Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

29.11.12

Oudkollegas onthou afgetrede Frans

FRANS SCHEEPERS, oudredaksielid van Die Transvaler het onlangs na vele jare by die SABC afgetree. Sy gesin het vir hom ‘n verrassingsafskeidspartytjie op die plaas, Nooiensdam, by Riebeeck Kasteel gehou waartydens boodskappe aan en staaltjies oor hom oorgedra is. Hier is ‘n klompie daarvan.

Charlotte Lesch, sy dogter en nou ‘n senior verslaggewer by Boland
Gazette vertel: nadat ek my keuse oor my loopbaan bekendgemaak het, het my pa gesê: "Meisiekind, joernaliste word nie ryk nie," Maar wie wil 'n rekenmeester word wanneer jou pa se lewe so opwindend lyk.

Sy vertel dat Frans 'n beduidende rol in dié keuse gespeel het. “Koerante is gedurig onder sy kinders se neuse ingedruk, omdat ons moet weet wat in die wêreld aangaan om saam te kan praat." Dit was destyds as kind 'n las, maar later 'n lekker gewoonte. En vandag is ek nie spyt nie, ek kán saam gesels.

“Met verkiesingtye het ons maar min van hom gesien, maar vaderlike liefde was nooit afwesig nie, al was dit elke aand oor die telefoon uitgestort.

Jasper
Schellingerhout
Jasper Schellingerhout: Daar is nou maar iets wat van joernalistiek ‘n gemene deler maak wat ‘n unieke naelstring is. Soos dit met ‘n aktiewe soort mens gaan, hoor ek by voorbaat hoe jy oor so ‘n paar maande sê: “Ek weet nie waar het ek tyd gekry vir my beroep nie -- só hol ek nou rond!”

Die spreuk, “aftree is optree” is nogal ‘n raak een.

Frikkie van der Walt
Frikkie van der Walt vertel twee staaltjies:

• Vegkop se Doornfontein- en Perskor-klante had bitter min deernis met wat hulle as ordentlike mense beskou het. Hulle dobbel en drink en as jy nie inmeng nie, is jy veilig. Geniet die nagkantoorspan een aand ‘n versterkinkie. Staan Frans Scheepers op om die tweede ronde te bestel. Neffens ons twis ‘n vrou wat haar beroep horisontaal beoefen met ‘n klant wat weier om ‘n mondelinge kontrak na te kom. Sy verloor en maak oogkontak met ons groepie. Piet Ebersohn maak die fout om te groet en Frans trek vir haar ‘n stoel uit.

Yes. Howzit? En sy kry haar sit.

Frans bring die versterkings en vra om verskoning dat hy vir almal bier gekoop het sonder om te vra wat sy drink. Sy vergewe hom sy fout en begin in kroegtaal kuier.

Frans stel ons almal voor. “En wat is u naam,” vra hy. Namate die gesprek vorder, verdwyn die kruie uit haar taal en lig sy in ons in keurige Afrikaans oor haar lewe in. Ek was bang dat sy na die soveelste bier sou ontspan en in kroegtaal sou verval, maar Frans se deernis en Piet wat belangstellend luister het haar heeltemal oorrompel.

Toe ons groet het sy ons vir die bier en geselskap bedank met ‘n “ry versigtig en kom veilig tuis”. Ek het my tas binne vergeet en toe ek dit gaan haal, staan sy by ‘n potensiële klant.

Frans Scheepers en oud-kollega,
Piet Coetzer by die afskeid.

“Howzit Biebap en wat drink ons?” sit sy haar beroep verder voort.

• Vernon Marais het ‘n veteraanmotor opgebou en Frans het verneem of dit betyds vir sy voorgenome huwelik klaar sou wees. Dit was. Vergader ons op die heuglike dag by die kerk en daag die bruidspaar in die veteraan op.

Roerende seremonie en Frans en bruid straal van geluk. Keurige onthaal en Frans begin met sy goed voorbereide toespraak. Hy glimlag tydens die gehekel en gaan ongestoord met sy toespraak voort.

Bedank ouers, bruid en aanwesiges. As subredakteur en taalversorger is daar nie met sy toespraak fout te vind nie. Namate die gehekel vervaag en Frans vol selfvertroue voortstoom, begin Piet sy toespraak redigeer. Frans het dit so n rukkie geïgnoreer en toe sy humeur so effens verloor.

