een snaar. Hulle sien net wit of swart, reg of verkeerd, waar of vals, mooi of lelik. Niks tussenin nie, nêrens twee kante van 'n saak nie, maar net óf dit óf dat. Nooit én dit én dat nie.”
"Eentonig, ongenuanseerd, ekstremisties, rigoristies “wat styf en en rumkatiekagtig hulle enkele voetpaadjies uittrap. Dwingers en boelies wat aggressief almal in hulle een waarheid wil inforseer. Oogklapmense. Vervelige mense sonder skakering.”
Eendag het Willem my vertel dat hy op 'n slag in die hospitaal gevra is of hy allergies is vir enigiets. Op die ingewing van die oomblik het hy geantwoord: “Ja, vir vervelige mense.”
Die snare van die paradokse moet tegelyk bespeel word.
Alle mense het dit nie altyd verstaan nie. Op 'n dag het Tertius Myburgh, destyds redakteur van die Sunday Times, in 'n private gesprek Willem se relatiwisme dalk misverstaan, hoewel ek glo dat hy maar net bietjie moedswillig was. Hy het gesê: “Willem de Klerk herinner my aan iemand wat poker speel en wanneer hy erg in die moeilikheid is telkens 'n kaart uit sy gatsak haal om hom te red.”
Dalk is ek onregverdig teenoor Tertius – wat voor sy voortydige dood as Suid-Afrika se ambassadeur in Amerika aangestel is – want Willem het dikwels desperaat moes terugkrabbel, keer vir sy "wickets", teen die “dwingers en boelies”.
Nie 'n mens nie, ook nie 'n saak nie, was vir hom enkelvoudig. Kompleksiteit moet erken word.
“Verskillende drade wat saamgekoek is, moet een vir een losgeknoop word... Botone en ondertone, hoeke en vlakke, 'n samespel van 'n verskeidenheid kragte, houdinge, vooroordele en uitgangspunte. As jy iets oorvereenvoudig, verdraai en verarm jy die werklikheid. Dis gevaarlik en dwaas om te dink jy kan iets een-twee-drie deurskou en van 'n etiket voorsien. Deur meerkantigheid te belewe, word 'n mens versigtiger en nederiger.”
Maar hy waarsku ook teen die gevare van oordrewe relatiwisme wat “knaend” tussenin hang, nooit kant kies nie en alles op losse skroewe stel. “Gesonde relatiwisme onderskei en verken en kom tot ewewigtige beslissings.”
Gesonde relatiwisme eet nie alles vir soetkoek op nie, glo nie alles wat blink, is noodwendig goud nie. “Hy neem dit wat as voor die hand liggend aangebied word met 'n knypie sout... Hy hardloop nie agter elke slagspreuk aan nie, want hy weet slagspreuke en ideologieë is veralgemenings wat nie 'n oog het vir die pole van die waarheid nie.”
Niks op aarde is ooit volooi nie. Niks is volmaak nie... “geen kerk, geloof, vertroue of godsdiens nie, geen volk, liefde, trou, vriendskap, opwinding of rus nie. Die reg geskied nie altyd nie, die waarheid seëvier nie altyd nie.
“Gesonde relatiwisme is 'n posisionering wat allerlei valse absolutismes van jou lyf afhou.”
'n Ander beeld wat hy optower is: “Selfstandigheid en deelnemende betrokkenheid, onafhanklikheid en afhanklikheid, is die sweefstok wat jou in balans hou. Die lewe is 'n gespanne lyn en weerskante van die lyn lê afgronde.
God is enersyds verborge en 'n “buitewêreldse misterie”. Andersyds is God 'n “inwonende vriend”. Dis twee pole wat in ewewig beleef moet word.
Daar moet gewaak word teen die eensydige vasgryp van mag wat lei tot dwang en tirannie en vryheid as 'n obsessie wat lei tot losbandigheid en uiteindelik chaos. “Vashou aan albei pole temper gesag tot respek vir vryheid en temper vryheid om dissipline te onderhou.”
Ewewigsterapie het hy as 'n genesingspakket beskou.
Oor God: “Alles van Hom is so onuitsêbaar dat ons hom alleen in teenstrydighede kan verbeeld. Albei is waar: sy genade en geregtigheid. Sy Almag en die mens se vrye wil. Sy eenheid en sy drieheid. Sy vreemdheid en bekendheid.”
Die stryd teen die bose is ewig. Die bose het “soveel gesigte wat wissel van speelse uitlokking en vriendelike beloftes tot angswekkende destruksie as die bose sy tol eis.
“Dis ook 'n gerusstellende wete dat God binne bereik is.”
In “Die vreemde God en sy mense” sluit hy aldus af: “Geloof is 'n gerigtheid op God wat lei tot 'n verhouding van kennis en vertroue tussen God en mens.
“Geloof is ook die belewing van alles wat onverklaard en onverklaarbaar is in die lewe. Dis die smagtende uitreiking van die menslike bewussyn na die oneindige, na die ewige, na die Vreemde God.”
(Word vervolg: Hoe berei 'n mens jou voor vir die dood?)