Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

28.11.12

Werkfiks is ’n ander storie

PHILIP DEETLEFS skryf: Ek is destyds deur Caxton aangestel om die Kempton Express op Kemptonpark te begin.

Terry Moolman was die grootbaas en hy het dikwels by my ‘n draai kom gooi om te sien hoe dinge daar vorder.

Caxton het die mark met groot aggressie betree. Deel van Caxton se
aggressie met die nuwe koerant was om ‘n stuk of vier advertensie-verkopers aan te stel en net een redaksionele mens. Ekke.

Hoe beter die advertensiebrigade gevaar het, hoe swakker het die redaksie gevaar, want met die verhouding van advertensies tot redaksionele inhoud kon nie gepeuter word nie. Die koerant het eenvoudig dikker en dikker geword.
Daardie tyd het ek, Wilma Rudman, Piet Ebersöhn en Frans Scheepers ‘n huis in Westdene gedeel. Soggens douvoordag – om die spitsverkeer mis te ry – is ek Kempton toe.

Een Maandagoggend is ek so teen halfvyf die oggend kantoor toe en het vir die eerste keer Donderdagoggend rondom twee-uur weer tuisgekom, sonder om my oë te kon toemaak. Blaaie vol geskryf, fotograaf gespeel, bladuitleg gedoen, stories gesub, die hele kaboedel.

Toe Terry weer daar verby kom en vra hoe dit gaan, het ek voorgestel dat in die lig van die sukses wat die advertensie-afdeling behaal, ons dit dalk moet oorweeg om nog iemand op die redaksie aan te stel. En ek vertel hom toe van my marathon-week.

Sy antwoord?

“Moenie ‘worry’ nie, jy is nog net nie werkfiks nie.”