“Piet. Moenie my sub as ek trou nie,” kap hy terug.

“Ek probeer net help,” het Piet hom verontskuldig, maar Frans toegelaat om sy toespraak in vrede te voltooi.

Ek sluit af met 'n pragtige nuwe woord vir 'n pensioenaris: 'n rumatikulant.

Philip Deetlefs
Philip Deetlefs: As ek terugdink aan die tye toe ons vir ons loopbane destyds by Die Transvaler “aangetree” het, sou ek geen geld daarop verwed het dat ons dit sou oorleef het tot die dag wat Skieps “aftree” nie.

Daardie dae was ons oorlopens toe vol van dikwels onbesonne geesdrif vir presies net mooi enigiets wat hulle na ons kant toe kon gooi en vandag is ons (ek sê dit in alle eerbied) eintlik net gerecycled hippies? Ai tog, those were the days, my friend!

Die Transvaler, waar ons kruip-sleepspoor in die joernalistiek lê, was die politieke spreekbuis van die destydse regerende party en dit moet wees waar jou belangstelling in die politiek ontwaak het?

Ek onthou watse behoudende faktor jy meesal in ons vriendekring was.

Ek is doodseker jy verdien elke oomblik van die sorgvrye dae wat voorlê en wat jy saam met jou gesin en familie kan geniet! Elke dag daarvan en in blakende gesondheid met ‘n heerlike wip in die stap. Geniet dit, liewe Skieps!!

Piet Ebersöhn
Piet Ebersohn: As die spertye druk, kon die gemoedere in die nagkatoor (en in die settery) bra hoog loop, maar Frans was immer die toonbeeld van rustigheid, al suigend aan sy onafskeibare krom steelpyp. Het hy nog die pyp?

Frans se groot kruis was die koerant se gewilde blokraaisel. Daar was ’n paar verskillende blokke, so ’n stuk of agt as ek reg onthou, en dit was Frans se verantwoordelikheid om daagliks te sorg dat die bepaalde blok met daardie dag se stel leidrade ooreenstem. Weet die redaksie as ’n fout insluip en die fanatici nie hul blokraaisels voltooi kry nie. Sowat van telefone wat lui, kan jy jou skaars indink!

Met sowel die drukkersduiwel as Murphy kop in een mus met ’n moedswillige settery was dit geen maklike taak nie. Só gebeur dit dat die blokke twee keer in dieselfde week omgeruil word…

“Ag,hemel, is die mannetjie dan opdgehûks of wat gaan aan!” wou oom Hermie Hendriks dié dag radeloos weet.

Dan het Frans so graag die taalredakteur, Oom Angel Engelbrecht, se siel met die gebruik van anglisismes uitgetrek. Met spertye wat naderkom, het hy Oom Angel gereeld gewaarsku “die tyd loop uit”, waarop die standaard antwoord was dat hy (Frans) die deur moet toemaak.

Een nag, omstreeks middernag, was net ons twee aan diens toe Perskor se man in Lourenco Marques (deesdae Maputo) – ene Tony Perreira dink ek – ’n kort beriggie stuur oor iets wat die verbanne ANC-leier, Oliver Tambo, kwytgeraak het. Diep onder die indruk van die gewigtigheid daarvan maak ons toe die voorblad oor – en laat die beriggie sommer in 12-punt-vetletters set.

En vir ons ondernemingsgees kry ons die volgende dag ’n skrobbering omdat ons’n gelyste Kommunis aangehaal en daarmee’n baie streng wet oortree het!

• Op ‘n dag besluit ons om ’n toneelopvoering in die spoggerige nuwe Johannesburgse Stadskouburg te gaan bywoon. Met metgeselle.

Frans Scheepers en 'n skets wat Fred Mouton
van hom gemaak het.
Toe ek my meisie van die aand as “Ineke” voorstel, heers daar’n oomblik van ongelowige stilte, Frans en sy meisie verwissel onderling ’n vinnige blik, en hy stel haar jou wrintie waar ook as “Ineke” voor. Kan jy nou meer?! Soos almal weet, het dit in hul geval nie by ’n konsertafspraak gebly nie.

• Ek, Frans en Wessel Oosthuizen (nee, nie die befaamde foto-fundi nie) het by geleentheid saam’n vakansie-erf gekoop.

Iemand het op die gedagte gekom om vakansie-erwe in die berge buite Sabie te verkoop. Om sake interessant te maak, sou’n mens jou erf afpen soos die mense in die vergange dae van die goudstormlope gedoen het. Ons drie besluit toe om saam te span en ’n erf te koop. Nog iemand reël ’n bustoer na die geleentheid toe, en ons tel onder die al te vrolike passasiers.

Frans was nooit juis bekend vir sy geesdrif as dit deelname aan sport betref nie, maar daardie dag nael hy berg af onder al wat stormloper is uit en pen vir ons ’n erf met die lieflikste uitsig en pragtige boomvarings af. Was ons in ons skik!

Maar van die man wat die deposito op die erf gevat het, is nooit weer gehoor nie. Onbevestigde berigte wou dit destyds hê dat hy laas in Botswana gesien is.

• Ons het in daardie jare nogal dikwels vir die naweek na Pelgrimsrus of Sabie se wêreld toe weggeloop. Durban had nie dieselfde trekkrag vir ons as vir die res van die Goudstad se mense nie.

Sabie se berge
By so ’n geleentheid kom ons ná donker en in gietende reën op Pelgrimsrus aan, met in die koelsak’n belowende skaapribbetjie,wat smeek om’n hopie warm kole. Maar al wat hout is, is nat. In die verbyry sien ons’n vuur in die woonwapark brand en besluit terstond om die mense te gaan vra of daarnie vir ons ribbetjie ook plek op hulle kole is nie – bid jou die voorbarigheid aan!

By nader ondersoek tref ons die kole in die donkie aan wat die kamp se ablusieblok se water verhit– steenkool. Watwou sukkel! Kort voor lank smul ons aan die heerlikste gaar ribbetjie, wat ek seker is nooit na steenkool geproe het nie.

• ’n Laaste brokkie: In die dae dat ons in Suncliffe Terrace in Troyville gebly het (Panoramarif volgens die kaart) het die huisbewoner langsaan op die onmoontlikste tye aan sy motorfiets gewerk en dit dan, tot Frans se ontstemming, reg onder sy (Frans se) woonstelvenster laat toetsbrul.

Frans wag toe maar tot ’n ewe ongeleë oomblik om die knaap met sy trompett te treiter – en die volgende more is die woonstelblok in rep en roer oor die vrou wat die nag so gegil het!

Ja, ons het as jong joernaliste min geld verdien, maar tog betreklik kommervry geleef en bowenal ’n “versamelde werke” van wonderlike herinnerings opgebou waaraan ons lank ná aftrede nog met genoegdoening sal kan terug dink.

Joan Kruger
Joan Kruger: Na waters waar rus is, na plaasdamme wit van die waterblomme, na vleie vol aronskelke…

Wie sou kon dink, daar in die verloederde Doornfontein, in die muislabirint van die Perskorgebou, dat ons paaie eendag na dié mooi streke sal lei.

En nou het jy tyd om dit alles daagliks te geniet en jou daaroor te verwonder. Om Milton aan te pas: "They also serve who only stand and marvel…"

Doen baie daarvan, daagliks.

Willie Buys
Willie Buys: Ou Schiepie, so het ons nou amper almal al die volle werksirkel voltooi. Ek eer jou vir die feit dat jy dit so lank kon uithou by die ewig-transformerende SABC, maar so het ek jou ook al die jare leer ken as 'n man van lae profiel wat die kollig liewer vermy het. Dit het ons egter nie gekeer om goeie tye saam te beleef nie, veral daar by Dittonlaan 10, Aucklandpark en die Perskorkroeg wat Philip Deetlefs en Kie bedryf het.

Frans Roodt
Frans Roodt: Frans, Stella Niemand (Fouche) en ek het destyds 'n huis in Melville, Johannesburg gedeel. Stella het erg omgekrap geraak as ons nie die bad gewas het, nadat ons gebad het nie, en vreeslik baie briefies in die badkamer gelos om ons daarvan te herinner.

Frans het ook 'n mooi hangkas gehad om sy klere in te bêre. Frans het ook 'n mooi hangkas gehad om sy klere in te bêre, 'n Defy model 100 stoof met 'n groot oond en laai onder. Ek kan onthou die oond het so geblink... Gelukkig was hy nie opgekoppel aan die krag nie anders het ek en Piet dit dalk probeer aanskakel.